99
onder aan die helling van die moordenaarsberg
breek ons brood, drink wyn, en skerts en lag en terg
tot lank na die sonsak die skadu’s wyd gesprei het
oor ons samesyn wat, Goddank, selfs die pes verdwerg
*
100
vergeet van taks, vergeet die pes
vergeet van skelms, en moord’naarsmes
trek die kurk en skink ‘n glasie
van die rooi, my vriend, wat sielsdors les
*
101
liewe, droewe druiweland, geelgrond hange
hoe smag ons na die dae vergange
voor die pes ons gegrendel het van
mekaar en wyn en samesyn, o hartsverlange!
102
skelm het ‘n pestilensie op ons werf kom nes maak
saak maak braak maak siek maak dood maak moeg maak
maar ons sal hom mak maak – gló my – en dan gaan ons
‘n bloedrooi mont du toit oop maak, leeg maak, en fees maak
© Hendrik Jansen van Rensburg, 2021