Karl Jung ervaar sy psige as ’n seekoei
Die seekoei van sy psige
bars deur die oppervlak,
blaas stomende asem
uit wydoop neusgate,
beur uit die water
en trap swaarlywig die riete in.
.
Onder die water het hy gesweef,
danserig op die tone voortbeweeg;
die gewig van die buitewêreld was nie daar nie.
Hy het sy voorouers gesien,
hy het gepraat met wesenlose wesens,
hy het die wêreld om hom verryk
met die mis van sy ervaring.
.
Hier buite
voel die seekoei van sy psige
hoe die son byt in sy vel,
hier gryp hy vragte gras
in sy werkende bek;
hy voel die gewig van die dag
opstyg vanaf sy voete.
.
Netnou gaan hy terug water toe
om party van sy selwe te ontmoet,
die krokodille van sy drome.
© De Waal Venter / 2016