Jo-Marie Claassen. Oor taal en vertaling en ‘n Romeinse generaal

 

Oor taal en vertaling en ’n Romeinse generaal: ’n heerlike spel

Jo-Marie Claassen

Stellenbosch

 

Daar word tans heelwat gewag gemaak van die idee om Suid-Afrikaanse kinders ’n bykomende taal op skool te laat aanleer. ‘Soveel tale wat jy kan, soveel male is jy man—of vrou!’ bly maar waar. ’n Taal is ’n wonderlike ding en tweetaligheid is ’n seën. Ek het in ’n huis grootgeword waar my pa Afrikaanssprekend was, my ma Engels (derde geslag Britse Setlaar-nasaat van haar ma se kant). Toe ek heel klein was, het ek gemeen ’n mens praat Afrikaans met ’n man, Engels met ’n vrou. Met tyd het ek agtergekom dat ander mense nie so dink nie en dat hulle huise nie so werk nie.

Tweetaligheid het groot pret in ons huis verskaf. My pa het altyd grappenderwys die Kaapse voorstad ‘Bokmakierie’ ‘Goat-mother-walking-stick’ genoem en hy en my ma het na iets opvallends as ‘in-the-eye-walking’ (‘in die oog lopend’, oftewel ‘ooglopend’) verwys. Grapvertaling kan tot ’n kuns verhef word.

My ouers het my en my twee broers in ’n dubbelmedium-laerskool gesit. Ons het tot standerd vier (graad ses) in Engels skoolgegaan; daarna moes ons oorskakel na Afrikaansmedium. Daardie eerste Afrikaanse jaar was nogal ’n uitdaging. Die klasonderwyser het ons viertal Afrikaanssprekendetjies maar eintlik geïgnoreer. Ons moes maar self die aantekeninge wat hy vir die klas stadig voorgelees het om neer te skryf (dit was voor die dae van die ‘afrolmasjien’) sommer so in die loop van sy voorlees in Afrikaans vertaal en neergeskryf. Soms ook maar krom en skeef, want die juiste woord kom nie altyd dadelik te voorskyn nie. So het ek die onderwyser se (aanvegbare) stelling dat ‘Italië die wieg (cradle) van die beskawing is’ neergepen as ‘Italië is die bababedjie van die beskawing’.

Maar om so vinnig te moet vertaal was goeie oefening in tweetaligheid. In my eerste jaar in ’n uitsluitlik Afrikaansmedium hoërskool het dit soms broekskeur gegaan want die juiste woord het my soms steeds ontwyk. En somme kon ek om die dood nie in Afrikaans bereken nie. Tot vandag toe tel ek liefs in Engels op. Ek het later in my lewe oor tweetaligheid nagevors en agtergekom dat, naas die taal waarin ’n mens jou godsdiens beoefen, jou rekentaal die mees basiese aan jou psige lê. Hierdie is die laaste twee aspekte van taal wat mense verloor as hulle byvoorbeeld met ’n kopbesering breinskade en dus sogenaamde ‘afasie’ (aphasia, of taalloosheid) opdoen.

In my hoërskooldae kom daar toe ook Duits en Latyn by. Duits het ek nie verder as standerd ses gevoer nie (kan darem nog die woorde van een of twee liedjies onthou). Maar Latyn was my kos, en daarmee saam sy geskiedkundige agtergrond: stories uit die Romeinse tydperk, al was my begrip daarvan nog taamlik vaag. Baie later in my lewe, toe ek dosent aan die Universiteit van Stellenbosch geword het, moes ek Romeinse geskiedenis as vak doseer en het die verhale uiteindelik vir my chronologiese sin begin maak, verhale wat voorheen net in my kop rondgesweef het in ’n soort antieke, tydlose mis.

My eerste werklik lewende kennismaking met die Romeinse geskiedenis was egter die heel eerste vertoning van N.P. Van Wyk Louw se toe splinternuwe historiese drama, Germanicus, toe dit in 1956 by die opening van die Bellville Stadskouburg opgevoer is. Op hul eenvoudigste beskryf, herinner die karakters in die drama aan die huidige Britse koningshuis: ’n ouerwordende vors met ’n ongewilde erfgenaam wat op sy beurt ’n jong erfgenaam met ’n charismatiese eggenote het. Maar daar steek veel méér in die drama as net interessante familieverwantskappe. Louw het op geniale wyse ’n greep uit die Romeinse geskiedenis verwerk tot ’n uitbeelding van die tydlose dilemma van die korrupsie wat inherent aan alle magsbeoefening lê. Hy verbeeld die dilemma van die aangenome kleinseun van die Romeinse kieser Augustus, die generaal Germanicus. Hy was eintlik republikeins-gesind maar moes agterkom dat die erfgenaam van ’n heerser nie anders kan nie as om die las van heerskappy op sy skouers te neem, al word hy daardeur verswelg.

Louw se meesleurende, kragtige poësie het toe maar min indruk op my sestienjarige gemoedjie gemaak, maar die verhaal het my bygebly. Ek sou eers heelwat later agterkom dis ’n verwerking van die eerste drie boekdele van die Romeinse geskiedskrywer Tacitus se relaas oor die aanvangsjare van die Romeinse keiserryk.

Later is ek Stellenbosch Universiteit toe. Engels en Latyn was my hoofvakke. Ek het vir twee jaar ook Afrikatale geloop: eers isiZoeloe en toe seSotho. By tye het die magdom van mededingende woordeskatte my klein koppie net duskant raserny laat omdraai. Maar tale het bly bekoor.

Toe gaan ek skoolhou, maar ek trou eers met Piet, ’n jong Spoorwegingenieur. In die vroeë sestigerjare was betrekkings vir getroude onderwyseresse skaars. Met my matriek-Afrikaans en my huis-tweetaligheid, begin ek my onderwysloopbaan met Afrikaans doseer aan ’n Engelsmediumskool in Port Elisabeth.

P.J Schoeman se Fanie se Veldskooldae was ’n baie gewilde leesboek by die standerd-agts (graad-tiens), maar hulle geskrewe Afrikaans was ’n pyn om na te sien. Dié Engelse bloedjies was maar net nie onderleg in skryf-Afrikaans nie. Ek het eendag lank sit en peins oor ’n standerd-sessie (graad-aggie) se vertelling oor die Port Elisabethse slangpark: ‘Die aangebore handvatsel die reptiels met strafloosheid.’ Huh? Uiteindelik breek ’n lig vir my aan. Die arme bloedjie het sorgvuldig, woordeboek in die hand, woord-vir-woord uit ’n toeriste-brosjure (wat geskryf is in die terminologie van die tyd) probeer vertaal: ‘the native handles the reptiles with impunity’.

Toe ons op Stellenbosch beland, het ek by tye by die destydse Latyndepartement afgelos as dosente met langverlof gaan. Later is ek daar vas aangestel.

In 1972 het die US Dramadepartement Germanicus weer opgevoer. Nou het Louw se treffende, meesleurende poësie my volwasse gemoed aangegryp. Hierdie Suid-Afrikaanse werk, het ek gevoel, verdien ’n internasionale gehoor, wat verryk sal word deur kennismaking met sy aangrypende Afrikaans. Intellektueles wêreldwyd mόét kan hoor en waardeer wat Louw in kragtige taal oor die probleem van magsgebruik en -misbruik sê.  En daarvoor moet die drama in Engels, tans die internasionale voertaal, vertolk word, maar ’n Engels wat reg laat geskied aan Louw se Afrikaans By die veertig jaar moes verloop voor ek hierdie droom kon verwesenlik.

Intussen het ek so dan en wan wel ander vertaalwerk aangepak. Om prosa, veral amptelike dokumente, te vertaal, is maar saai en soms pynlik. Daar poog ’n vertaler om beide die sin en woord-ekwivalensie in die teikentaal weer te gee. Maar om poësie van Engels na Afrikaans of andersom te vertaal, is ’n heerlike uitdaging. ’n Vertaler moet eerder beide die sin (betekenis) en versmaat van die brontaal na die teikentaal oordra. Dit verg aanpassing in woordkeuse en -gebruik, maar met behoud van die sin, die gedagtegang van die digter, in al sy nuanse. Al stam die twee tale beide van ’n Oud-Germaanse voorvader af, is woordklem, selfs van verwante woorde, baie anders in die twee tale. Ook het verwante woorde met byna presies dieselfde voorkoms, heel verskillende betekenisnuanse.

Die behoud van rym is eweneens ’n uitdaging. Daar is heelwat ander uitdagings. Meervoude word anders gevorm; Engelse verkleinwoorde het nie dieselfde gevoelswaarde as Afrikaanses nie; die hele gees van die twee tale is verskillend. Tog is dit is moontlik om wél ’n Afrikaanse gedig in Engels te laat sing, of andersom, al verg dit heelwat vernuf. So het ek onlangs die meesleurende Ierse liedjie Lord of the Dance as volg verafrikaans:

 

Ek’t gedans in die oggend toe die wêreld ontstaan,

En gedans in die son en die sterre en die maan,

En van die hemel afgekom

en op die aarde gedans.

By Betlehem was ’n nuwe glans.

 

Refrein

Dans dan voort waarookal jy bly;

Ek is die Heer van die Dans, sê Hy.

En waarookal  jul bly sal ek almal lei,

Ek lei julle almal in die dans, sê Hy.

 

Ek’t gedans vir geleerdes en vir Farisiërs,

Maar hulle wou nie dans en wou my leiding nie laat heers;

Toe dans Ek vir die vissers, vir Jakobus en Johannes

Toe kom hul ook na My en die dans was glad nie anders.

Ek’t op die Sabbat gedans toe Ek kreupeles genees,

Toe hoogheiliges kyk en sê dit kan nie wees!

Hulle’t My geloop en gestroop en hoog opgehang

My op ’n kruis gelaat dat die dood my vang.

Ek’t gedans op ’n Vrydag en swart was die lug;

Dis swaar om te dans met die duiwel  op jou rug;

Hulle’t my liggaam begrawe en gereken ek is klaar,

Maar Ek is die dans en Ek is altyd daar.

Hulle’t my afgehaal en Ek het hoog opgespring,

Ek is die Lewe wat vir altyd lewe bring;

Ek bly in jou as jy in My bly;

Ek is die Heer van die Dans, sê hy.

 

Vir diegene wat die oorspronklike weergawe ken, is dit miskien opvallend dat, hoewel my weergawe trag om die ritmiese vloei van die oorspronklike na te boots, daar binne sommige versreëls nie volkome ooreenstemming tussen die twee weergawes is nie, wat betref aantal lettergrepe binne daardie vers. Tog het ek die aantal klémslae (Engels ‘beats’) per vers gehandhaaf. Die probleem lê in die feit dat die prosodie (wyse waarop woorde binne ‘n sin klem dra) in die twee tale verskil. Ek het aanvaar dat enige lettergreep wat geen klem dra nie, maar as ‘ekstra’ ingevoeg kan word sonder om die sing daarvan (dit wil sê, die wysie waarop die gediggie by die melodie inpas) veel te raak. Die sanger ‘smokkel’ as ’t ware so ’n onbeklemtoonde lettergreep by die sing van die beklemtoonde een in.

Eers na my aftrede het ek Germanicus aangepak. Om Van Wyk Louw se eiesoortige, kragtige Afrikaans in Engels te vertolk, was ’n groot uitdaging. Van letterlik en woord-vir-woord vertaal kon daar geen sprake wees nie. Louw se woordeskat, woordskepping en/of skeppende aanpassings van bekende woorde was die eerste uitdaging: ‘van die aller- aller- allerfynstes’ het geword ‘of the high, and higher, highest ranks’ (Louw p. 70). Die ongewone ‘pylerig moes uitgebrei word na ‘bristling with darts’ (p. 92). Louw se ewe ongewone gebruik van kram in ‘moet kram-wees (letterlik ‘must be hooped’) word toe ‘arcs across’ (p. 73). Louw se woordspel was ’n uitdaging. My vertaling van die volgende voorbeeld handhaaf ook ’n mate van woordspel, maar  dit speel met ’n ander woordeketting binne dieselfde vers: ‘Want “sien” is nie begryp, nie “gryp”, verstaan nie’ het geword, ‘For “see” is not foresee, not “grasp”, not understand.’

Jy sukkel met die a-b-jab’ gebruik ’n haas uitgestorwe Dietse term, jab. Om die gevoelswaarde van die vers weer te gee sou die gewone ‘a-b-c’ nie deug nie.. Ek het hierdie vers toe vertaal as ‘You struggle with the a-b-z’ (p. 73), wat sal werk, of ’n Brit dit as ‘zed’ uitspreek, of ’n Amerikaner as ‘zee’. Gemeenskaplik geërfde woorde uit die Germaans het nie in alle gevalle dieselfde gevoelswaarde nie. Louw se ‘wit’ werk by ‘senatore’ nie in Engels nie. Dit het gewerk as ‘candid senators’, maar,  elders, maak ek ‘wit’, ‘pale ranks’. So ook vertaal ek ‘gemeen’ nie as ‘mean’ nie, maar wel ‘vicious’. Sy ‘wild(er)’ word, om die beurt en na gelang van konteks, ‘scared’ en tog ook elders ‘wild(er).’

Om poësie te vertaal, verg ’n aanvoeling vir toonaard, ritme, rym en klankspel. Laasgenoemde is die maklikste: ‘Dis vreemde pap wat in die potte prut’ word ‘It’s a strange porridge a-plopping in the pots’ (p. 3). Rym is nie by Germanicus ter sprake nie, ritme wél. Waar die Engelse meervoud van die gemeenskaplike Romaanse woord ‘senator’ korter is as die Afrikaanse weergawe (‘senators’ teenoor ‘senatore’, ‘gods’ teenoor ‘gode’), moet ’n sogenaamde ‘vuller-lettergreep’ gevind word. Louw se sterk ritmiese ‘O gode, hou hul daar!’ (p.2) word dan ‘Ye gods, pray keep them there!’ met behoud van die opeenvolging van drie beklemtoonde lettergrepe. Aanwysende voornaamwoorde ‘hierdie’ en ‘daardie’ word gemaklik vertaal as ‘this here,’ ‘that there.’

Die algemene opvatting is dat Engels ’n ding bondiger kan stel as Afrikaans. Nie by Louw nie. Dikwels moes ek kul met ’n ekstra (altyd onbeklemtoonde) lettergreep of selfs verskeie, in ’n vers. Soms het my Engels tog minder onbeklemtoonde lettergrepe as Louw s’n. Ook dit pla nie. Ek het gevind dat dit nie juis die ritmiese vloei van die versmaat-nabootsing wat ek wou handhaaf, geweld aandoen nie. Gevalle (van beide tipes) is:

 

          Wat hoor jy by die vure? (p.1): What d’you hear around the fires?

          Dis àl wat die groot Ryk jou gee, ou gryskop (p.1): That’s all that great Rome will offer you, old greybeard.

          Is dit teater hier? Moet ons applous gee? (p.3): Is this a theatre? And do you want applause?

          miskien’n kern, klein, byna onsigbaar (p.93): perhaps a kernel, small nearly invisible.

 

Vreemd genoeg, kom die gemeenskaplike Germaanse wortels van Afrikaanse en Engelse stelwyses soms na vore as Louw se ongewone woordorde net so vertaal word: ‘So sterf ek nie!’ (p.39) sou moet wees, ‘So die I not!’ en: ‘Ken ek hulle nie!’ (p.2) word ‘Know I them not!’. Shakespeare sou so kon geskryf het, maar sulke woordorde val tans vreemd op die Engelssprekende se oor. Moderne Engels het aanbeweeg sedert Shakespeare se dae. Dit moes word, onderskeidelik, ‘I will not die like that!’ en ‘Don’t I just know ’em!’. Die eerste geval kry twee bykomende onbeklemtoonde lettergrepe by, die tweede behou die aantal lettergrepe (vyf) maar die klem skuif na verskillende posisies binne die vers (van ‘–  – ͝    ͝   –` na ‘–  – ͝    – ͝   `).

Louw se woordgebruik is dig, met elke goedgeplaaste woord ryk aan wyd-kringende implikasies. Een van die karakters uit die derde toneel (p.39)  beskryf die held Germanicus as volg: ‘Sy vlote is gebreek teen vreemde strande / en duine, teen somber kape uitgespoel / waar voëls draai wat geen mens ken, neste maak / van stink doodsbeendere, en nagtelik skree /— ek hoor hul in my kop nog—bo die skuim / en die wit rots van Brittanje, die geheime; / ná elke trugslag kom hy heersender: / dit moet ’n god wees wat hom gryp en lei!’ Dié kragtige taal het ’n donker ritme wat oorgedra moet word. En hoe vertaal jy ‘heersender?’ Dié gedeelte het geword: ‘His fleets lay broken on those foreign strands / and dunes, washed up on sombre capes / watched over by birds that no man knows, nesting yet / on dead men’s reeking bones, and nightly screeching / I hear them shrilling in my head—above the foam / and the white rock of Britain, that secret place; / above each downfall he rises stronger: / for sure a god raised him and leads him still!’

Selfs iets so eenvoudig soos ’n verkleinwoord (en ook Louw se verontagsaming van ’n gebruiklike verkleinwoord) bied uitdagings, veral omdat ’n mens nie bywoorde in Engels kan verklein nie. In die eerste toneel vra ’n karakter: ‘Sal die Ryk / van wit hand tot wit hand fyntjies gegee word / in die senaat, soos ’n klein dobbelsteen?’ ‘Fyntjies’ kan nie ‘smally fine’ word nie—dis onsinnig. En ‘small die’ is te kort om die versreël te vul. Vandaar my poging: ‘Will the Empire / pass from one white hand delicately to the next / in the senate, like half a pair of dice?’

In ander gevalle klink hele grepe onsinnig as dit letterlik vertaal word. Louw beeld ’n struweling tussen ontevrede soldate op die koue Germaanse grens uit:

 

Hy’s nog nie moeg van klaas-wees! Elke dag

wil hy nog die sersant se rottang vreet,

vyf oulap—en sy klere, wapens, tent

en vroumensvleis daarmee betaal. Ons nie! (p.3)

 

Letterlik sou dit so moes lui: ‘He’s not yet tired of being Claus. Every day / he still wants to guzzle the sergeant’s Malacca cane / five old rags—and his clothes, weapons, tent / and womanfolk’s flesh pay with that. We not!’ ’n Vertaler moet gaan sit en mooi dink oor wat die oorspronklike eintlik sê en dan die géés, eerder as die letter, van die oorspronklike skrywer se woorde weergee. Die taalgeleerde Chomsky praat van die ‘diep betekenis’ van ’n gedagte wat in elke taal anders vergestalt word in wat hy die ‘oppervlakstruktuur’ van elke afsonderlike taal noem. Die Engelse ‘oppervlakstruktuur’ van bostaande aanhaling het toe meer verstaanbaar en gemaklik geword:

 

He’s not yet sick of daily kicks and blows.

He still goes sucking at the sergeant’s whip,

Five cents or so—and then his clothes and weapons, tent

and juicy tarts are paid. But that’s not us!

 

Soms moet mens fyn dink wat Louw bedoel. ‘Die rotsige Petra wat geen Caesars ken’ is dubbelsinnig: wie ‘ken nie’ die ander nie, die stad Petra of die Caesars? Drie verse verder kom die sleutel: die koning van Petra vra dat sy stad aan kieser Tiberius beskryf moet word, want hy was nog nie daar nie. Dus: ‘The rugged Petra that no Caesars have seen’ (p. 90). Nog dubbelsinniger was ‘Hoe’t ek jou leer vertrou? Naby die wynkan?’ Is hierdie ‘leer’ ‘teach’ of ‘learn’? Het Piso sy onderdaan geleer om hom te vertrou of andersom? Ek moes maar self besluit en het volstaan met: ‘How did I teach you my trustworthiness? Next to a wine jug?’ (p. 20).

Register, oftewel idioom, speel ook ’n rol. As ’n ou soldaat van die held sê, ‘Só praat ’n kjent van groot Agrippa net!’ (p.14) werk dit nie om te skryf: ‘A chee-ild of Agrippa talks like that’, en, hoewel dit Louw se ritme weerspieël, is die volgende omskrywing té verhewe:  ‘Thus speaks a child from great Agrippa’s loins.’ Ek moes volstaan met minder verhewe woorde wat die gees, maar nie die letter nie, van die soldatetaal naboots. “This is a child that great Agrippa’s bred!’ Dit gee die aardse idioom van die ou soldaat weer en handhaaf ook Louw se ritme.

Dit was ’n heerlike spel. Daarby kom ’n inleiding wat die geskiedkundige agtergrond van die drama uiteensit en Louw se vertolking van die historiese karakters ontleed, asook die sosiale omstandighede waarin die geskiedenis van die Romeinse generaal Germanicus ontvou het.

Met die goedgunstige verlof van NB Uitgewers van Kaapstad, wat die kopiereg op Louw se oeuvre besit, en met die aanmoediging van Louw se erfgename, het ek toe ’n uitgewer gesoek: liefs oorsee, want my hele doel met die aanpak van die vertaling was om Louw se meesterstuk aan ’n internasionale gehoor bekend te stel. Min uitgewers wil die kans waag om poësie te publiseer, want mens maak nie juis geld daaruit nie. Maar geldmaak was nie my doel nie: ek wou Louw se Germanicus aan die wêreld voorstel! Met geldelike ondersteuning  van die Navorsingsfonds van die Universiteit van Stellenbosch is die werk dus in 2013 as ’n elektroniese boek gepubliseer. Dit is verkrygbaar op die webblad van die verspreider, www.smashwords.com/books/view/314998, waar dit gratis afgelaai kan word.

Tydens die keuringsproses van ’n latere artikel van my vir LitNet, wat die agtergrond verskaf van beide Louw se skep van die drama en die Romeinse geskiedenis wat uitgebeeld word, het ek agtergekom dat sommige Afrikaanse literatore maar min van die antieke geskiedskrywing weet. Ek hoop dus dat ek deur my vertaling van Germanicus die Engelssprekende wêreld bekend gemaak het met Louw se geniale taalgebruik en diepgaande interpretasievermoë, en dat my LitNet-artikel die Afrikaanssprekende wêreld voldoende ingelig het oor sy diepgaande kennis van Latyn en sy interpretasie van (slegs vir Klassici) oorbekende historiese feite oor ’n  aangrypende greep uit die antieke belewenis.

 

Bronne:

N.P. Van Wyk Louw: Germanicus. Kaapstad en Johannesburg, Tafelberg-Uitgewers  1956 (tiende druk 1970).

Jo-Marie Claassen,  (translator and editor): N.P. Van Wyk Louw: Germanicus. London: Dragonfly eBooks, 2013: www.smashwords.com/books/view/314998

Jo-Marie Claassen, ‘ ’n Klassikus se onleding van N.P. van Wyk Louw se Germanicus as ’n beeld van mag en onmag.’ LitNet Akademies  2014 (3), 2017: https://www.litnet.co.za/n-klassikus-se-ontleding-van-n-p-van-wyk-louw-se-germanicus-n-beeld-van-mag-en-onmag/

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Jo-Marie Claassen. Oor taal en vertaling en ‘n Romeinse generaal”

  1. Ek vind hierdie essay baie waardevol en insiggewend en bedank Jo-Marie Claassen graag daarvoor. Die dele waar die werkwyse van die vertaler bespreek word, is boeiend. Elke vertaler sit met die probleem van “getrouheid” teenoor die bronteks en ‘n weergawe wat as letterkunde in die teikenteks kan funksioneer. Om byvoorbeeld die ritme van ‘n Sweedse gedig in Afrikaans weer te gee, is bykans onmoontlik. Die vertaler moet hom dus maar beroep op stylkundige faktore wat funksioneer in Afrikaans en dus vergoed vir wat verlore gaan in die vertaling.

    Die boek wat “Germanicus” se vertaling na Engels bevat, is ook besonder nuttig. Ek het dit afgelaai en werk nou daar deur. Dit is nie net die vertaling wat van waarde is nie, maar ook die bespreking en agtergrond wat gebied word oor die basiese gegewe. Hierdie boek verdien om permanent voorgeskryf te wees vir studente van die Afrikaanse lettrkunde.