groet
vanaand groet ek jou met grepe
grysstof uit my murg
ek groet jou beminde
jou skedel ’n hidrofiet wasagtig
op gister se swartpitlug
vanaand groet ek jou beminde
terwyl die tuin hier slaap
onder die reën se sagte slope
(met die duiseligheid van ’n sekelmaan
wat net duskant die palmblaar hang)
dat ek môre na jou toe kom –
en jy sal die blomme opruim
en jy sal my koffer dra
jy sal my stoot na die uitgang toe
jy sal my versigtig laai in jou motor in
verpleegsters dankbaar groet
jy sal my frommelsag soos ’n sakdoek
op die sitplek langs jou oopvou
die onsigbare gelapte rugstring
soos ’n kompas in jou hand
se weefsel hou
tot by die huis
nie elke afskeid het ’n terugkeer nie
nie elke rit ’n aankoms nie
maar môre ja môre
sal alles wórd –
môre beminde sal dit groen
en oggend wees
[Uit: marlise joubert. splintervlerk. Protea Boekhuis, 2011]
