Nini Bennet. Tussengrond

Na ‘n idee van Kafka

’n Man het elke dag gaan stap. Dieselfde roete. Sedert die inperking het die man begin stap en gemerk hoe die voorstedelike huise verander: méér duiwelsvurk wat spits na bo. Die oop senuwees van elektriese omheinings. For sale-borde is ingekap en weer verwyder. Herhaal. Die waghonde se baarde het wit geword en hulle is daarna dood. Die weke het maande het jare geword en die man het bly stap, dieselfde roete, en die groeiende aantal sekuriteitsbakkies het hom later geken, vir hom gewaai.

Tussengrond, het die man oor die inperking gedink.

’n Kat, ’n gladde beweging oor die pad.

Die man het gesien hoe die seisoene verkleur, eers die warm karotien van herfs en winter en hy kon verstaan waarom daar na bome as “krone” verwys word. Diepwinter het die man handskoene, ’n mus en ’n serp gedra voor die lente se eerste lemmetjiegroen sy opwagting maak. Hy het in ’n klein meenthuiskompleks gewoon en die opsigter by die hek het die man elke dag gegroet, ’n stadige palm gelig.

Die hadidas het opgevlieg wanneer hulle hom sien, die metaalpienk en -groen van hulle vlerke vir ’n oomblik sigbaar en hulle lang, lomp bene en geskal agterna. Later het hy hulle sekelsilhoëette op die lamppale herken en geweet hulle het hom aanvaar. En steeds het die man gestap. Male sonder tal by ’n stopstraat die glasgruis van ’n voorruit gewaar. Bloedrelieke, het hy in die verbygaan gepeins en gewonder wie dood is. Want dit was die jaar twintigtwintig, daardie noodlottige jaar wat Chiron tussen Uranus en Saturnus se ringdans gewentel het. Die klein, gewonde planeet. Dood was orals. Só baie mense is dood in twintigtwintig, nie net aan die virus nie, maar aan ’n legio ander oorsake ook. Mense wat onderlinge verwantskappe het, sterf saam, het hy al lankal agtergekom. Familie, vriende, kennisse, geliefdes. Hulle siele gaan saam oor soos voëls wat migreer.

Vrydae is die munisipale vullisdromme met ’n onaardse gerammel na die sypaadjies gestoot, dan het die honde die buurt aan die brand geblaf. Die waste pickers was in ’n oogwink daar met hulle plastiekwaentjies met die gesteelde winkeltrolliewiele. Die waste pickers is eers onder vlak een toegelaat om besigheid te doen, het die man vaagweg onthou: dit was lank gelede, daardie twintigtwintig sonder end. Hulle bewegings was rats en slinks soos hiënas en hulle was geklee met net die elemente en genade. Dringend het hulle die asblikke gemyn vir plastiek, karton, skroot, hout, lap, glas of enige weggooigoed: die waarde in die waardelose. Die man het nie geweet dat waste pickers volgens die regering as beroep – of selfs loopbaan – erken word nie. Hoe recycle mens ’n lewe? Wat is die lewensiklus van weggooigoed? Die reïnkarnasie van rommel? Die strate, die man se staproete met die mooi voëlname, het oornag gangsters se nuwe territorie geword. Maar dit was nie vuurwapens, geld, of dwelms waarmee daar gehandel is nie, dit was herwinbare rommel. Die gangsters van die nuwe normaal was weerloos, honger en vuil in hulle oorgroot klere en die enigste wapens wat hulle gedra het, was bottelskerwe of skerpgemaakte voorwerpte. Die uitdyende plakkerskamp met sy brandende betogings teen dienslewering was net ’n klipgooi van sy kompleks af.

Die man het daarvan gehou om ’n masker te dra en met sy pet en sonbril was hy gesigloos. Eintlik het hy al lank gelede hierdie incognito-status begeer. Hy het nooit sy egskeiding van nege jaar tevore verwerk nie; ook het hy sy kinders nie dikwels gesien nie. Die vel waar sy trouring gepas het, het nooit saam met die res van sy lyf se sonbrand verkleur nie. Die strokie ringvingervel van die rouring was wit en blink, asof die ring flussies  verwyder is. ’n Klein stigmata, het hy gedink. En die baie aanrandings, beserings en ongelukke – sy lyf was ’n atlas van letsels. Hy is, sedert hy kon onthou, geboelie. Sommige mense is bestem om te bloei. Dekades later besoek die houe jou weer, tref dit jou in die teer plekke, in die skaduwees waar niemand sien of weet nie. Daar was kwelvrae – die soort waarop daar nie antwoorde is nie. Soos: Hy het oorlog geken, al was hy nog nooit in ’n oorlog nie. Snags het hy na YouTube-opnames van Jerigo-trompette geluister; die atonale alarms déúr die ontploffings het hom rustig gestem. Dit was bekend, al kon hy nie onthou in watter inkarnasie nie. Sy dun slaappak het in die growwe materiaal van ’n uniform verander en hy het gewonder waarom het hy alles moes oorleef. Sy lyf was ’n skreeuende verweerwond wat bly terugbaklei, redeloos, soos oorlewing is. By tye het hy gehuil, maar nie baie nie, want hy het al vir soveel jare gehuil dat sy trane oud geword het soos barnsteen.

’n Man het elke dag dieselfde pad gaan stap en die reëlmaat van die voorspelbaarheid het hom rustig gestem. Dit was lank gelede, die jaar twintigtwintig en die opsigter van die klein meethuiskompleks, waar hy gewoon het, het heeldag by die hek gestaan en sy domein bewaak: vir die man gewaai. Hy kon hom verkyk hoe die omgewing verander na gelang van die lig, skaduwee, atmosfeer en die weer, amper soos Monet se hooimiedens. Selfs dieselfde dinge bly in ’n konstante flux van verandering. Soos die post-psychoma-Corona-fase wat ondertussen aangebreek het.

Die man het tuis ’n elitistiese, maar laag besoldigde IT-werk beoefen. Hy was heeltemal alleen. Sy kinders het skool voltooi en klein besighede begin en hy het graag by hulle gespog oor sy oorsese reise, kastele en katedrale en kunsskatte in Rome en Parys en München, paleise in Brittanje, ontsterflike argitektuur en beeldhoukuns.

Gedurende die somermaande het hy geleer om die wolke te lees. Dit het hom gevul met ’n ongekende vreugde as die wind opsteek en die wolkgeslagte vir mekaar berig deurgee tot in Cumulonimbus, die hoogoond van Gauteng se silwer storms. Die reuk van petrichor was wild en die man was ekstaties as dit blits –  daardie heilige onderbreking met sy Götterdämmerung ’n splytsekond later. By tye het hy in die reën geloop met toe oë en gewonder: Waar gaan drome heen? Wat gebeur met die drome wat ons vergeet? Vorm drome ook herinneringe, of wag hulle vir ons in die swart respyt om eendag herroep te word? Of is ons drome die boodskappers van ouds? Vlugtelinge van ons verbeelding?

Sy kinders het getrou en sy kleinkinders is gebore, en die man het gespog met sy vakansiebestemmings in plekke van nostalgie, roomkleurige strande en turkoois water. Santorini en Zakynthos, skeepswrakke soos oerskelette vol skatkisstories en Fernweh.

Daar was baie spekulasie oor twintigtwintig. George Orwell se 1984. Skrywers het besin of die virus die begin van ’n apokalips of dalk ’n distopie aangekondig het. Maar die man het net in die hier en nou geleef. Die ekonomie het stadig en pynlik soos ’n groot dier leër gebloei, maar steeds bly lewe; dit was erger as enige kataklismiese voorspelling. Dit is lewe teen die hoogste prys – offerandes. Elke week het hy die buurt se poniekoerant uit die posbus gehaal. Die koerant was net ’n dekblad vir advertensies en hiperinflasie. Maar die man het die plaaslike nuus gelees om homself te aard; dat hy wél daar woon en dat alles om hom nie bloot ’n illusie is nie. Al hoe meer mense het bly sterf en hy het na die lewendige stroom van hulle begrafnisse op  Facebook gekyk, by tye betraand die swartspieël gestreel want die lewendes verstaan Dood net op konkrete vlak.

Toe die man eendag by die hek uitstap met die kort skuifeltreëtjies van ’n ou man, lig die opsigter sy palm in ’n groet. Ook die opsigter was skierbejaard. En vir die eerste maal in jare het hy met die man gepraat: “Jy gaan stap elke dag, altyd dieselfde pad. Dit het begin met die inperking, ons het dit die ‘nuwe normaal’ genoem, onthou jy nog? Maar die virus is jare gelede reeds verby; hoekom bly jy so stap? Jy is die enigste mens wat nog ’n masker dra. Die nuwe bedeling het al lankal aangebreek, net jy het vasgesteek in twintigtwintig. En jy het nooit gereis nie – jy het net hier gestap. Jy was nêrens.”

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •