Mariëtte van Graan. Die spoke loop in die verse

 

Die spoke loop in die verse

Mariëtte van Graan (vgraam@unisa.ac.za)

 

Ek ken my spookstories. In my nagraadse studies het ek diep gedelf in die literêre skatkis van tradisionele Afrikaanse spookstories in kortverhale en die komplekse spookkarakters in meer onlangse romans. Weens die streng fokus van sulke studies moes ek helaas die poësie op die kantlyn laat, maar die spoke wat deur ons verse wandel het my nie ongesiens verbygegaan nie. Die voorkoms van spoke – wat ek hier kortliks as die teenwoordige bewussyn of stem van ʼn afgestorwe menslike karakter sal definieer – is meer algemeen in die Afrikaanse poësie as wat ons aldag besef, en word veral in die ouer Afrikaanse literêre versamelings meer algemeen en meer gevarieerd aangetref as vandag. Hierin lê reeds ʼn ooreenkoms tussen die tradisionele Afrikaanse spookstories in kortverhaalvorm en die Afrikaanse spookvers: ons skryf nie meer vandag so baie oor spoke nie.

Spookstories word maklik vlak gekyk as ‘ontspanningsliteratuur’, as stories vol vermaak, skrik en selfs grappe, maar sonder veel literêre substansie. Dit is ʼn siening waarteen ek sterk gekant is. Alle genres en subgenres van die letterkunde kom uiteraard in verskeie grade van ‘literêre substansie’ en het hul goeie en minder goeie skrywers. Ek voer nie aan dat elke teks wat ʼn spookkarakter bevat op grond daarvan as hoogs literêr beskou moet word nie. Maar onderliggend aan die spookstorie – skrikwekkend of komies – vloei diep strome van hartseer, verlies, begeerte, onvoltooidheid, verwondering, vrees en verskrikking. En die ewig onbeantwoordbare vraag: Wat gebeur met ons nadat ons sterf?

Alhoewel die spookvers nie pertinent daarop gemik is om hierdie vraag te beantwoord nie, bied dit ʼn blik op ons beskouings van die hiernamaals en die moontlike weergawes wat ʼn lewe na die dood kan aanneem binne ons begrip daarvan. Hierdie begrip van die dood en die hiernamaals is nou verbonde aan kulturele en religieuse oortuigings van die individu sowel as die groep waaraan die individu hom- of haarself verbind of aan verbonde is. Vir tyd en wyl sal ek die spookvers tentatief definieer as ʼn narratiewe gedig waarin spoke aan lewende karakters verskyn, verse waarin ʼn oorlede figuur as ʼn bewuste entiteit optree of beskryf word, en verse waarin die spookfiguur as spreker optree.

Verse waarin die doodsoomblik of oorgangsoomblik deur ʼn toeskouer daarvan beskryf word, word dus hier buite rekening gelaat. Een voorbeeld van so ʼn gedig is P.W. Buys (1998:39) se ‘Middernag’: “Om middernag het hy sy oë oopgemaak / en uit sy skraal gesig het sterfbedhelderheid gestraal / asof ʼn lig meteens diep in hom brand.” Soortgelyk is Marlise Joubert (2019:54) se beskouing van die doodsoomblik vanuit ʼn lewende se perspektief in die gedig ‘so is die dood’:

 

 vir die een poeierlig

ʼn god se goue hemel in

 

vir ʼn ander net

ʼn graf met koue klip

 

vir die een is dit

ʼn terugkoms as kat of duif

 

vir die ander ʼn korrel sand

ná ʼn laaste asemteug […]

 

so is die dood: vallende water

wat ʼn leeftyd se uitgeskilde

spoelklip doof

 

Spookverse is moeilik (of eerder, arbeidsintensief) om op te spoor. Hulle is van nature minder sigbaar, en moet fyn uitgesoek word op die ou manier: lees self al die bundels deur. ʼn Soektog deur bundeltitels, inhoudsopgawes, databasisse en soekenjins gaan min gedigte met die woord ‘spook’ in die titel of inhoud oplewer. Rosa Keet se bundel Spookstories (1988) sal wel vinnig opduik. Hierdie vierde bundel van Keet, wat Kannemeyer (2005:740) as haar beste bestempel, gaan nie met die spook as karakter/figuur of die narratief van die spook om soos wat ek dit in hierdie stuk beskou en behandel nie. Die bundeltitel en gediginhoud illustreer wel die buigbaarheid in die algemene gebruik van woorde soos ‘spook’ en ‘spookstorie’. Een algemene gebruik van sulke terminologie is verwysing na enige iets wat ons bybly – die verlede spook by ons, ons foute spook by ons, iemand se woorde spook by ons, ou liefdes spook by ons. Lees byvoorbeeld Juanita Louw se gedig ‘Spook’, waarin die woordeskat van spookstories gebruik word om die herinneringe van ʼn verhouding wat doodgeloop het, te beskryf, hier; of oorweeg Danie Marais se beskrywing in ‘As ek deur geslote ooglede onthou’ (2006:96): “Jy was op daardie oomblik / die eensaamste figuur / wat ek nog in my lewe gesien het. / Maar dit was nie jy nie, / dit was ʼn spook.

Keet se Spookstories is eerder ʼn digbundel waarin “die mitologiese […] soos ’n skim of spook die geskiedenis vergesel” (Anon, 2020) as narratiewe spookverse soos wat ek dit hier beskou. Verder word die spook in Keet se bundel in die domein van mitologiese monsters geplaas, eerder as die meer algemeen verwagte domein van bonatuurlike verskynsels, wat hier die gees van ʼn afgestorwe persoon sou wees. In die eerste vier gedigte, ‘Luggees’, ‘Vuurgees’, ‘Watergees’ en ‘Aardgees’ word genoemde gese verbind aan spoke. In ʼn meer letterlike sin, soos in die sogenaamde ‘paranormale wetenskap’[i], sal hierdie verbinding eerder as ʼn vermenging of verwarring van verskillende bonatuurlike verskynsels beskou word, al gebruik Keet bewoording wat sterk aan die spookstorie herinner: “Moenie sê dat ek jou nie gewaarsku het nie … / dit spook hier” (Keet, 1988:6). Een gedig in Keet se Spookstories wat wel uitstaan as die tipe spookvers wat ek hier wil bespreek, is ‘Grondbegrip’ (1988:46):

 

Gedagtig aan die feit

dat hy op gevaarlike grond beweeg

dat hy uit die aard van die saak

reeds grond geëet het

(die gees gegee het)

gedagtig aan die feit

dat hy geen grond onder sy voete het nie

omdat hy aardig begrawe lê

(of dat dooies nie kan doodgaan nie)

staan hy in die spookuur op

 

en noem dit hemelvaart.

 

Ek betrek nie hier die elegiese vers of funerêre poësie nie omdat die oorledene nie self as ʼn teenwoordige spookkarakter of figuur in sulke verse verskyn nie; en ook omdat sulke verse die fokus plaas op ʼn oorlewende se perspektief op en verwerking van die dood (gewoonlik met betrekking tot ʼn spesifieke oorlede persoon). Mens sou wel miskien ʼn subkategorie van die spookvers kon uitkerf vir gedigte waarin die digter/spreker gesprek voer met die oorledene of sy/haar verbeelde stem van die oorledene.

Gedigte soos Keet se ‘Grondbegrip’ beskryf die oorgangsoomblikke tussen lewe en dood en die hiernamaals vanuit die afgestorwene karakter se perspektief en vestig sodoende die figuur as ʼn spookkarakter. Sulke gedigte spreek direk tot die vraag van die hiernamaals: wat is dit? Hemel, hel, Valhalla, Svarga Loka, Hades, Elysium, of watter een van die derduisende onderwêrelde, bo-wêrelde, parallelle wêrelde of tussen-in wêrelde dan? Of miskien, net niks? Het die dooie ʼn keuse in waarheen hy/sy gaan? Enige laaste woorde aan die lewendes, miskien?

Die doodsoomblik is ʼn drumpel wat oorgesteek word, en die spook as figuur of karakter is by uitstek ʼn liminale figuur: vasgevang tussen lewe en dood – die dooies kan nie doodgaan nie, en die dooies wat voortleef leef tog nie – en ook tussen die veronderstelde aparte wêrelde of sfere van die dooies en die lewendes. Hulle is ook in ʼn liminale tydsruimte; ʼn persoon wat in 1821 gesterf en ook in 2021 ‘teenwoordig’ is, is terselfdertyd vasgevang in tyd én buite tyd. Hierdie achronologie is kenmerkend van spookkarakters en spookstories. Die spook kan vanuit hierdie liminale sones van die dood kommentaar en kritiek lewer op die aardse bekommernisse en beslommernisse, soos in T.T. Cloete (1998:8) se ‘klinies dooie getuig’:

 

“ek was dood, met die roos

was ek in die tuin van die hemel.

daar was engele wat bloos.”

 

“… dus was die kleur van hulle vel…?”

 

“dis iets vir die hel…

die hemel is kleurloos.”

 

Die spreker in Cloete se gedig kan as ʼn teruggekeerde spook beskou word; iemand wat die grens tussen lewe en dood oorgesteek het én teruggekeer het. Daar is waarskynlik hier ook ʼn subkategorie van die spookvers te vinde: gedigte waarin die spook terugkeer en verslag lewer oor die hiernamaals. In hierdie spesifieke voorbeeld spreek die spook dan juis die onsinnigheid van die lewendes se sosiale norme aan.

Alle spookverse het nie so ʼn ernstige trant nie. Op hierdie stadium sou ek myself verstout om te sê dat daar veral in die ouer Afrikaanse tekste kenmerkend ʼn meer komiese inslag gesien word, wat vermeng word met ʼn rasionele blik op spookstories en besinning oor die groot vrae rondom spokery. In kortverhale is sulke narratiewe meesterlik tot uiting gebring deur skrywers soos C.J. Langenhoven en Eugène N. Marais. Langenhoven se komiese oplossings vir en rasionele besinnings oor spokery in kortverhale soos ‘Die twee professore’ (1924), ‘My spook-ontmoeting’ (1929) en ‘Die spook van Vergeleë’ (1930) reik veel dieper as (ont)spanningsverhale wat bloot ʼn skrik uit die leser probeer kry. Dieselfde kan gesê word van Marais se diep bepeinsings oor die aard van die werklikheid en die dooies in verhale soos dié wat opgeneem is in Die huis van die Vier Winde (1933).

Komiese spooknarratiewe met ʼn raps filosofie en bepeinsings loop ver terug in Afrikaanse narratiewe verse, en sluit ook aan by die universele tendens in folklore en stories wat om die vuur vertel word om ʼn morele of religieuse les in ʼn storie in te werk. F.W. Reitz se narratiewe gedig ‘Klaas Geswint en zyn paert’ (1870), oftewel ‘Klaas Geswind en sy perd’ soos dit in die Groot Verseboek 2000 gespel word, is die eerste gedig in die Groot Verseboek, een van die oudste gepubliseerde Afrikaanse spookverse en ook een van die oudste gepubliseerde Afrikaanse spookstories naas Reenen van Reenen se kortverhaalbundel Celestine en ander spookstories (1919) en F.W. Boonzaaier se dramateks Die spook van Verlatenfontein: Die eerste Afrikaanse grilstuk (1933).

Reitz se komiese vertelling (lees die volle gedig hier), is sterk beïnvloed deur Robert Burns se Skots-Engelse gedig ‘Tam O’Shanter’ (1791, lees die volle gedig hier), ʼn klassieke voorbeeld van die morele volksverhaal wat ewe komies as grusaam is. Burns se narratief sien die lawwe Tam O’Shanter wat nie na sy vrou luister nie en haar voortdurende bekommernis en sorge veroorsaak. Tam drink te veel saam met sy maters (veral op markdae) en tree onverantwoordelik op. En dan, een laat nag op sy slingerende pad huis toe in ʼn besonders beskonke toestand, kom hy die duiwel, ʼn paar hekse, ʼn hele rits spoke en ander bonatuurlike karakters teë wat besig is met hulle eie feesvieringe. Ten spyte van die grusame toneel wat hy aanskou, kan Tam homself nie keer om die gevaarlike karakters se danspassies luidkeels te komplimenteer nie, waarna hy natuurlik moet laat spaander wanneer die hel hom agternasit. Hy word deur sy brawe merrie, Meg, tot by die veiligheid van die naaste rivierbrug gedra, ten koste van haar eie stert.

Reitz vertel ʼn sterk ooreenstemmende spookstorie, plaas ʼn soortgelyke lawwe manlikheid in die karakter van Klaas Geswind, betrek soortgelyke maatskaplike kwessies soos die misbruik van alkohol, onverantwoordelike geldbesteding en die eggenoot se minagting van sy vrou se bekommernisse en versoeke, maar haal die hekse en ʼn verskeidenheid ander ongure wesens uit die narratief uit en laat Klaas slegs teenoor die duiwel en veertig spoke in die begraafplaas te staan kom:

 

[…]

Jammer dat mans so selde hoor,

As hulle frouens fer hul knor;

Dit is mar so: “Hul kan mar praat,

Ons luister tog ni na hul raad.”

Dat dit so is het Klaas Geswind

Een donker nag ook uitgefind,

Hy’t lelik in die knyp geraak,

Toen hy terug ry fan di Braak […]

 

Di drank is tog ʼn snaakse goed;

Hy gé die bangste kêrel moed […]

Steek hy maar net ʼn dop of dri,

Dan stuit hy fer gen duiwel ni.

 

Maar Klaas het daarom naar gelyk,

Toen hy daar in di kerkhof kyk:

Syn bloed het wonderlik gekook,

Toen hy gewaar hoe dit daar spook.

Daar speul die duiwel op ʼn tromp,

Fer feertig spoke in ʼn klomp:

Hul dans daar rond, dat dit so gons,

Gen ouderwetse kottiljons […]

 

Die goed was byna poedel kaal,

En kyk, die frouens was te skraal,

Maar een daarfan, ʼn bitji dikker,

Maak een so ʼn uitgehaalde flikker,

Dat Klaas, plaas fan syn bek te hou,

Skré: “Arri! Dit was fluks van jou.”

 

Soos hy dit seg, toen moet hy ja,

Die heel boel sit hom agterna;

“Kol” loop nou dat di stof so staan,

Anders is Klaas fanaand gedaan. […]

 

“Toe, Kol, die duiwel sny jou spoor.”

Hiir leg di Drif: “hiert!” sy’s daaroer,

Haar stert het hul glad uitgeruk;

Mar Klaas is los, dis syn geluk.

 

Fer di wat lus het om te draai,

Wil ek maar net een woordji raai:

Gedenk an Klaas Geswind syn perd,

En fraag jou self: waar is haar stert?

 

Soos wat Tam O’Shanter onder die Skotte voortleef (daar is selfs ʼn jaarlikse fees, Tamfest, in die dorpie Ayr sedert 2015; dit word beskryf as “one of Britain’s largest festivals dedicated to a fictional character” (Anon, 2021)), leef Klaas Geswind ook voort in die Afrikaanse kollektiewe geheue. Gian Groen en Spinnekop sing ‘Soos Klaas Geswind’ op die 2002 album Groenkitaar (lees die lirieke hier); Steve Hofmeyr het ʼn aanhaling uit die gedig getwiet in 2013 (sien die twiet hier) en Jean Meiring betrek die gedig in hierdie meningstuk oor die gebruik van Afrikaans as die duiwel se taal in die Amerikaanse televisiereeks Lucifer.

Dit is vanselfsprekend dat heelwat van hierdie ouer narratiewe spookverse in ʼn begraafplaas plaasvind, en derhalwe ook as kerkhofpoësie beskou sou kon word. Daar is ʼn noue verband tussen kerkhofpoësie en die elegie of lykdig. Taljaard-Gilson (2017) beskryf die kerkhofgedig as “’n soort elegie wat onder funerêre poësie ressorteer, sodat die kerkhofgedig en ‘gewone’ elegie heelparty kenmerke gemeen het”, en noem die begraafplaas ʼn “sfeerbepalende element”. Alhoewel die kerkhofgedig tematiek soos die dood, die lyk, fassinasie met die dood, en besinning oor die hiernamaals behels, word spookkarakters of spookfigure nie pertinent as ʼn kenmerk gereken nie. Hierdie kategorisering plaas dus die klem op die ruimte en elegiese aard van die gedig, terwyl ek die klem wil plaas op die spookkarakter in die narratiewe vers. Lees gerus Taljaard-Gilson se insiggewende artikel oor Afrikaanse kerkhofpoësie hier.

Sommige spookverse is gruwelik in hul beskrywing van die spook, en draai nie doekies om oor die grusaamheid van die spookkarakter se agtergrondstorie of bose bedoelings nie. ʼn Welbekende voorbeeld hiervan is ‘Die ruiter van Skimmelperdpan’ (1930) deur A.G. Visser:

 

Op die pad wat verdwyn in die Skimmelperdpan,

By ʼn draai in die mond van die kloof,

Het ʼn bom in die oorlog ʼn vlugtende man

Op ʼn perd soos ʼn swaardslag onthoof.

 

Aan die saalboom krampagtig die hande verstyf,

Met ʼn laaste stuiptrekkende krag,

En die bene geklem soos ʼn skroef om sy lyf,

Op die perd sit die grusame vrag.

 

Met sy neusgate wyd en die ore op sy nek,

Soos die wind yl verbysterd die dier,

Met die skuim in wit vlokke wat waai uit sy bek,

En gespan soos ʼn draad elke spier;

 

By die huisie verby waar ʼn vrou staan en kyk …

In die afkop ding ken sy haar man …

Met ʼn onaardse gil val sy bleek soos ʼn lyk …

Perd en ruiter verdwyn in die Pan!

 

Wee die reisiger wat daar onwetend kom skuil

Waar bouvallig die huisie nog staan,

En vreesagtig by wyle ʼn nagdiertjie huil

By die newelige lig van die maan!

 

Want by middernag waai daar ʼn wind deur die kloof,

Waai en huil soos ʼn kindjie wat kerm,

En dan jaag daar ʼn perd met ʼn man sonder hoof

Wie dit sien, roep verskrik: ‘Heer, ontferm!’

 

Want die vuurvonke spat waar die hoefslae dreun,

En dit vlam uit sy neus en sy oog;

Styf en stram sit die ruiter na vore geleun,

En die bloed uit sy nek spuit ʼn boog;

 

En dan eensklaps vanuit die vervalle gebou

Kom ʼn vreeslike skrikbeeld gevaar,

Al die hare orent – ʼn waansinnige vrou

Met ʼn hande-verwringend gebaar:

 

‘Waarom rus jy nie, Jan van der Meer?

Waarom jaag jy my elke nag op?

Sal daar nimmer ʼn einde kom … maar altyd weer

Die galop … die galop … die galop?!’

 

Die afgryslike klank – nòg gehuil nòg gelag –

En die perd met die romp van ʼn man …!

Dis geen plek vir ʼn Christenmens daar in die nag

Langs die pad na Skimmelperdpan!

 

Beide die narratief en die sterk visuele beelde wat Visser hier skep sal vandag nog heel gepas wees vir ʼn Hollywood gruwelfilm, of ʼn nuwe episode van Die Spreeus (as KykNet maar tog net nog ʼn reeks van hierdie lekker ruggraatrittelende, SAFTA-verowerende Afrikaanse gruwelreeks wil laat maak… ʼn vrou kan hoop). Die afkop perderuiter is ʼn bekende tipe (trope) in die spookstorie. Verder bevat hierdie gedig heelwat kerneienskappe van die tradisionele Afrikaanse spookstorie: ʼn skielike, grusame dood, onafgehandelde sake of ʼn strafmotief (wat is dit tog wat Jan van der Meer uit sy rus uit hou?), ʼn spookkarakter (eintlik twee) wat terugkeer uit die dood en erken word as ʼn spesifieke oorledene, die spookkarakter wat ʼn spesifieke handeling oneindiglik herhaal sonder duidelike rede, en gestrande reisigers wat onvermydelik ʼn bonatuurlike ervaring tegemoetloop wanneer hulle in die nag in die rigting van Skimmelperdpan reis.

Sommige spookstories, en daarom sommige spookverse, toon ook ooreenkomste met die misdaadriller of speurverhaal, spesifiek in die sin dat die oorledene se moordenaar in die narratief gesoek word terwyl die oorledene as ʼn spookkarakter oor die leser en die speurder in die verhaal se skouer loer. Dink byvoorbeeld aan romans soos The lovely bones (2002) van Alice Sebold, of Die stoetmeester (1993) deur Etienne van Heerden. ‘Rietfontein’ (1937) deur I.D. du Plessis sou in hierdie kategorie geplaas kan word. Die gedig vertel ʼn sombere tradisionele spookstorie: ʼn verliefde paartjie wat deur ʼn onbekende, vreemde figuur vermoor is en steeds op maanverligte nagte hul doodsoomblikke oor en oor uitspeel (lees die volle gedig hier, of luister na Gerald Clark se toonsetting van die gedig hier):

 

[…]

By Rietfontein se leidam, as die reiers staan en droom

En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel in die stroom,

Word op maanverligte nagte nog ʼn sombere tafereel

Van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel

 

Bloed in die water

En bloed in die laan.

Wie is dit wat daar so

Skuldbewus gaan?

Vormlose skaduwees

Kruip oor die maan;

Bloed in die water

En bloed in die laan.

 

Ander narratiewe spookverse beskryf die spook se hartseer bestaan vanuit ʼn lewende se perspektief. Alhoewel die perspektief van ʼn lewende as spreker in die gedig en die elegiese kerkhofgedig vroeër in hierdie essay nie as behorend tot my voorgestelde spookvers-kategorie ingesluit is nie, gaan dit in ʼn gedig soos ‘Die spoke’ van C. Louis Leipoldt (1923) tog nie oor ʼn verbeelde gesprek tussen ʼn lewende en ʼn dooie nie, maar oor ʼn lewende se empatiese verbeelding van die ervaring van die oorledenes. Die gedig skep ʼn beeld van vereensaming, versugting en verlange aan die ander kant van die dood (lees die volle gedig hier):

 

By nag, as die liggies alleen in die lug

hul wag oor die wêreld hou […]

 

Dan wandel die spoke die wêreld in

En soek hul verlore rus […]

 

En kerm en kreun teen die sware las

Waaronder die spoke ly […]

 

Met oë wat nooit geen mens kan sien,

Wat nooit geen mens bespeur,

Verdof deur die trane wat spoke ween

Wat lank in die spookland treur,

Met ʼn waas rondom van ʼn ander land

Wat ruik soos blommegeur,

 

Kom elke spook die wêreld in

By die lig van die lae maan.

En probeer te praat met die mense hier,

Waar niemand die taal verstaan

Van die afgeleefde lewenstyd,

Al eeuelank vergaan […]

 

Soos ek aan die begin gesê het, lê die hart van die spookstorie en die spookvers in die diep onderstrome van sterk emosies en universele versugtinge. ʼn Laaste subkategorie van die spookvers wat ek hier wil uitlig, is die liefdesgedig. Die liefde in letterkunde kan tog alles oorwin, en selfs oor die grense van die dood strek. Daar is min gedigte wat die versugting na verlore geliefdes agter die sluiers van die dood verwoord met die deernis te vinde in N.P. van Wyk Louw (1936) se ‘Gesprek van die dooie siele’ (wat ek hier volledig aanhaal omdat ek, vreemd genoeg, nie nou die volle weergawe aanlyn kan vind nie):

 

‘Kan jy my woorde, liefste, hoor,

of iets die blanke stilte stoor

waardeur ons siele eensaam gaan,

veryl soos wolkies voor die maan –

kan jy, kan jy my woorde hoor?’

 

‘Weet ek dat dit jou woorde is,

en nie die bitter heugenis

wat uit my eie hart nog spreek;

weet ek dat wat die vlak hier breek,

die rimpeling van jou woorde is?’

 

‘Uit hierdie diepste eensaamheid

verlang ek nog na sekerheid,

dat al ons liefde nie verwaai

soos stoffies wat die winde saai

uit in die sterre-eensaamheid.’

 

‘Hier in een ongebroke glans

in my eenselwigheid verskans,

en alle bron van fluistering

wel uit die diepste en laaste kring

van eie waterheldere glans.’

 

‘O wink deur hierdie droefenis

waarin my siel verwilder is,

oor alle afgrond wat ons skei,

ʼn teken dat daar iets nog bly

tot smettelose gedagtenis.’

 

‘Tot alle eindes uitgestraal,

waar vreemde laaste sterre dwaal,

is elk in God so uitgestort

dat hier geen smart tot teken word

waar elk deur alle dinge straal.’

 

‘Ek sal die vlammegrens oorskry

wat my nou van jou wese skei,

deur alle duister sal ek tas

tot ek jou bloedwarm voel en vas

en indrink soos ʼn drank in my.’

 

‘ʼn Vreemde vlam van woorde klim,

ʼn verre bewing, bo die kim

van hierdie blanke stil bestaan,

waar ek my grote Godsweg gaan

verlore tussen lug en kim.’

 

Ek sluit af met hierdie gedig juis omdat dit nie deur almal as ʼn spookvers beskou sal word nie. Die sprekerfiguur in Van Wyk Louw se 1935 debuutbundel Alleenspraak (waarin ‘Gesprek van die dooie siele’ voorkom) word oor die algemeen metafories beskou en bespreek as ʼn vereensaamde ‘ek-figuur’ wat worstel met allerlei dinge van eensaamheid tot skoonheid. Ek kon tot op hede nie ʼn artikel of verhandeling of tesis opspoor waarin hierdie gedig bespreek word met gebruik van die woord ‘spook’ nie. Maar vir my is die titel ‘Gesprek van die dooie siele’ – vergeef die Engels – ʼn dead giveaway. Of verbeel ek my dat ek spoke in hierdie gedig sien?

Ons skryf en dig deesdae minder en selde direk of spesifiek oor spoke in Afrikaans. Ons noem hulle enige iets behalwe spoke. Hulle word newelagtig, skimme, stemme, verbeeldes, versugtinge, al hoe meer bloot metafoor. Ons kry bitter min nuwe spookstorie-kortverhaalbundels, en romans wat spookkarakters bevat neig om meer intellektueel of teoreties met die spook om te gaan deur byvoorbeeld die spookkarakter in literêre genres soos die magiese realisme te plaas. Nie dat dit ʼn slegte tendens is nie – inteendeel. Dit sluit aan by die geneigdheid van die gruwelgenre en die Gotiek, waaraan die spookstorie nou verwant is, se inherente aanpasbaarheid, wat die rede is waarom spookstories ons bybly.

ʼn Diachroniese beskouing van die Afrikaanse spookstorie en die spookvers sal beslis baie interessanthede oplewer. Kyk byvoorbeeld na die verskil in aanslag, toon en tegniek tussen Reitz se ‘Klaas Geswind en syn perd’ (1870), Visser se ‘Die ruiter van Skimmelperdpan’ (1930) en Van Wyk Louw se ‘Gesprek van die dooie siele’ (1936), teenoor meer onlangse voorbeelde soos Keet se ‘Grondbeginsel’ (1988), Louw se ‘Spook’ (2016) of Hennie Meyer (2020:68-71) se ‘Soos dood’ waarin die spook bloot metafoor word. Die dertigers se beheptheid met en klem op die vooruitgang van Die Taal het nie net vooruitgang en groei tot gevolg gehad nie, maar ook sekere tipes literatuur – soos die lekker ligsinnige, skrikkerige, snaakse spookstorie – probeer afskud. Dié moes ook nou met erns benader word, indien enigsins aan geraak word. Kortom, spookstories was ligte vermaak vir massas maar nie letterkunde nie. Die tendens was nie net in die poësie nie, die Afrikaanse prosa het ook hieronder gedy én gely: die tradisionele, klassieke Afrikaanse spookstorie in kortverhaalvorm het ʼn stille amper-dood gesterf. Hierdie was uiteraard nie veranderinge wat oornag geskied het of amptelik voorgeskryf is nie. Daar was steeds nuwe spookstories en spookverse, hulle was net stiller en minder sigbaar. Die sestigers het hul eie ommeswaai in die aard van Afrikaanse letterkunde kom loop gooi: weg met die tradisionele, in met die eksperimentele en die gewaagde en veral met letterkunde wat ʼn politieke standpunt inneem. Maar hulle het nie die spook spesifiek opgeroep vir politieke diensplig nie. Lateraan, met die Sataniese Manie (Satanic Panic) van die 1990’s, die gepaardgaande religieuse propaganda en Donker Jonker se polisie-eenheid en skooltoesprake is alles ‘bonatuurlik’ ook in dieselfde kamp gejaag: dis reguit van die Christelike duiwel af en moet vermy en vermorsel word voor dit jou hel toe kan sleep. Ek moet hier bieg dat my kennis van meer onlangse spookverse nog te beroerd is om uitsprake te waag oor die Afrikaanse spookvers soos dit vandag staan.

Spookstories, wat diep in Afrikaanse letterkunde tradisie, folklore en kulturele bygelowe lê, staan vandag nog in ʼn vreemde dissonansie met hierdie kontrasterende leringe: aan die een kant ‘bestaan sulke dinge nie, dit is onbybels’; aan die ander kant word ook steeds geglo in mense wat met die helm gebore is, die spook wat by die skuur op oom Jan se plaas loop, die meisie wat duimgooi net duskant Uniondale, Van Noodt wat nou nog die Kasteel bewandel en Antjie Somers wat die stout kinders gaan kom vat.

Ek verkort en veralgemeen nou erg oor die dertigers, die sestigers, die Sataniese Manie, die vreemde kognitiewe dissonansie tussen religie en bygelowe, sowel as oor die aard en voorkoms van Afrikaanse spookstories en spookverse. Maar dit is hieruit tog duidelik dat ʼn diachroniese studie van spookverse wat die spookvers binne die historiese sosio-maatskaplike historiese konteks plaas, groot interessanthede kan oplewer. Hoe en hoekom het ons beskouing en letterkundige uitbeelding van die spook oor tyd heen verander? Een verandering wat reeds uitstaan is die visuele uitbeelding van die spookkarakter: in die ouer verse soos ‘Klaas Geswind en syn paard’ en ‘Die ruiter van Skimmelperdpan’ is die spookkarakter oor die algemeen ʼn liggaamlike (corporeal) wese, ʼn fisies tasbare liggaam, soms ʼn verrottende, gemutileerde liggaam of net ʼn wandelende geraamte. In ander gedigte soos Leipoldt se ‘Die spoke’ en ander gedigte word die spook al hoe meer ontliggaam (non corporeal), ʼn ontasbare entiteit wat uit die liggaam trek na die liggaamlike dood. Waarom word ons spoke al hoe meer ontasbaar? Of, soos Loftus Marais (2008:39) die vraag stel in ‘Siel’, “Hoekom dink almal die siel is inwendig? / verborge soos jou beendere, maar kleiner / soos ʼn klier of ʼn juweel / of ʼn teug helder lug vir ewig ingehou…”.

Ek oorbeklemtoon ook die skyndood van die spookstorie. Soos dit met die gruwelgenre oor die algemeen gaan, is daar elke dan en wan ʼn oplewing in die gewildheid daarvan – iets wat ons tans weer sien gebeur. Afrikaanse jeugliteratuur wemel van die spookstories. (Ek wonder altyd wat jong lesers met ʼn liefde vir ʼn hierdie soort stories dan nou moet lees wanneer hulle ouer word.) In ʼn afgeronde navorsingstuk sal dié kwessies heelwat deegliker en duidelik uitgestip word.

In hierdie essay het ek enkele van my gunsteling spookverse by die naam geroep en kortliks bespreek. Ek is deeglik bewus daarvan dat daar heelwat spookverse is wat nie in hierdie essay genoem is nie, wat nog nie onder my oog verbygeloop het nie, en dat daar talle ander besprekingspunte rondom dié tipe verse is wat nie in hierdie essay aangeraak is nie. Wat van al die toonsettings? Sal ons Anton Goosen se ‘Blommetjie gedenk aan my’ en ander spooklirieke ook hier bywerk? Sal ons die folklore en die poësie in diepte vergelyk? Daar is so baie aspekte van die Afrikaanse spook wat nog na behore ontgin moet word.

 Met die oog op ʼn langtermyn navorsingsprojek om ʼn deeglike, omvattende artikel (of ʼn reeks artikels, of miskien selfs eendag ʼn boek wat ook folklore, kortverhale, dramas, romans, films en televisiereekse insluit) oor Afrikaanse spoke van toeka tot nou te lewer, sal dit gaaf wees as julle my in die kommentare bombardeer met nog spookverse en besprekingspunte wat hierby ingesluit kan word.

Hoe meer siele, hoe meer vreugde.

 

 

Bronnelys

AllTheLyrics. [s.a.]. ‘Soos Klaas Geswind Lyrics’. Aanlyn: https://www.allthelyrics.com/lyrics/gian_groen/soos_klaas_geswind-lyrics-1247247.html

Anon. 2021.Tam O’Shanter (poem). Aanlyn: https://en.wikipedia.org/wiki/Tam_o%27_Shanter_(poem)

Anon. 2020. Rosa Keet. Aanlyn: https://af.wikipedia.org/wiki/Rosa_Keet#cite_note-18

Botha, D. (samest.). 2000. Die beste spookstories van C.J. Langenhoven. Kaapstad: Tafelberg.

Burns, R. 1791. ‘Tam O’Shanter’. Aanlyn beskikbaar: http://www.gutenberg.org/files/1279/1279-h/1279-h.htm#link2H_4_0316

Buys, P.W. 1998. Middernag’. In: Van sigbare en onsigbare dinge. Kaapstad: Tafelberg, p. 39.

Clark, G. 2009. ‘Rietfontein se leidam’. Op: Sweepslag. Mozi Records, Suid-Afrika. Musiekvideo aanlyn: https://www.youtube.com/watch?v=Vqq-fmpeuaY&ab_channel=SeanElse

Cloete, T.T. 1998. ‘klinies dooie getuig’. In: Uit die hoek van my oog. Kaapstad: Tafelberg, p. 8.

Du Plessis, I.D. 1937. ‘Rietfontein’. In: Brink, A.P. (samest.). Groot Verseboek 2000. 2000. Kaapstad: Tafelberg, p.101-102. Ook aanlyn beskikbaar: http://gesellig.co.za/t/14025-%22_Rietfontein_%22__deur__I.D._du__PLESSIS/

Joubert, M. 2019. ‘so is die dood’. In: Grondwater. Pretoria: Protea Boekehuis, p. 54.

Kannemeyer, J.C. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Kaapstad: Human & Rousseau.

Keet, R. 1988. Spookstories. Kaapstad: Human & Rousseau.

Leipoldt, C.L. 1923. ‘Die spoke’. In: Versamelde gedigte. 1980. Kaapstad: Tafelberg. Aanlyn: https://www.dbnl.org/tekst/leip001vers01_01/leip001vers01_01_0144.php

Louw, J. 2016. ‘Spook’. In: In die grot van die sibille. Kaapstad: Queillerie. Ook aanlyn beskikbaar: https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/gedig-spook/?fbclid=IwAR3ERw6b-t_EvLmtLrHyxFBW0DGKupNSx-rVrNLvVbrjJiPz8MZm0uKaZKY

Louw, N.P. Van Wyk. 1936. ‘Gesprek van die dooie siele’. In: Versamelde gedigte. 1981. Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau, p.12-13. Ook aanlyn beskikbaar:

Meiring, J. 2019. Natuurlik sal die duiwel Afrikaans praat. Netwerk24, 13 Mei. Aanlyn: https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/natuurlik-sal-die-duiwel-afrikaans-praat-20190513#loggedin

Marais, D. 2006. ‘As ek deur geslote ooglede onthou’. In: in die buitenste ruimte. Kaapstad: Tafelberg, p.93-96.

Marais, E.N. 1933. Die huis van die vier winde. Pretoria: J.L. van Schaik.

Marais, L. 2008. ‘siel’. In: Staan in die algemeen nader aan vensters. Kaapstad: Tafelberg: p. 39.

Meyer, H. 2020. ‘Soos dood’. In: Winkel van wanklanke. Pretoria: Protea Boekhuis, p. 67-71.

Reitz, F.W. 1870. ‘Klaas Geswind en syn perd’. In: Brink, A.P. (samest.). Groot Verseboek 2000. 2000. Kaapstad: Tafelberg, p.1-3. Ook aanlyn beskikbaar: https://gedigteboom.co.za/francis-william-reitz-jr/klaas-geswind-en-syn-perd/

Taljaard-Gilson, G.H. 2017. Meditasies in ʼn begraafplaas: ʼn Verkenning van Afrikaanse grafdigters en kerkhofpoësie. Literator, 38(1). Aanlyn: https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/1315/2282

Van Graan, M. 2008. Die rol van ruimte in Afrikaanse spookstories. Ongepubliseerde M.A. verhandeling, Noordwes-Universiteit: Potchefstroom. Aanlyn: https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/1898

Van Graan, M. 2015. Die grens tussen lewe en dood: ’n Studie van spookkarakters in die roman-oeuvre van Etienne van Heerden. Ongepubliseerde Ph.D. proefskrif, Noordwes-Universiteit: Potchefstroom. Aanlyn: https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/15687

Visser, A.G. 1930. ‘Die ruiter van Skimmelperdpan’. In: Versamelde gedigte. 1981. Kaapstad: Tafelberg. p.240-241. Aanlyn: https://www.dbnl.org/tekst/viss052vers01_01/viss052vers01_01_0132.php

 

 

[i] Ek gebruik die paranormale wetenskap as ʼn tipe metanarratiewe raamwerk waarbinne ek spookstories analiseer. Hou maar net in gedagte dat die term ‘wetenskap’ hier nie veel water dra as ʼn empiriese wetenskap nie. Sien Van Graan (2015:28-38) vir ʼn uiteensetting van hierdie tameletjie.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.