Wicus Luwes: Die nege lewens van Schrödinger se kat

 

Ons buurvrou het laat weet dat ons kat smiddae in haar sitkamer kom slaap. Die kat kies natuurlik ook die bank waarop niemand mag sit nie vir haar middagslapie. Katte wil nou maar net nie voorgesê of opgelei word nie. Ek hoor ook dikwels grappe oor die vraag of katte ons troeteldiere is en of dit nie miskien dalk andersom is nie. Die vraag is dus: is die katte nie moontlik in beheer van sake by die gesin wat vir hom of haar huisvesting gee nie?

Schrödinger se kat is een van daardie gesprekspunte wat dikwels genoem word. Die kat is nou al deel van populêre kultuur, maar ek het gewonder watter ander teenstelling of kwasi-paradokse nog rondom die kat gebou kan word.

Ek bespreek daardie teenstellings as die 9 teenstellings of lewens van Schrödinger se kat.

Die eerste lewe (teenstelling): Schrödinger se kat:

Erwin Schrödinger het in 1935 ‘n denkbeeldige eksperiment uitgevoer. Volgens die eksperiment kan ‘n kat in ‘n boks toegemaak word saam met iets wat die kat kan skade aandoen. Schrödinger het ‘n radioaktiewe atoom in gedagte gehad, maar ‘m mens kan seker die atoom met iets anders vervang vir die doeleinde van die eksperiment. Die eksperiment maak die stelling dat ‘n mens eers kan bepaal of die kat moontlik dood of lewendig is wanneer jy die boks oopmaak om te sien in watter toestand die kat verkeer. Die denkbeeldige eksperiment was eintlik bedoel as kommentaar op die Kopenhagen interpretasie van kwantum-fisika, maar dit is al deur die jare in ander velde gebruik, aangesien dit ‘n goeie illustrasie is. Die eerste teenstelling of paradoks rondom die kat is dus: die kat is beide lewendig en dood terwyl die houer toebly.

 

prieel

die kat sit op die dak

om die lente op te snuif.

sy loer deur stergroen blare

aan ’n gekromde wingerdstok.

 

hoog, rankhoog teen die blou. versigtig

tussen takke nou. oor die houtbalke

van die droomprieel. een sprong

tot op vaste grond.

 

in die geut lê die moeë

skelet van ’n wintervoël.

 

[Uit: Grondwater – Marlise Joubert (2019)]

 

Die tweede lewe (teenstelling): Die pil

Ek is seker nie die eerste persoon wat al ‘n pil vir ‘n kat probeer voer het nie. Medikasie is ‘n probleem vir die skerp sintuie van die kat en dit lei gewoonlik tot vindingryke (maar ongeslaagte) planne van die dier se eienaar. Die eerste poging behels gewoonlik om die pil binne-in die katkos in te druk. Of dit nou maalvleis of tuna is: die kat kry gewoonlik snuf in die neus en jy kan maar verwag dat die pilletjie op die bodem van die bak gaan agterbly.

‘n Tweede poging behels somtyds ‘n stuk botter of ander toebroodjie-smeersel waarin die pil versteek is. Die kans vir sukses is groter, maar steeds nie gewaarborg nie. Sodra die pil weg is, wonder jy of die pil geëet is of net iewers uitgespoeg gaan word. Die tweede teenstelling is dus: die pil wat jy vir ‘n kat voer, is beide geëet en ook nie geëet nie.

Die derde lewe (teenstelling): Die droom

Sommige interpreteerders van drome reken dat ‘n droom oor ‘n kat beteken dat jy moontlik iets glo waarvoor daar nie bewyse is nie. Die tema word somtyds beinvloed deur die gebruike van verskillende kultuurgroepe, maar die tema van ‘n illusie is ‘n moontlike opsie wanneer jy probeer dink oor wat jou onderbewussyn vir jou probeer sê. Die derde teenstelling kan soos volg opgesom word: jou brein soek bewyse vir iets waaroor jy dink, maar miskien is die enigste rede waarom jy oor katte droom, die kat wat jou plek op die bed opgeneem het en verseg om te skuif.

 

Die vierde lewe (teenstelling): Bast en Sekhmet

Bast of Bastet was ‘n godin wat in dele van Egipte vereer is. Bast het somtyds die kop van ‘n kat en ander kere die kop van ‘n leeu. Die verskillende koppe het blykbaar met verloop van tyd verander in geskrifte, maar die ooreenkomste kon steeds deur ontleders bepaal word. Die godin, Sekhmet, het ook die kop van ‘n leeuwyfie. Sy is in ander dele van Egipte vereer. Bast en Sekhmet het heelwat in gemeen, maar Sekhmet het meer agressiewe karaktereienskappe. Dit is veral die katkop wat die vierde kat-teenstelling vir my geskep het: ‘n mens wonder of die karaktereienskappe na twee afsonderlike gode verwys of moontlik dieselfde godin voorstel.

halleluja

werk want die dag kom nader

’n duisend katte loer deur die venster

die sterre spin soepel komete

krieke kriek by die donker heining

 

’n kat spring ligvoets

van die vensterbank

en hang dan teen die plafon

 

die kers flikker wild

en val soos ’n fakkel

in die bottel

 

in ’n leë huis huil ’n vrou

 

[Uit: Nuwe vrese. Willem S van der Merwe (2019]

 

Die vyfde lewe (teenstelling): Die kat in die pad

Duiwe en katte beweeg gewoonlik eers wanneer jy reg by hulle is. Die gevolg is dat jy somtyds voel of jy met jou motor moet uitswaai om hulle mis te ry. Ek het al dikwels gewonder of dit beter is om hulle net te ignoreer, maar my oog hou hulle tog dop wanneer ek by hul verbyry. Die teenstrydigheid van die kat in die pad is slegs dit: ek kompenseer vir ‘n kat wat gelyktydig oor die pad kan hardloop of net stil kan sit.

 

Die sesde lewe (teenstelling): Die geslag van ‘n kat

Die Duitse taal heg geslag aan woorde. Die Duitse woord vir ‘n kat is ‘die Katze’, wat ‘n vroulike lidwoord (‘die‘) het. ‘Die Katze’ kan na ‘n mannetjie of wyfie verwys. ‘n Mannetjieskat word egter ‘Der Kater’ genoem (met die manlike lidwoord). Ek kry wel die gevoel dat selfs mense uit my omgewing eerder na ‘n kat as vroulik sou verwys. Hierteenoor verwys mense, volgens my, ook makliker na honde as manlik. Die teenstelling oor die geslag van ‘n kat is dus die uitvloeisel van taal: Elke ‘Kater’ is ‘n ‘Katze’, maar nie elke ‘Katze’ is ‘n ‘Kater’ nie.

 

Die sewende lewe (teenstelling): Liefde en haat

My huidige kat is ‘n ongelooflike jagter. Sy kruip onder groot blare of die kinders se glyplank weg wanneer sy haar prooi bekruip. Sy klim teen die muskietnet voor ons deur op in ‘n poging om by die swaeltjies se nes uit te kom. Die ergste is dan wanneer sy dit regkry om ‘n voëltjie te vang. Sy hardloop dikwels huiswaarts om die prooi op te eet. Op daardie stadium is die prooi gewoonlik nog nie dood nie en probeer ek dan om die duif of mossie uit haar kake te kry. Ek het haar al agter die nek gegryp om haar kake te probeer oopkry, maar my pogings is die meeste van die tyd onsuksesvol. Die voël het gewoonlik al te seer gekry teen die tyd dat ek haar kake oopkry. Die teenstelling is soos volg: ek is lief vir my kat of troeteldier. Op die stadium dat sy haar prooi vang, is ek lief vir haar, maar ek haat haar natuur op ‘n ander vlak. Katte help die mensdom al eeue lank om ontslae te raak van muise, kakkerlakke en ander diere wat siektes versprei. ‘n Mens moet seker die soet saam met die suur eet, maar dit is nie altyd lekker nie.

in memoriam: Strooi

sonder die veld se geur

van wit lelies in ’n vuis

of die trae note van gesang en gebed

sonder ’n graf of ’n woord van eerbetoon

sterf hy op die vaal handdoek

op ’n skoongeskropte tafel

eerloos

en ek onthou Lucebert:

alles van waarde is weerloos

 

sonder ’n sug en sonder protes

sterf hy stil en donker

terwyl die bloed oor die lip

bly stoot

terwyl die pyn die gapende wond verlaat

en elke pupil al groter rek

om verlossing in te laat

terwyl my kind se hand

die troetelkop bly troos bly troos

en ek onthou Lucebert:

alles van waarde is weerloos

 

sonder dat hy weet dat ons hom groet

word sy lyfie riemslap onder die naald

lê die swart pels in ’n boog gestol

half verleë die wit sokkies

van sy pote oor mekaar gevou

die bors se wit ster

gevlek en rou

en ek onthou van Lucebert

 

so moes ek hom verlaat

sonder ’n lied of die veld se geur

en ek onthou terwyl ek huil

teësinnig teen die misreën op die ruit

my vingers om die stuur geklem en koud

dat ook hy, ja tog,

soos ’n mens van waarde was

’n keelronde warmte kon gee

met kromgeskuur teen jou kuit

weerloos in sy dierlikheid

en onvoorwaardelik elke dag

veertien jaar lank

getrou op ons tuiskoms kon wag

 

[Ut: Lyfsange. Marlise Joubert, 2001]

 

 

Die agtste lewe (teenstelling): Nege lewens of net een lewe

Die kat het volgens oorlewering nege lewens. Die nege lewens het sekerlik iets te doen met die gevaarlike plekke waar hul met gemak kan loop. Die reaksie om meestal op hul voete te land, speel ook ‘n rol. Daar is kommentators wat die nege lewens na die Egiptiese god, Ra of Atum-Ra terugspeur. Daardie kommentators reken dat Ra agt ander gode voortgebring het en dus nege lewens saamsnoer. Ra het die gestalte van ‘n kat aangeneem wanneer hy die doderyk moes besoek. Die paradoks bestaan wanneer ‘n mens die een lewe van die kat as nege lewens sou beskryf.

 

Die negende lewe (teenstelling): Mak of nie mak nie

Ek dink weer terug aan die grappie wat vra of die kat vir die mens luister en of dit nie eerder andersom is nie. ‘n Kat is eintlik nooit mak nie. Die teenstelling is soos volg: Die kat is mak genoeg om in die huis te bly, maar nie mak genoeg om dieselfde inter-aksie as ‘n hond met die mens te hê nie. Die troeteldiere het elkeen ‘n rol te speel in die huishouding. Die mens besef ook dat diere elk ‘n eie persoonlikheid het wanneer jy met die huiskat en ander troeteldiere te doen kry.

Die paradoks wat Schrödinger uitgedink het, is vir my ‘n goeie voorbeeld van ‘n metafoor. Poësie help ons om hierdie paradokse te verstaan of te interpreteer. Die digkuns weet dat die reën ‘n dans is en dat die digkuns beide beiteltjies en lugdrukbore kan wees. Lank lewe Schrödinger se kat.

 

Bronne:

  1. Internet: https://www.britannica.com/topic/Bastet
  2. Internet: https://fashionjitsu.com/tag/crystal-ball/
  3. Internet: https://www.sciencefriday.com/segments/something-deeply-hidden-book/
Bookmark and Share

Comments are closed.

  •