Wicus Luwes. Mlambalamba, Dostoyevsky en die illusie van vrye keuse

Kaartspel gaan nie oor kaarte nie.
Dobbel gaan nie oor geld nie.

“It’s not about the cards you’re dealt, but how you play the hand.”
― Randy Pausch, The Last Lecture

‘Almal weet hoe om Mlambalamba te speel’, was al antwoord wat ek gekry het toe ek vra hoe ‘n mens Mlambalamba speel. Ek het in die verbygaan gesien hoe van die Zoeloe-werkers ‘n speletjie met bottelproppe op ‘n getekende bord speel. Ek moes ‘n handvol toeskouers en spelers vra hoe dit werk voordat ek ‘n direkte antwoord kon kry. In ‘n neutedop of bottelprop is die reëls as volg: 1) Twee spelers kry twaalf bottelproppe wat om die beurt op die kolle gesit word. Die kolle is enige plek waar twee lyne kruis 2) Kry drie bottelproppe in ‘n ry 3) Gebruik jou rye om die opponent se rye af te sny 4) Die persoon wat eerste vier rye van drie gebou het, is die wenner.

Ek is van mening dat enige goeie spel ‘n faset van realiteit of werklikheid moet naboots. Skaak is een voorbeeld: Dit stel ‘n middeleeuse leefwyse op klein skaal voor. Koninkryk teen koninkryk veg om oorlewing. Die wit en swart skaakstukke kan ‘n tipe goed vs sleg element hê, maar die belangrikste een vir my is dat die pion die koning kan uitskakel.

Terwyl ek na die Mlambalamba-spel en -spelers kyk, wonder ek watter faset van realiteit hier verteenwoordig is. Daar is ooreenkomste met kringe-en-kruise deurdat jy drie stukke in ‘n ry moet kry. Miskien het die drie dele van ‘n lyn ‘n magiese effek. Dit kan die kante van ‘n driehoek of piramide voorstel, of miskien verteenwoordig dit drie konings uit die Zoeloe-geskiedenis. Ek is ook bewus daarvan dat skrywers hou van drie dele in ‘n titel. Die kolle waar die spelers hul bottelproppe neersit is eintlik plekke waar die lyne kruis. ‘n Kruispad is ‘n bekende beeld vir plekke waar besluite gemaak moet word. Kruispaaie is waar ons paaie bymekaarkom of waar ons paaie skei. Terwyl ek wegloop van die Mlambalamba-spel wonder ek of ek nie dalk te veel in die spel wil lees nie. Miskien verteenwoordig die spel bloot ‘n groepie mense wat die tyd probeer verwyl of dalk is dit meer die sosiale element van die spel wat dit interessant laat lyk.

Mlambalamba-bord op tafel uitgekerf

Met drif het jy jou somberheid uitgeleef:
jou pennehouer ‘n skedel…
Die verlies van die verswygde liefde:
soos die pik van ‘n slang.
‘n Wond wat sweer word kouevuur.
Verswelg in koorsdrome ont-
glip jy tydelik: ‘n kobra in deurskynende glas.
Was dit swak-geskommelde kaarte?
‘n Kruis en munt?
Opsluit moes jy dobbel, die dices skud
in teen die donker dieptes van die stroom:
‘n Walvis sluk jou heelhuids in.

L’envoi

– gedeelte uit die gedig ‘Eugène N. Marais (1871 – 1936)’ van Joan Hambidge

 

Ek onthou nog hoe ‘n ontstelde vrou by ‘n vergadering aan haar kollega vertel het dat haar huiswerker se kinders begrafnis-begrafnis in haar agterplaas speel. Hoekom kan die kinders nie karretjies, pop of huis-huis speel nie. Die mond van die suigeling of die speletjies van die suigeling vertel iets ontstellends. Simboliek kan met tye ‘n simpel ding wees. Dis lekker om daarna te soek, maar sleg as jy dink dat jy dit verstaan. Hoekom ons altyd simboliek in alles wil inlees. Kunstenaars sit nie altyd doelbewus simboliek in hul werke nie. Dit is seker nie nodig dan alle speletjies ‘n element van realiteit bevat nie.

Skildery van Dostoyevsky deur Vasily Perov

“Even as I approach the gambling hall, as soon as I hear, two rooms away, the jingle of money poured out on the table, I almost go into convulsions.”
– Fyodor Dostoyevsky, The Gambler

Die Russiese skrywer, Fyodor Dostoyevsky, het volgens oorlewering sy boek, The Gambler, geskryf sodat hy sy dobbeskuld kon betaal. Hy was verslaaf aan dobbel en het vir ongeveer ‘n dekade sy lewe daaraan toegewy. Ten minste kon hy sy werk oor dobbel skryf vanuit die perspektief van ‘n dobbelaar. Daar is seker geen vraag oor die kruispaaie wat dobbel bied nie. Daar is die ekstase, die oomblikke van angs en dan miskien die begeerte om dit alles weer te herhaal. In een aand kan jy euforie ervaar, selfs self-haat, maar bitter min mense sal met ‘n gevoel van tevredenheid by ‘n dobbelhuis uitstap.

Wie dobbel, is dwaas.
Sy geloof in die boerpot
berou hom helaas.
– Zandra Bezuidenhout

Die element van verneukery in kaartspel is ‘n donker area, maar is miskien een van die kruispaaie wat die werklikheid met die spel verbind. Ek is mal oor kaarttruuks en was verbaas om te sien hoeveel truuks ‘sleight of hand’ gebruik. Die gehoor in die kaarttruuk word 90% van die tyd ‘n kaart gevoer, alhoewel hul dink dat hul ‘n kaart kies. Ek wonder hoeveel keer ek in my lewe dinge gekies het terwyl ek onder die indruk was dat ek dit uit vrye keuse gekies het. Ek wonder deesdae al minder hoeveel speletjies elemente van realiteit bevat en wonder al hoe meer hoeveel van my werklikhede eintlik elemente van ‘n spel bevat.

Everybody knows that the dice are loaded
Everybody rolls with their fingers crossed
Everybody knows that the war is over
Everybody knows the good guys lost
Everybody knows the fight was fixed
The poor stay poor, the rich get rich
That’s how it goes
Everybody knows
– gedeelte uit ‘Everybody Knows’ deur Leonard Cohen

 

kaartspel sonder kaarte

dobbel is ‘n ronde tafel
met deelnemers aan hul eie kant
elke speler speel sy hoogste
en verloor teen ‘n hoër hand

die deler sny die kaarte
en ‘n druppel bloed val op die hart
die kaarte sny die speler
en kleur die hart dan swart

in ‘n kamer vol kaarte
word geen kaart meer gedeel
stomme geld roep die bluf
van elke nar wat speel

 

Bronne:
1. Internet: http://en.wikipedia.org/wiki/Fyodor_Dostoyevsky
2. Internet: http://www.azlyrics.com/lyrics/leonardcohen/everybodyknows.html
3. Internet: http://www.nmmu.ac.za/onseangeltjie/gedig5.htm#marais
4. Internet: http://www.wikihow.com/Do-a-Simple-and-Interesting-Card-Trick
5. Piekfyn Afrikaans Huistaal Leerderboek Graad 11

 

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Wicus Luwes. Mlambalamba, Dostoyevsky en die illusie van vrye keuse”

  1. Renée du Toit :

    Hoe ons ookal spelle speel, wie laaste lag is steeds maar Skoppensboer . . .
    Wicus, jy het ‘n besonderse manier om na die lewe te kyk en verband raak te sien tussen die praktiese en die diepere dinge.

  2. Marlise Joubert :

    En in alles daar poësie, of nie? Wen of verloor, die ‘spel’ met woorde sal immer gespeel word.

  3. Gisela Ullyatt :

    Wicus, jy verstom my met jou kreatiewe onderwerpe. Ek sou nou nooit gedink het dat kaartspel en poësie veel met mekaar te make het nie. Welgedaan met hoe jy die twee geïntegreer het.

  4. Leon Retief :
  5. Wicus Luwes :

    Dankie vir die saam speel/lees en kommentaar Renée, Marlise, Gisela en Leon. Die woordspel is in alles en dit is lekker dat die woordspel ons hier op die Versindaba-bord kon saambring.

  6. Cool. Kyk ‘n bietjie na die Gambler movie remake wat hierdie jaar gewys het (met Mark Wahlberg). Dis goed.

    http://gertrautenbach.blogspot.com/2005/05/gambler.html

  •