Carina van der Walt. Twee refleksies op Stellenbosch
Stellenbosch
word wakker Stellenbosch
gooi jou kussings in die asdrom
hang jou matras uit die venster
verbrand jou lakens
gaap nooit weer nie
slaap nooit meer nie
loop kaalvoet sonder onderklere
in vrugbare watervore
speel tussen die akkerblare
koppie krap koppie krap
geel & blougroen papegaai
aai aai daai witborskraai
wat toe tóg om moes draai
hoender hoephoep & koekoek
ha-ha hadida ha-ha hadida
tiptol rooioog tiptol swartoog
piet-my-vrou o piet-my-vrou
suiker jou bekkie my suikerbekkie
bokmakierie diederikkie
sing rroe koerre rroe koerre
my ou sagtebors tortelduifie
kom wees wakker by my & speel
tussen al my lieflik baldadigste blare

installasie uit 2010
ballonne
(vir Strijdom van der Merwe)
in die Eersterivier dryf
ballonne soos spraakborrels op water
in elke ballon is toegeknoopte asem
op alle ballonne staan woorde geskryf
so dobber
diepe verdriet gemerk as liefde
liefde gemerk as verrre verlange
verre verlange gemerk as hartstog
hartstog gemerk as my laaste assemteug
teen die stroom af
op die walle staan die mense & wonder
& korrel hoe ver hulle ballonne sal kom
teen ’n lang akasiadoring prik die liefde
bars & bly net diepe verdriet oor
teen ’n skerp kliprant stamp verre verlange
bars & bly net die liefde oor
onder teen ’n doringdraad styg hartstog
op bars & bly net verre verlange oor
alleen één laaste asemteug
kabbel ongedeerd tot in seewasem
Carina,
Het liefste hoor ik je de gedichten voorlezen. Tijdens en ook na het voorlezen ben ik omgeven door woorden, geuren en smaken die ik nog niet kende.
Baie dankie Theo.