
[1955]
ek onthou ma staan
met haar vingers in die meel
sy kyk op en staar deur die vensteroog
daar oorkant, sê sy, woon ’n mal vrou
ek onthou ek kyk en kyk en kyk
maar ek sien geen mal vrou nie
daar is niks nie, ma, sê ek toe
ma spoel haar hande af
en sit die slap deeg in die oond
kind, die vrou bly op daai kaal erf
tussen die bosse en lang grasse
jy mag nie soontoe gaan nie, sê ma
ek onthou dat ek bang was
maar ek wou gaan kyk
en ek gaan soek skelm aaneen
tussen lang grasse na die vrou
ek kom af op ’n hopie vuil
goiingsak en verroeste eetgerei
’n tentjie van plastiek en stokkieshout
ek vertel vir ma ek het die mal vrou
se plek gekry, maar die arme mens
is oral nêrens te sien nie
ma staan met haar oë pieringgroot
met haar hande op haar heupe
dis mos nie onse soort mense nie
en jy was stout gewees, sê sy
die vrou is ook nie meer daar nie
ma sny dik snye brood en troos:
hou op met huil, pa sê die polieste
het haar gevang en toegesluit
is sy dood? vra ek haar
ma antwoord nie
sy skep konfyt op dik snye brood
(© mj 2019)
