Twee dae, twee bundels. Die meeste sterre is lankal dood (2020) deur Johann de Lange en Bientang (2020) deur Jolyn Phillips. Een gedagte: wat ‘n uitsonderlike oesjaar het die Afrikaanse poësie nie in 2020 opgelewer nie? Albei bundels het by Human & Rousseau verskyn en is keurig uitgegee. Tog is dit twee uiteenlopende bundels.
De Lange se bundel is dié van ‘n bekwame digter. Daarvan is die titels van die onderskeie afdelings reeds sprekend, wat nie net digterlik is nie, maar ook gesofistikeerd in soverre dit met die tradisie in gesprek tree – vergelyk: (1) “Inskaduwings van die lig”, (2) “Die sysies & die spreeue”, (3) “Vergete vuur”, (4) “‘n Beiteltjie”, (5) “Alles van waarde”, en (6) “Gebedewiel”. Afdelings vier en vyf verwys die digter onderskeidelik na twee groot geeste – Van Wyk Louw en Lucebert – met wie hy reeds van sy debuutbundel, Akwarelle van die dors (1982), in gesprek is.
Phillips se bundel, ànders as dié van De Lange, skep nie die illusie van vormvastheid of beheer nie; alhoewel, dit is juis die vloeiendheid van die teks wat jou boei. Dié vloeiendheid vind ‘n oorsprong in ekstase, soortgelyk aan Julia Kristeva se Powers of horror (1982). Wanneer jy begin lees, kan jy nie anders as om iemand anders nader te wink en die opdrag te gee, Lees hier! nie. En dan moet jy net keer dat daardie persoon nie wegloop met jou bundel nie.
Waar lê die poësie? Die poëtiese moment by De Lange is te vind in presiesheid; by Phillips, in oormaat.
Is dit regverdig om te vra watter bundel jy as leser bo die ander verkies? Glo het die huis van poësie vele wonings. Maar dis nie ‘n onregverdige vraag nie. Dit vereis eerlikheid. Is jy dapper genoeg om eerlik te wees? Nee, niemand kon my nog ooit van dapperheid beskuldig nie.
Maar ek kan dit sê: Waar die ervaring by Phillips ontbreek, maak De Lange daarvoor op. Dit beteken egter nie dat ek De Lange bo Phillips verkies nie. Ook: De Lange het ek al gelees; Phillips is nuut. En het ons al ooit só ‘n verruklike stem in Afrikaans aangehoor?
* Die titel is ontleen aan ‘n versreël uit “//Klaas” in Bientang op bladsy 37.
Dit lyk na ‘n dramatiese stasis hier so. En ek dink aan die meester Jorge Luis Borges se verbeelde land, genaamd Tlön, waar die letterkunde anders benader word as in Tlön se buiteland.
Ek haal aan uit Borges se verhaal uit “Die tuin van gevurkte paadjies (1941):” “Betreffende literêre sake, is die dominante gedagte dat alles die werk van een enkele outeur is. Boeke word selde onderteken. Die konsep van plagiaat bestaan nie; dit is vasgestel dat alle boeke die werk van een enkele skrywer is. Hy is tydloos en anoniem. Kritiek is geneig om outeurs te versin. ‘n Kritikus [van Tlön] sal egter twee uiteenlopende werke kies – kom ons sê, die Tao Tê Ching en Die duisend en een nagte – en hulle toeskryf aan dieselfde skrywer, en dan in alle opregtheid die sielkunde verken van hierdie interessante homme de lettres….”
Alwyn, hoe krap jy die groepie seniors op Versindaba se hare deurmekaar. Kyk maar net na die briewekolom en jy sal sien jy is ‘n upstart!
Ek kan sien jy werk deur die bundels, een na die ander, maar word heeltemal verkeerd begryp. Skryf maar volgende keer twee keer. Eers oor die latenswerk en dan oor die jong digter met haar treffende bundel.
Nou word jy sommer as on-PC en wat ookal beskou. Terloops, pryskomitees moet dikwels sulke vergelykings tref. En ek lees nêrens raak dat jy Jolyn se bundel as minder beskou nie.
Korreksie: Bientang’s Cave is ‘n plaaslike restaurant (“roman” is ‘n tikfout)
Alwyn, dis darem twee heeltemal verskillende bundels met totaal andersoortige skrywes in. Die ouer digter s’n is kompak , afgerond, kort, selfs kripties. Laatwerk. Afskeidnemend. Die jong vroue-digter s’n is is epies-liries, met ‘n deurlopende narratief, histories gebaseerd, asook
lokaal geanker in die suidwes-Kaapse strand-en-see flora en fauna, voormense, en een vrou se biografie teen die groot doek van die geskiedenis – rasse van der jare, en hul interaksie, met die hoofkarakter ‘n legendariese figuur, Bientang, wat in ‘n grot gaan woon met haar twee rooikatte, in die plek waar vandag die seedorp Hermanus is (en Bientang’s Cave ‘n plaaslike roman, in die ou grot ingebou, reg op die bulderende see. Haar oorsprong is by Klipgatgrot buite De Kelders (oorsprong van die vroegste Strandloper-mense, op die Plaat – lang wit strand wat in ‘n halfsirkel omloop na Hermanus se strandmeer, by De Kelders, waar Lady Anne Barnard in 1795 gaan baai het in die Drupkelder se poel, in detail beskryf in haar joernaal). BIENTANG se narratief sluit gespesifiseerde plaaslike botaniese, geografiese, etnografiese, historiese asook die fiktiewe biografie van ‘n bruin voormoeder, ten dele ‘n mitiese voormoeder van duisende jare gelede, en ten dele ‘n agtiende eeuse kluisenaar en grotbewoner vroue-afstammeling in, plus ‘n wit “Lord” wat haar besoek van oorsee, en ‘n stamverwant, Klaas. Daar is ook Khoi-taal elemente, en ‘n fokus in die later bundel op interkulturele wisselwerking tussen inheemse Khoi-vrou en uitheemse “beskaafde” wit man.
Ek begryp nie hoe jy hierdie twee bundels bymekaar wil uitbring nie.Onvergelykbare materiaal as digbundels. Buiten vir jaar en uitgewer… Laatwerk is laatwerk as afsluiting van ‘n uitgesponne oeuvre, bekend in sy tematiek en stylnerings.
BIENTANG is totaal nuut en andersoortig, in ‘n nuwe vrouestem en met ‘n soort styl, nog nooit in Afrikaans gesien nie, buiten altemit in haar digterlike moeder, Antjie Krog, se LADY ANNE (1989). En haar digterlike vader, DJ Opperman se (halfeeu vroeër) EDMS.BPK., wat op dieselfde kusgebied se eenvoudige mense-wat-intiem-van-die-see lewe, gewoontes en uitgelewerdheid aan die see in al sy buie en getye, beskryf.