Here be I-side : die ontstaanspore van ‘n skildery
*
2 Augustus 2016, Can Ocells
Die tekening. Alles reeds daar. Hoekom hierdie beeld ? Jy probeer voorgee (in gedagte) dat dit ‘n genealogie van bemoeienisse is wat die beeld voortbring as een van ‘n reeks, of as een in gesprek met ander beelde. Eintlik weet jy nie hoekom nie en, om eerlik te wees, jy gee ook nie om nie. Jy sal voorgee dis tegniese oorwegings – vorm, ruimte, verhouding, later kleur en tekstuur – wat die beeld kristalliseer. Eintlik is die beeld ‘n verskoning om die ander oorwegings te artikuleer.
Die doek is op ‘n 80F spanraam, d.w.s. 114cms breed by 146cms hoog.
« There comes a moment when what hapens on the surface (cloth, canvas, paper) is more important / (takes precedence over) / (takes over from) / than what you ‘think’ you’re doing, what’s in the head or what you’re looking at. Take-off. Autonomy. » Henri Matisse.
Die skets op doek. Vanaf begin gaan wat beskikbaar is (oorskietverf, ‘n breë kwas, lap) die proses bepaal. Grondlaag, elke veeg en haal gaan deelneem aan die gesprek wat die voltooide werk gaan wees. Dogen sê : in die oomblik is alles ; daar is geen tyd nie. Is dit regtig so ? Om iets te vergestalt (versgestalt ?) wat uit ‘n proses groei, wat self proses is, is om die oorgange van moment na moment te belewe. En jy moet besluite maak. Belangeloos maar nie sonder gevolge nie. Hoe bewerkstellig jy organiese oorgange tussen ‘happy accidents’ en ontwikkeling/verdieping/verheldering ?
« Everything you do in the studio is equally important – whether drawing a bird or scraping old paint off the palette. » Henri Matisse.
*
3 Augustus
Die agtergrond is eintlik al alles. Dis die sfeer, die omgewing, die kondisie waarbinne die res (die onderwerp, die bewegings van die hand en dus die bewussyn) asem en substansie gaan kry.
Om so aantekeninge te wil maak terwyl die werk ontstaan (‘ont-staan’) is om oor jou eie skouer te kyk. Dis inhiberend. Jy word oorbewus van die wisselvorming of die vloei tussen ‘ontstaan’ en die keuses of verskuiwende fokus wat maak dat jy dinge raaksien en dalk verder neem. (Om ‘n klad te behou is nie ‘n morele besluit nie.) Maar dit verskerp ook jou aandag op die dinamiek van doen. Jy voel hoe sterf die tyd.
« Don’t be afraid – neither of outline nor of texture. » Henri Matisse.
*
4 Aug
Wanneer die agtergrond – die ‘bodem’, le fonds – ingevul is (voorlopig ?) begin die tyd van huiwering en twyfel. Jy gaan nie nou veel verder kan kom met die ‘suggestie’ van betekenis nie. Dis een ding om te reken op die aanvullende of voltooiende of besitnemende van die oog wat te staan kom voor die werk ; dis iets heel anders om oppervlakke, skaduwees, dalk bewegings opsetlik vaag of selfs ‘leeg’ te laat. Stellings kan nie gemaak word nie maar beelde (soos metafore) moet uitgewerk word, nou binne ‘n eie net van bestaan en volgens ‘n genetika van vormsoeke. Is die pienkerige smeersel bo in die hoek van die blou vlak wat ‘buite’ is veronderstel om ‘n wolkie te wees ?
Die oppervlak is gedek – en skielik lyk die doek of die potensiële ruimte kleiner.
Jy moet die balans kry (en dis ‘n lewende gelykstaandestelling) tussen verder te wil gaan, en dit wat (dalk) reeds voltooi is eie aan die ontstaansbeweging so te laat.
Die metafoor is die bewussyn van die gedig : week dit in die woorde.
Sebald, in ‘n opstel oor die skilder Jan Tripp, haal vir Roland Barthes aan wat beweer het hy sien in die alomteenwoordigende man met ‘n kamera die dood se agent, mens sou kon sê die boodskapper, en in foto’s die oorblyfsels (relikwieë) van lewe wat aaneen oorgaan in die namaals. Waar kuns van fotografie verskil, skryf Sebald, is dat die nabyheid van dood haar onderwerp is maar nie ‘n obsessie nie. Sy dweep nie daarmee met ander woorde nie. « Art deploys the deconstruction of outward appearances as a means of countering the obliteration. » Ons skilder en skryf en staan in die geheiligde ruimte van die teaterverhoog voor ‘n donker publiek om te lewe en lewe oor te dra, nie om dood te gaan nie. Miskien omdat daar met die hande beduie word. Nie om die dood te lok of verlei nie. Om te lewe is ‘n strewe. Niemand kan die lewe weergee nie. Maar jy skep die illusie dat dit wel so is : presentasie is illusie. Deur weg te laat, te kies, uit te lig, blind te wees om beter te mag sien. Dis die leser, die kyker, die toehoorder wat die teks of die beeld of die beweging aanvul tot ‘n skyn (en verskyning) van lewe. Jy is dan ek. Ons maak soortgelyke afleidings, ons is ewe blind, ons deel die kode. Ons maak dieselfde bokkespronge. Die teks is die tweeling – die afwesige én die vergestalting van afwesigheid. En dan vergaan Jek en die kwaswoorde bly agter soos spore. Maar omdat onvoltooiing en uitvee ingeskryf is in die beweging sal ook die nakomelinge in interaksie die teksbeeld ervaar as die (re)inkarnasie van lewe. « And what is the business of painting in any case but a kind of pathological investigation in the face of the blackness of death and the white light of eternity ? » W.G. Sebald,
« As Day and Night… »
*
5 Aug
Jy wonder of die eienskappe van droëkwaswerk soos in teenstelling met natkwaswerk ook oorgedra kan word na ander uitingsprosesse ? Wat sou dit beteken in terme van skryf ?
*
7, 8 Aug
« Which is form and which is mind ? Pursue and investigate this in detail. When you penetrate this matter, the coming and going of birth and death is a painting. Unsurpassed enlightenment is a painting. The entire phenomenal universe and the empty sky are nothing but painting. »
Dogen, « Painting of a Rice-cake », 11th month of 1243.
Wat ek presies probeer aandui is dat by (sommige) skilderye die eindproduk (nooit ‘voltooi’, want daar kan nog weer aan verander word, of dit bly lewe – vir ‘n tydjie – en verander in die oogkluise van die toekykers) laag vir laag opgebou word. Dat ‘betekenis’ ‘n sedimentering is en konkreet van aard (woorde is afleidings) en voortkom uit die handeling tussen lae. Dis ‘n bewegende teiken.
Mens is gekondisioneer om begrip of betekenis te verbaliseer, te vertaal in woorde. Miskien om die aanvoeling te probeer reproduseer, dalk meer so in wysie en klankstruktuur as in semantiese verwysing. Dis byna asof iets nie bestaan tot tyd en wyl jy dit nie (vir jouself) kan vertel nie. Jy moet ruimte skep om dit wat per definisie anders is te akkomodeer. Die uitwerking (of inwerking) van waarmee jy gekonfronteer word kan slegs in ruimteskepping opgeneem en belewe word. Die omgaan met die onbekende, die prikkel van buite, is ‘n ontwrigting van die stilte wat jou primêre vertoef is. Om te lewe is om herhaaldelik verkrag te word sodat jy kan vertél in ‘n poging om die binnedringende agent te inkorporeer, en jou eie te maak.
Herkenbare of afleibare elemente – objekte, vertroude ruimtes en illusies van perspektief, die afkortings wat jou plaas in die prentjie, gesigte van bekendes, die onbekende gesigte van self in vervloeiing – al hierdie elemente is leeuvuil oor die spore gestrooi om die hond van stryk te bring. Hoe meer ‘realisties’ die werk hoe meer ontwykend of selfs onsigbaar die werklike ontsluiting tussen kyker en proses. (Ek is ‘n proses.)
Die doek is uiteindelik nie van belang nie : dis slegs die momentele toeverlaat, vlies of vel waarteen die pogings om tyd (en ruimte) substansie te gee afgespeel word. Dis as ware jou tekenbord.
Thom Gunn sê : « At worst, one is in motion ; and at best, / Reaching no absolute, in which to rest, / One is always nearer by not keeping still. »
If you’re going nowhere
One place is as good as any other
To start from
The point is to start
The start is to point
You can always only start
From where you are
And ‘methodology’ then is a metholody
Like any other ritual
Just an automatism to start
(And sustain) the process
handhandel
(die lewe is die dood se sêskaduwee)
hoe lank het dit jou geneem
om te weet dat alles verniet is,
niemand iets sal neem en eet
‘n skuit kan laat vaar
of pêrels snoer aan die toutjie
woorde wat uit jou mond kom nie ?
.
dat sekstette niks vermenigwoordig
in hierdie druisende wêreld
waar klere geknip en verkoop word,
tamaties geplant en natgelei
en die dood al aanwesigheid
waaraan jou woorde gestalte kan gee ?
.
uit die hawestad het ‘n verlede
van skepe vertrek om al langs
die kuste van onbekende vastelande
te dryf op soek na ‘n wedersydse toekoms
van skape en die uitruil van snuisterye
(leë woorde sou ook alles besoedel)
.
niemand het jou nodig gehad om te sien
alles sal ophou of aanhou bestaan
in dimensies wat gedigte nie van weet :
kyk, die man met die graaf
wat die verrottende maan inspit
het ten minste in koerante gelees
.
hoe honderde swart katte kamaai aan boord
wanneer vaartuie terugkeer uit ‘n verre hede
waar wonderwerke vanself spreek :
van watter nut dan die woordgrawer
se onsigbare konstruksies
as dit nie eens ‘n ruimtetuig
.
na die dieptes kan vuur
om die nag uit te meet nie ?
moet ek gaan met leë hande
moet ek so my stof ontmoet ?
in die voorhuis so grys
soos jou gesig troos jy my
.
met die lewensdoel dat iemand verbeelding
sal help onthou wat gebeur in geborduurde
lappe teen die muur nagelaat toe Tartare
in die Boere-oorlog kom sneuwel het
teen die rante van ons gedoemde kontinent,
want jy wéét ons verstaan nie die skrif
.
omdat hierdie hande niks mak kan maak nie :
kyk, wat oorbly as merkers in die blinde stanza
is om die moue met vuur te bestryk
en te wag op uitgeteerde honde
se verslindende tande
wanneer hulle die koue bewuspyn leeg kom vreet





“geheiligde” – jammer!
“Ons skilder en skryf en staan in die geheilige ruimte van die teaterverhoog
voor n donker publiek om te lewe en lewe oor te dra, nie om dood te gaan
nie.”
Van harte geluk, Breyten en baie, baie dankie!
Breyten, jou hande het ook nie jou naam makgemaak nie. Baie geluk Jan Blom (die Breviceps gibbosus) en Jan Afrika en BB Lasarus en Juan Bird en Blackface en Platoniese hoender en Buiteblaf et al met die verjaardag in die aanwesigheid van die volmaan. Voorspoed vir die volgende vier seisoene. En baie dankie vir die lig in die vallei van skadu-wees aan jy almal.
Veels geluk Breyten! Ek smul tans aan jou jongste bundel wat ‘n vriend vanaf SA vir my gebring het.
Die ding wat uitgehang moes word om te droog, sommer so nat-nat nog (en nat agter die ore), hang nou reg. Dankie vir die herinnering aan die blare, Andries, en die gedagtewens. En dankie vir die vriendelike groet, Mej. Snyman. Mag die reëns nie te laat kom nie.
Gister het ek die ribbes van honger beeste gesien
…
“Is die pienkerige smeersel
bo in die hoek van die blou vlak
wat ‘buite’ is
veronderstel om ‘n wolkie te wees?”
Veels geluk met u verjaarsdag, Mnr Breytenbach,
vele meer!
Ek het vandag met die pas af Wellington toe gery en vir Buiteblaf in my gedagtes met sy verjaarsdag geluk gewens. Daar was ‘n filmspan met ‘n helikopter op die berg en die eike se blare was nuut. Onbenullighede, maar darem ook belangrik op ‘n spesiale dag.
Haha! Twee dae vroeg.