En sonder om terug te kyk …
(die einde van ʼn fabel as begin)
en sonder om terug te kyk, swem sy weer
swem sy na vergetelheid en haar dood:
die oorgang van dit wat as nag beskou word
dít wat haar rivierlangs terug sal lei
− vry soos sy was in die begin –
gelouter deur die tatoeëermerke
van hulle wat haar wou verban −
wat haar Evasgewaad wou skend
en haar uit wou lewer aan die vuur
van ʼn aardse herberg van drinkebroers
in die hoop dat haar wese van water
die wêreldse honger wat brand in hul lywe
sou kom stil met die kleur van ʼn verre liefde
en daar was water in haar en om haar gewees:
ʼn skoonheid soos altyd maar oppad na die see
daar waar haar meerman deelgenoot sal wag
om in te gee tot hul hemelse vloeibaarheid:
dolfyne van die dieper waters van wat is –
ʼn afduik in die bodemlose put van die see
óm verlore drenkelinge te red
deur mekaar lief te hê soos ʼn uiteinde
en die see sal ʼn herberg vir hul liefde wees
en hy sal haar droogvoets laat dans
in ʼn onderwater Atlantis paleis
sodat sý hom
ʼn stem sal kan gee om te belowe:
ek sal jou nooit weer rivier op laat swem nie
© Bester Meyer, 2021
*
(Die fabel van die meermin en die drinkebroers)
Al hierdie menere was daar binne
toe sy inkom, heeltemal naak.
Hulle was gedrink en begin toe spoeg op haar.
sy het nie verstaan nie want sy was pas uit die rivier,
sy was ʼn meermin wat verdwaal het.
Beledigings het neergereën op haar gladde lyf,
vuil taal het haar goue borste bevlek,
sy het niks geweet van huil nie, en het nie gehuil nie,
sy het nie geweet van klere nie en het niks aangehad nie.
Hulle het haar getatoeëer met sigaretstompies en gebrande kurk
en het gelag tot hulle gelê het op die herbergvloer.
Sy het niks gesê nie want sy het nie geweet hoe om te praat nie.
Haar oë was die kleur van verre liefde,
haar arms was soos twee identiese topase,
haar lippe was stil in die lig van koraal
en skielik is sy by daardie deur uit.
Skaars is sy in die rivier, toe is sy weer skoon
glansend soos ʼn wit klip in die reën,
en sonder om terug te kyk, swem sy weer
swem sy na vergetelheid en haar dood.
(Die bostaande gedig is ‘n Neruda-vertaling deur De Waal Venter: Neruda P. 2019. Vandag is boordensvol – Pablo Neruda in Afrikaans. De Waal Venter. Kaapstad:Naledi.)