Skaakmat
.
Elke keer as ek skuif
verander die spel.
Partykeer minimaal
lyk dit.
Ander kere katastrofaal
blykbaar.
Partykeer voordelig,
hoop mens.
.
Nouja, my opponent is Swart,
Die Skadu sigself,
waar Lewe nie is nie,
die ongesiene Teenstander van die Bewussyn.
.
Elke keer as ek skuif
vorder ek
verder in Swart se gebied,
vasberade om hom af te maak,
en ek weet ek gaan sukses behaal,
ek gaan die Koning doodmaak.
.
Maar dan is die spel verby.
***
Miskien kom hiënas nader
.
Die hiënas huil
daar in die lappie doringbome,
maar my vuur brand nog,
elke oggend gooi ek droë hout op.
.
Oral lê daar nog droë hout.
.
In die swart armholte van die nag
huil die hiënas,
miskien is hul al nader,
maar my vuur brand nog
goed genoeg vir warmte
in die donker armholte
van die nag.
.
Daar huil die hiënas
in die lang, droë grasse
onder die toe ooglede
van die nag.
My kole lê rooi,
maar ek het nog hout
wat ek optel
in die oop gesig van die dag.
.
Die hiënas huil
net daar by die skuins rotsrif
in die ligloosheid
van die nag
se toegevoude arms;
maar ek sit nog hout op,
droë hout wat lank gelede
jonk was.
.
Ek het nog hout.
.
As die son die donkerte kom aanjaag
oor die dun rant
van die oggend
gaan soek ek weer hout;
daar is nog baie.
.
Bome hou nooit op doodgaan nie.
Ek het ’n stapel hout
en vanaand luister ek weer
hoe die hiënas huil
met ’n sterk stok
in my hand.
© De Waal Venter. 2018
Ek hou ook baie van altwee hierdie gedigte. Die ‘oop gesig van die dag’ en dan die stapels hout vir die nag. Ek hou baie van die eenvoud wat die prentjie skep. Skaak interesseer my, want my seun en dogters wil my aan die speel kry, sodat ek kan leer fokus.
Ek hou van “die swart armholte van die nag.”