
#1
duskant Jamestown:
windstil van binne
met bouvallige wolke.

#2
in veerwolke droom ek
jou
en in Jan Blohm
se stille runaway

#3
hou nooit stil
by die Sarie Marais nie
dalk net té perskepienk
of dalk was die dag
bloot beige

#4
in Smithfield draai
ek die radio af.
stilte, onbeperk.

#5
ek het jou naam
in die wind ontsyfer,
in die newelkleur
van wolke.

#6
ek vertrou nie meer
gerugte van reën nie,
nog minder
in donderwolkprofete.
die hemel help ons nie:
die wit verf van wolke
sterf uit en iewers
roep woestynvaders.

#7
naby Colesberg
trek ek vlieswolke na,
klank ek jou naam
in blou.

#8
in segmente van klank
ruk-en-rol
die wind
en pynstillend
die wolke.

#9
in karoo-gevlekte lug
ruik ek jou
en jy is die kleur
van onbeperkte lig

#10
onder die Genl. Hertzogbrug
treur die Oranjerivier;
in Aliwal-Noord se Wimpy
skryf ek fragmente
op koerantpapier.

#11
by die stop/go
is jou naam
slegs ’n nagedagte
in gruis.

#12
iewers is die bome ewig,
iewers die lig fetaal.


Sjoe. Heerlik gelees hieraan, saam met die beelde. Dankie Gisela.