
Is daar enigiets vir ons oor?
tyd raak min en ek weet
ek gaan moontlik nooit die antwoord hê nie
Francois van Coke: “Moontlik nooit”
Geruime tyd hoor en sien ons ’n revolusie uitspeel op die planke van universiteite. #feesmustfall, #openstellenbosch, et al. ’n Hashtag-generasie. Terwyl daar oor mikrofone gebulder word, word selfies geneem; neon-pienk lippe pruil op fb-tydlyne. Jy moet immers cool lyk vir die revolusie. Alhoewel die voorbokke in politieke insignia galoppeer, is die tekkies steeds ’n brand; die jeans super-styf. Dit is ’n warm vryery tussen Sosialisme en Kapitalisme.
Tog is studente-protes nie ’n nuwe konsep nie. Een van die deurlopende temas van Milan Kundera se Unbearable Lightness of Being (1984) is die 1968 studente-revolusie in Praag, oftewel die Praagse Lente. Die wêreldliteratuur het talle voorbeelde van dié indertydse revolusie wat ook plaasgevind het in groot dele van Europa, byvoorbeeld Parys.
Nog ’n voorbeeld van studente-protes is dié teen die VSA se betrokkenheid in Viëtnam in die 1960’s en 1970’s.

Kent State University in Ohio is ’n voorbeeld van hoe protes gruwelooslik skeef kan trek. Neil Young, toe nog ’n jong musikant, het feitlik onmiddellik die volgende lirieke geskryf nadat hy berigte oor die nuus gesien het. 4 Mei 1970 sou nooit weer net nóg ’n datum in die geskiedenis wees nie. Crosby, Stills, Nash & Young se opname hiervan volg op 21 Mei van dieselfde jaar:
Tin soldiers and Nixon coming,
We’re finally on our own.
This summer I hear the drumming,
Four dead in Ohio.
Gotta get down to it
Soldiers are cutting us down
Should have been done long ago.
what if you knew her
and found her dead on the ground
How can you run when you know?
4 Mei 1970 is begroet met ’n landswye staking van oor die vier miljoen studente: honderde kolleges, universiteite en selfs hoërskole is gesluit tydens hierdie tydperk. Publieke opinie het op groot skaal begin skuif: Nixon se leuens het stadig begin uitlek.
Instellings is egter nie op die lange duur lamgelê deur studente-stakings nie. Lesings moes voortgaan.
Elke nuwe generasie voel dat hulle ’n nuwe hond het om te skop en dat hierdie skoppe die wêreld gaan omskep in ’n Beloofde Land.
En so moet dit ook wees. Die wêreld moet verander. Onregverdige gesag moet uitgedaag word. Die Kerkorrel-generasie het teen nasionale diensplig en PW Botha se militêre regime in opstand gekom. Die status quo moes val en hét.
Wat egter opmerklik is, is die anti-intellektualisme waarmee die nuwe geslag (lees born-frees) die revolusie aanpak. Slordige SMS’e word na studente uitgestuur wat wemel van spelfoute en logiese denkfoute. Laasgenoemde word gedreig en geviktimiseer as hulle nie aan hierdie revolusie deelneem nie. Die deurlopende sub-teks is geskoei op vervelige herhalings en slagspreuke wat herkou word. Gesag word nie net uitgedaag nie, maar vertrap. Die beweging begin daagliks meer beweeg na ’n militêre junta. Daar wil nié onderhandel word nie; daar wil slegs bevéél word. Dis ’n gekeuwel, gebulk; kortom, ’n uitgerekte vertoon van jong mag.

Dosente word uit hulle klasse gejaag en gedreig as hulle durf voortgaan. Toetse word gegryp en opgeskeur en talle dosente moes presensielyste wegsteek want die junta wil die name hê van die ‘verraaiers’ wat durf klas draf of toets skryf. Heiligskennis word gepleeg as jy in jou studies belangstel. Klasnotas word na verwys as ‘pamphlets’. Ja, dosente, die notas wat julle pleeg is gelykstaande aan ’n Bradlows-pamfletjie. Dit het ’n no name-brand geword.
Ek moes gister so onopsigtelik as moontlik my ‘pamphlets’ uitdeel aan ’n klein groepie studentemeisies wat opsigtelik angsbevange was. Kort voor lank het twee bully boys die meisies buite ingewag en wysvingers is rondgeswaai. Een het ’n duur selfoon uitgehaal en die ‘skuldiges’ afgeneem. Ek kon nie die sekuriteit in kennis stel nie, omdat die junta dié lok met beloftes van “insourcing”. Daar word openlik gegrynslag as jy vra om die lesinglokaal oop te sluit. Daar is reguit aan my gesê dat hul opdrag is om nie klasse oop te sluit nie, direk deurgegee deur studenteleiers. Dit terwyl dosente direk deur topbestuur opdrag gegee word om vir klasse op te daag en dat semestertoetse sal voortgaan. Akademici sit daagliks vasgevang tussen twee ‘waarhede’: ’n niemandsland. ’n Waiting for Godot.
Ek besit niks nie
Ek het niks om by die geselskap by te dra nie
Ek weet nie
Als is by my gevat
Inspirasie sluip deur die strate in die middel van die nag
Ek soek die waarheid
Maar die waarheid stel nie belang in my nie
Gesê ek sou alles een keer probeer
Maar ek het honderd keer
Maak my stil
Gooi my uit
Laat my verdwyn
Ek soek die waarheid
Ek soek die weg
Ek soek die lewe
Ek vertrou nie maklik nie
Ek het te veel nuwe leuens gehoor
Ek glo dit nie maklik nie
Besluit self wat jy wil vat
Ek sal nie weer my laat onderbreek
Of in die rede val nie
(Francois van Coke: “Waarheid, Weg en Lewe)
Uiteraard soek die nuwe geslag na waarheid. Kanaän is aan hulle belowe. Hulle woede is te verstane. ’n Generasie soos Kerkorrel s’n ook: God sal aan jou kant wees as jy die terries vermorsel. Dit het egter nie gebeur nie. Jong mans is aan die vaderland geoffer. Sonneskyn en Chevrolet het ’n Donkerland geword:
en jy ken die agterstrate
van stellenbosch tot in waterkloof
en as windhoek se fasciste smile
kan jy die beste twostep dans
of jy in bellevue na die hawe vaar
of in amsterdam verdwaal
dis oral nog banaal genoeg
om revolusie te verstaan
ja die sakemanne vra nog wyn
en betaal met ’n visakaart
en die joernaliste vra hier rond
grawe dooie bene oop
(hou nooit op nie)
en die gasvrou op haar TV-skou
vra haar laaste stomme vraag
en ek sit hier en sien die sin
om revolusie te versin
[…]
hulle dans nou in die strate
dis ons tyd in Afrika
ministers vlieg in boeings weg
en ons staan hier verstom […]
(Johannes Kerkorrel: Bloudruk)

Kerkorrel en sy generasie het egter hulle moerigheid met die status quo met ’n mengsel van intellek en toeganklikheid vir die jonges van dae gebied. Daar is geboogie op “Sit dit af” en “BMW” maar daar is ook geredeneer; identiteit is bevraagteken; ou paradigmas is aan die kaak gestel. Die ‘revolusie’ het nie nodig gehad om jonges te dreig om deel te neem nie. Die lirieke, drif en boogie-woogie het vanself oortuig. Nuwe generasies soos Karen Zoid, fokofpolisiekar en ander kon voortbou op die Kerkorrels en Kombuise. Daar was dus ’n narratief wat voortgesit kon word. Maar, terselfdertyd het die narratief nie net ‘vertel’ nie (telling) maar ook ‘gewys’ (showing).
’n Protes-narratief wat benoud raak, wat homself vasdraai in sy eie jeremiades, kan nooit iets anders as ’n telling bly nie. Jy moet jouself in volwasse geselskap kan handhaaf. Dit beteken nié dat jy alles moet aanvaar nie. Dit beteken wel dat jy sloppy thinking halt sal moet roep om die weg oop te baan na ’n kragmeting tussen die ou en nuwe status quo. Jy kan egter nie die ou status quo op die vloer laat sit soos stoute kleuters terwyl jy ’n tantrum gooi en op die tafels toyi-toyi nie. Dit help nie om dieselfde ou slagspreuke rond te slinger nie; niemand wil meer daarna luister nie. Dié het ironies genoeg verpiep geraak, al word dit uitgebulder op mikrofone wat kringfluit.
Intussen is hierdie generasie studente vinnig besig om nog ’n verlore generasie te word. Hierdie jongmense het nie ’n stewige basis om hulleself internasionaal te handhaaf nie. Jy moet immers kruip voor jy kan loop of hardloop. Anders gaan jou knieë nerf-af wees op ’n gereelde basis.
Die vraag is: kan hierdie generasie werklike leierskap voortbring? Waar is die Gandhi’s, die Martin Luther Kings, die Neil Youngs, die Kerkorrels; die fokofpolisiekarre? Ek ken weinig studente in die revolusie wat Marx se Das Kapital deurgelees het of die Communist Manifesto in hul slaap kan opsê. Weinig stel belang in gender-teorie (of die toepassing daarvan in die praktyk. Meisies word steeds as goods and chattle gesien) of in die tydlyn van wêreldgeskiedenis, albei belangrike bakens vir die jong revolusionêr. Hoe verander jy die ‘prevailing narrative’ as jy nie weet wát dit is nie?
Of is die born frees te “verward, jonk en rigtingloos”?
Ek’s gebore aan die Ooste-rand
In ’n straat wat net soos ander lyk
in die kerkbanke grootgeword
Anders as jy
Vir ewig in ’n ry gestaan
Verward, jonk en rigtingloos
Alles aan toeval oorgelaat
Nes jy
Mekaar gevind onder neonlig
Liggelowiges
Verblind
Verbind
(Francois van Coke: “Neonlig”)

Is die studente-revolusie wat ons tans mee te make het, werklik ’n revolusie? Of is dit net nóg ’n regime-in-the-making, ’n papegaai wat ‘bedroë die koggel kry”? Aldus David Cooper, die bekende eksistensiële psigiater (1968):
If we persist with the theme of transformation of our institutions into revolutionary centres of consciousness, we have to be clear about why more has not been achieved by what we have already done in this way. The most immediate answer is that we have become victims of a very old colonizing technique – the technique of divide and rule.
Ek berus by Stokely Carmichael (1967, soos aangehaal in Cooper:1968), wat onder andere leier van die Student NonViolent Coordinating Committee was:
I want to start off with definitions by using a quote from one of my favourite books, which is Alice in Wonderland, by Lewis Carroll. In the book there’s a debate between Humpty Dumpty and Alice around the question of definitions. It goes like this – ‘When I use a word,’ Humpty Dumpty said, in a rather scornful tone, ‘It means just what I choose it to mean. Neither more nor less.’
‘The question is,’ said Alice, ‘whether you can make words mean so many different things’.
‘The question is’, said Humpty Dumpty, ‘Who is to be master. That is all.’
Now, I think that Lewis Carrol is correct. Those who can define, are the masters.
BIBLIOGRAFIE
Cooper, D. (ed). 1968. The dialectics of liberation. Harmonsworth, Middlesex: Penguin.
Kerkorrel, J. 1992. Bloudruk. Tusk Music.
Van Coke, F. 2015. Francois Van Coke. Supra Familias.
Young, N. 1970. Massey Hall 1971. Reprise Records.

Baie dankie Leon!
Dit moet ‘n nagmerrie wees Gisela. PK met ‘n AK 47. Onderstaande is na my mening ‘n uitstekende artikel oor hierdie onderwerp alhoewel dinge hier en in die VSA nie naastenby so erg daar uitsien soos die situasie in SA nie. Ek hou duim vas vir jou en jou mededosente.
https://theamericanscholar.org/on-political-correctness/