(12)
Persië was bekend vir lekker wyn
en vir Khajjam se pittige kwatryn –
met ‘n kombinasie van dié twee
oorleef ons die knellendste kwarantyn.
*
(13)
Khajjam het die vromes verbaas
met lofliedere op shiraz –
hy was ’n digter van die woesteny
wat verlang na ’n wingerdplaas.
*
(14)
Terwyl die virus tussen ons rondsluip
en in liggame gis soos in ’n kuip
is daar maar één raad vir kwarantyn:
om in ’n wynkelder te gaan wegkruip.
© Daniel Hugo, 2021

