Hierdie gedig is gebaseer op die laaste reël in Neruda se gedig “En ti la tierra” uit die bundel “Vandag is boordensvol”, Naledi.
“…en ek buig na jou mond om die aarde te soen.”
Rondom my
Rondom my
sien ek jou
in die buiging van die see
waar dit oorgee aan die lug.
Ek sien jou
in hierdie klein klippie
in my hand,
sagte ligrooi
kristallyne roos.
Jy is in die wind
wat jou lippe
lig fluister oor my wang.
Ek sien jou staan
in die boom
sag singend,
verlangend na my
soekende hande.
Rondom my
sien ek jou,
sien ek hoe jy
vol grasie oor die berg kom,
reënwolk op die rug van die wind
ry jy laggend
oor die land
wat so lank vir jou gewag het.
Nou sien ek jou
in die skadupoel
se helder, heuningbruin diepte
met stilte gevoed
uit die berg se hart.
Rondom my
strek jy,
bestaan vir my;
ek buig na die aarde
om jou mond te soen.
© De Waal Venter, 2021
En ti la tierra
Pablo Neruda
Die aarde in jou
Klein
rosie,
rosie so klein,
partykeer,
piepklein en naak,
asof
jy kan pas
in een van my hande
wat ek dan toevou
en oplig na my mond
maar
skielik
raak my voete aan jou voete, en my mond jou lippe,
jy het gegroei
jou skouers styg op soos heuwels
jou borste wandel oor my bors
my arm kry skaars kans
om die fyn lyn te verken
van die nuwe maan
wat jou middel skep:
soos seewater
het jy bevry geraak in liefde:
ek kan nouliks die oë begryp wat wyer as die lug is
en ek buig na jou mond om die aarde te soen.
Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter