De Waal Venter. Digters wat suutjies trap

 

Die spitse in die Muzo-legende, Fura en Tena

 

Daar is baie digters wat pseudonieme gebruik wanneer hulle publiseer. Ek verkies die woord “pseudoniem” bo “skuilnaam” aangesien sulke digters in die meeste gevalle nie “skuil” agter die pseudoniem nie, maar om een of ander rede ’n ander naam as hulle eie gebruik. In die Afrikaanse konteks is daar byvoorbeeld Eitemal (W. du P. Erlank) wat sy bynaam “Lammetjie” omskryf het tot “Eitemal”.

’n Ander geval is wanneer ’n digter ’n heteroniem gebruik. Anders as ’n pseudoniem waar die digter bloot sy eie werk aanbied onder ’n ander naam, dui ’n heteroniem op ’n fiktiewe “digter” wat “geskep” is deur ’n werklike digter. Hierdie “geskepte” digter het ’n eie persoonlikheid, styl en selfs biografie. Die bekendste geval is seker die Portugese digter Pessoa. Sy belangrikste drie heteronieme is: Alberto Caeiro, Álvaro de Campos en Ricardo Reis. Elkeen ’n heeltemal unieke persoonlikheid. Ek het hieroor geskryf in my essay ’n Veelsielige digter, Versindaba 7 Desember 2016.

Daar is na my kennis geen ander digter wat hierdie skryfwyse so uitvoerig en onversetlik aangewend het nie. Maar daar is wel ander digters wat ook een of soms meer heteronieme ingespan het.

’n Interessante voorbeeld in onlangse jare is die digter Kent Johnson1. Hy het in Julie/Augustus 1996 gedigte van sy heteroniem Araki Yasusada in die vooraanstaande Amerikaanse literêre tydskrif, American Poetry Review2,  geplaas. Voor dit is Yasusada-gedigte ook in ander leidende tydskrifte geplaas. Die algemene gevolgtrekking waartoe kritici destyds gekom het, was dat Johnson werklik op ’n ongepubliseerde klomp gedigte van Yasusada afgekom het en dit uit Japans laat vertaal het. Johnson het tot op datum nog nie erken dat hy die gedigte self (in Engels) geskryf het nie.

Die gedig hieronder het groot opspraak verwek toe dit gepubliseer is. Veral die digter Ron Silliman het dit uitermate bewonder. (Dit sal seker onregverdig wees as mens afleidings maak uit Silliman se van!) Ek plaas net die eerste vyf reëls. Die hele gedig kan gelees word deur die skakel na “Perloff se kommentaar (4) te volg.

 

Telescope with urn

The image of the galaxies spreads out like a cloud of sperm.

Expanding said the observatory guide, and at such and such velocity.

It is like the idea of the flowers, opening within the idea of the flowers.

I like to think of that, said the monk, arranging them with his papery fingers.

Tiny were you, and squatted over a sky-colored bowl to make water.

Kritici het egter begin wonder oor die egtheid van die poësie. Die vooraanstaande akademikus en kritikus, Marjorie Perloff3, het die volgende te sê gehad4:

 

“Compared to the Japanese poems I cited a moment ago, “Telescope with Urn” is elliptical and fragmentary. Each line, set off from the next by double spacing, is a separate sentence, and the sentences, while straightforward syntactically, tend not to connect. Reference, moreover, is often unclear as in ‘I like to think of that, said the monk, arranging them with his papery fingers,’ where we know neither what ‘that’ is nor what ‘them’ the monk is arranging.”

 

Mettertyd is daar teenstrydighede en onwaarskynlikhede in die Yasusada-gedigte uitgewys wat dit duidelik laat blyk het dat dit nie deur ’n werklike Japanse digter geskryf is nie. Nogtans hou Johnson voet by stuk – hy het nie die gedigte geskryf nie, beweer hy.

 

Waarom skep digters heteronieme?

Fernando Pessoa het gesê dat daar ’n hele paar digters in hom leef. En hy kon nie anders as om aan elkeen uiting te gee nie. Afhangende van Pessoa se gemoedstoestand het die een of die ander van die heteronimiese digters “na vore gekom” en dan het Pessoa in daardie spesifieke styl en toonaard geskryf.

Mens kan in die versoeking kom om te dink dat Pessoa in ’n mate versteurd was en verskeie persoonlikhede gehad het soos daar wel mense is wat in so ’n toestand verkeer. Die konsensus is egter dat dit nie die geval is nie en dat hy eenvoudig die talent gehad het om verskeie, uiteenlopende oeuvres te skep.

Dit is moeilik om te probeer vasstel wat Kent Johnson se motivering was, veral omdat hy ontken dat hy die Yasusada-gedigte geskryf het. Hy is ’n satirikus en iemand wat al in talle literêre debatte en botsings betrokke was. Dalk geniet hy dit om die stryd aan te knoop met medeskrywers en akademici. Moontlik verkies hy om suutjies te trap deur die kritiese literêre wêreld. Soos ander skeppers van heteronieme, is hy ’n digterlike trapsuutjies!

Nou kom ons by twee ander heteronieme digters, die een skryf in Spaans, die ander in Sweeds. Eerstens die digter uit Ecuador, Felipe Torbellino.

 

Biografie van Felipe Torbellino

 Gebore 1949 in Guayaquil, Ecuador.

Mestizo van moederskant. Bekwaam homself as onderwyser in 1969. Later tot die joernalistiek toegetree en uiteindelik met sy gesin na die VSA geëmigreer waar hy in die filmbedryf taamlik sukses behaal het as draaiboekskrywer. Sy vrou, Marquita, gee Spaanse klasse aan ’n hoërskool.

Hier is sy gedig:

 

Un sonida de trompeta

 Felipe Torbellino

 

Un sonida de trompeta

Es una celda que divide.

Cada mitad es entera

con todos sus cromosomas.

 

 

’n Trompet sketter

 

’n Trompet sketter.

Dit is ’n sel wat verdeel.

Elke helfte heel

met voltallige chromosome.

 

’n Kastaiingboom blom,

hier gaan vrugte kom.

In die boord

lê die appelkose

alkoholies slu en gis.

 

Water borrel uit die Andes.

Dit wil see toe,

en moet tussen die mense

se voete deurloop op pad.

Plek-plek word dit baie vuil.

 

Dit lyk of die wolke weggevee word

sodat Iemand van bo af

kan kyk

hoe word gebrou hier onder.

 

Die kaal blad

van die mensgemaakte jaar

wys al klaar klein tatoeëermerkies.

Later sal hy omdraai

dat daar ook op sy maag

geskryf kan word.

 

Die man loop af in die straat,

kyk vlugtig na die naamplaat:

ja, hy is nog op koers,

maar hy wonder of daar grense is

tussen sy gedagtes –

hou een op en begin ’n ander

of word een net die ander?

 

’n Trompet sketter.

Die man dink aan die papie

in die kokon.

Gister was dit ’n vae vorm;

die kokon gaan oop.

’n Vlinder kom uit,

sprei sy glansende vlerke,

’n heerlike koning van die oomblik,

die pers juweel van Muzo*.

 

’n Trompet sketter

met die stem van Skepping.

 

*Bron: Facebook. The Emerald Company

The Legend of Fura & Tena

The Muzo God of creation, Are, brought to existence the beautiful mountains, valleys, and rivers near the city of Muzo (modern day western Boyacá, Colombia). Are then created one female, Fura, and one male, Tena, as caretakers for his garden. For as long as they stayed faithful as a couple, they would enjoy indefinite youth together in paradise.

The couple relished in joy and fruitfulness for centuries. This all changed when a handsome man, Zarbi, appeared. He was seeking a rare flower to cure all illness. Fura decided to help. In doing so, she fell in love.

One day, Tena noticed that Fura had aged. This was an indication that the vows of fidelity had been broken. Because of this, Are’s spell of ageless life was no more. Heartbroken and distraught, Tena stabbed himself in the heart.

Fura cried for many days over her dead lover. Her screams turned into butterflies as it echoed through the forests while her tears turned to green stones. The first emeralds had been born.

Are then turned the couple into mountains to forever immortalize their love. Zarbi, out of anger, transformed into a river that would forever separate the two. This is the legend of the first emeralds.

***

En hier is die Sweedse digter:

 

Ville Viklund

 Born 1952.05.07

 Prof. Ville Viklund (1952 – ) lives with his wife in Ystad, Sweden. His poetry is written mostly in Swedish (some in other Germanic languages). He has published very little of his extensive oeuvre, as he is reportedly convinced that the general public would find his work unpalatable.

 He has been quoted as saying: “Not everybody likes garlic”.

 The couple have several grownup children and a scattering of grandchildren.

 He is an extraordinary professor of Linguistics at Malmö University.

 

 Bakom mörkret

Ville Viklund

 

Björkar går försiktigt

ut på natten,

deras armar

i marschställning.

 

Agterdonker

 

Berke loop versigtig

uit die nag,

hulle arms

in marsjeer-houding.

 

Agter hulle

rol die sagte wiele

van misbanke

oor die onsigbare landskap.

Daar is lig nie tuis nie.

 

In die huis sonder kleur,

in die kombuis

sonder mense,

op die bed

wat onafwendbaar wentel

om die ongesiene donker son:

lê sy, kykend

na die parallelogram van die venster,

teoreties daar.

Hy, langs haar,

haal slapend asem,

werk met mistieke rekenaars

om die naderende Ragnarök

waar te neem.

 

Felipe Torbellino en Ville Viklund is albei heteronieme van De Waal Venter.

Waarom skep hy heteronieme? In Venter se geval is dit taamlik eenvoudig. Hy doen heelwat vertaalwerk. Sy bundel vertaalde gedigte van Neruda, Vandag is boordensvol, het in 2018 by Naledi verskyn. Hy rond tans ’n bundel verse af van die Sweedse Nobelpryswenner, Tomas Tranströmer.

Venter verduidelik dat hy gedigte in verskillende style, anders as sy eie, skryf sodat hy die digter wie se werk hy vertaal, beter kan verstaan. Dit is ’n besonder goeie manier om jouself in die denkwyse en skryfstyl van ’n ander digter in te leef. Jy moet in ’n sekere sin ’n ander digter “word” om by sy of haar essensiële kern uit te kom.

 

Bronne

 1 Kent Johnson

https://www.wikiwand.com/en/Kent_Johnson

2 American Poetry Review

http://writing.upenn.edu/epc/authors/perloff/boston.htm

 3 Marjorie Perloff

https://www.wikiwand.com/en/Marjorie_Perloff

 4 Perloff se kommentaar

http://writing.upenn.edu/epc/authors/perloff/boston.html

Bookmark and Share

9 Kommentare op “De Waal Venter. Digters wat suutjies trap”

  1. Bernard Odendaal :

    Hoe lei jy ons nou speel-speel om die fassinasiebos, De Waal. Alte lekker!

  2. Bernard Odendaal :

    Of is dit jy, Fernando, wat hierbo skryf nadat jy in die hiernamaals Afrikaans aangeleer het?!

  3. 1.
    Blykbaar het Viktor Shklovsky en Jacques Derrida een Sondagmiddag in ‘n woud naby Praag gaan wandel. “Aljander, aljander so deur die bos …” het Shklovsky geneurie. “Bietjie kinderagtig, nè?” het Derrida met ‘n dun glimlag opgemerk. “Dis darem nogal ‘n taamlik afbrekende opmerking,” het Shklovsky effens gesteurd geantwoord. “Nie afbrekend nie,” antwoord Derrida met lagplooitjies langs sy oë. “Dis dekonstruerend.”

    2.
    Nee, Bernard, dit was nie vir Pessoa nodig om Afrikaans in die hemel te leer nie. Hy het mos in Kaapstad skoolgegaan. Daarna is hy Lissabon toe waar hy die res van sy lewe geflaneur het.

  4. Kaapstad of Durban?

  5. Fernado Pessoa: gebore 13 Junie 1888 in Lissabon.
    Vertrek saam met sy ouers na Durban in 1896. Sy vader is aangestel as Portugese konsul in Durban.
    Laerskoolopleiding in Durban en na die Durban High School 1in 1899.
    Lê die “Matriculation Examination” af by die “University of the Cape of Good Hope” (voorloper van die Universiteit van Kaapstad).
    In 1905 vertek hy Na Lissabon om diplomasie te bestudeer aan die universiteit daar. Nooit weer terug na Suid-Afrika nie.

    Jy is dus reg, Daniel. Mens moet eerder sê hy het sy skoolopleiding in Durban gehad. Seker maar sy Afrikaans op Internet geleer.

  6. Bernard Odendaal :

    Ek het die lewensfeite al vergeet gehad. Hy het dus (dalk) eerder sy Afrikaans uit die hiervoormaals onthou?

    Hoe gee so ‘n gedagte my nou nuwe moed oor die Taal!

  7. 1.
    Dis nou ‘n knap nuutskepping! Dit kan goed werk, veral as jy kyk na die oorsprong van die woord uit Middel-Nederlands.

    NAMAALS
    Woordsoort: bw.

    Modern lemma: namaals

    bijw. van tijd. Mnl. namaels, waarnaast namels, een vorm die ook later voorkomt, en waardoor de uitspraak met een onbepaalden klinker in de tweede lettergreep wordt afgebeeld. Namaals is thans alleen bekend in de uitdrukking hiernamaals, die niet tot de dagelijksche taal behoort, en waarin men duidelijk een a-klank in de laatste syllabe pleegt te doen hooren. Namaals is met -s gevormd van na (den) male, na dien tijd (waarvan sprake is): zie NADEMAAL en NAMALIG.
    +↪1. In ‘t algemeen. Later, naderhand.
    +↪2. In ‘t bijzonder. Na dit leven, hiernamaals.

    2.
    Mens kan maar baie moed hê vir die taal. Dit word duisende jare al gepraat.
    Nou wel ‘n bietjie anders toe dit nog proto-Indo-Germaans was, maar in wese dieselle.

  8. Ek twyfel of Pessoa (Persoon/Persone) ooit kontak gehad het met Afrikaans in Durban. Sy matriekvakke sou moontlik Nederlands kon insluit.

  9. Ek dink jy’s reg, Daniel. Maar dan moet ons vir hom ‘n heteroniem skep. Ons kan nie toelaat dat ‘n digter wat sy vormingsjare hier gehad het, nie ook in Afrikaans kan dig nie. Ondenkbaar!

Los kommentaar

 

*

  •