Onderhoud met Hilda Smits oor “mag die diep slaap jou dan”

 

 

 

Joan Hambidge gesels met Hilda Smits oor haar bundel “mag die diep slaap jou dan”.

 

Joan Hambidge

 Baie geluk met jou besonderse bundel mag die diep slaap jou dan wat pas verskyn het by Protea.

Jy debuteer in Nuwe stemme 5, hierna met ’n solodebuut in 2016 die bome reusagtig soos ons was (Protea) bekroon met die Ingrid Jonker.

Hoe het jy die begeleiers van Nuwe stemme 5 ervaar? Was daar werkswinkels?

Hier is my kommentaar indertyd (2013):

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=nuwe+stemme+5

 

Hilda Smits

 

Joan, baie dankie. Nuwe stemme was vir my ’n eerste gewees. Ek het die dag voor die werkswinkel gevlieg en was jet lagged & baie opgewonde. Veral omdat my gedigte voorheen afgewys is (in retrospek is ek baie verlig!). Daar het ek bietjie soos ’n poet begin voel. Ander digters ontmoet, van my gedigte voorgelees, myself uiteindelik in drukvorm gesien. ’n Mens voel soos Shakespeare maar skryf in ’n vakuum. Stuur jou gedigte vir Litnet, vir Nuwe Stemme, vir jou ma. En hoop om ’n regte poet te word. En word keer op keer (en rightly so!) reject. Natuurlik het ek elke jaar my gedigte vir die BSV-skryfkompetisie gestuur en daar was Gilbert Gibson (!), soos magic. ’n Mens is ewig dankbaar vir sulke oomblikke. En vir Nuwe stemme (om jou vraag te antwoord). Ek haal vir William Gass (uit konteks) aan in Cartesian Sonata, “slowly into darkness and into  the depths of himself, beyond all light, beyond the last fish…”. Iets dan van mettertyd poet (of vis) word.

 

JH

Jy het groot geword in Potchefstroom, studeer in Londen en tans woon jy in Philadelphia waar jy werk as psigoterapeut.

Watter invloed het hierdie veranderde landskappe op jou digkuns gehad?

HS

Landskappe wat soos tyd vloei & fluktueer en uiteindelik weer/deel raak van die self. As kind het ons heelwat getrek en “klein dorpies van klippies & die mense nog daar” agtergelaat. Leë huise, soos hotelkamers & hospitale, het ’n sekere aantrekkingskrag, ’n teenwoordigheid van vorige lewens. Tussenin plekke ook (lughawens, treinstasies, teerpaaie) voel soms so werklik soos die final destination. Ek is ontsettend dankbaar vir die ruimtes & die tussenins wat ek al kon bewoon. As psigoterapeut inhabit ’n mens ook soos ’n hele klein wêreld ander se lewens/stories. Hiervoor is ek ook ontsaglik dankbaar.

Philadelphia, waar ek tot onlangs nog as psigoterapeut met heroïenverslaafdes gewerk het, spook veral by my. Die stemme & stories van hierdie mense, mense wat ek oor ’n tydperk van vyf jaar leer ken & liefhê het, klink deur die hele bundel. Soos diep slaap, soos hoop & wanhoop, veerkragtigheid, soos alles wat menslik is. Die tweede afdeling is aan hierdie mense gewy.

 

JH

Die verse in jou jongste bundel is “onvoltooid”. Ek dink hier aan die digkuns van e.e. cummings, o.a.

Die konsep asindeton is by jou relevant. Dit is ’n tegniese begrip waar verbintenisse tussen reëls doelbewus uitgelaat of herhaal word. Die neweskikkende sin (versreël) ontbreek of bots met die hoofsin (versreël). Doen jy dit met opset?

HS

Laasgenoemde was ’n organiese proses, iets wat natuurlik gebeur het gedurende die skryfproses. Miskien iets van taal so soepel soos water en hoe sy van gestalte verander, anders poel & vloei in die kop, die mond, op papier. Oor tyd. In die vreemde. Dalk ook dan iets van foreign/er wees? Woorde begin anders klink & proe tussen Engelssprekendes. En wat beteken dit regtig vir iets om “onvoltooid” te wees? Eerder ’n proses van voltooiing wat elders plaasvind, iewers tussen die kop & hand. Nie logies nie maar tog so natuurlik soos asemhaal. Skilders doen iets soortgelyks. Cézanne laat soms dele van sy doek “leeg”, omring met vlekke kleur, wanneer hy sy berge skilder. Tog bestaan hierdie “leë” ruimtes in direkte verhouding met die res van die skildery & as deel van dieselfde liggaam, sou die skildery nie andersins sin maak nie.

Laat my dink aan al die maniere wat ons dots connect, of dit nou is om iemand se gesigsuitdrukking of ’n De Kooning te ontsyfer. Ons doen dit heeldag lank. Skryf dan eintlik ook ’n proses wat op ander vlaktes, wat elders plaasvind. Mid-sentence, mid-traffic. Die leser ’n aktiewe deelnemer, een wat nie onderskat moet word nie.

 

 

JH

 

Daar is pragtige beelde in hierdie bundel:

die mense slaap soos gefrommelde banknote in sagte beddens

die skoolgange is leeg soos dowwe pyn

op die rugbyveld loop die eerste lig soos ’n vlak rivier

van verlate datums lughawens op die lang toegesneeude pad van die telefoonlyn

Hoe kom jy hierby uit? Via drome?

HS

Joan, baie dankie. As ek maar my drome kon onthou! Die boek-self voel soos ’n proses van akkumulasie (van intense persoonlike ervarings) wat binne ’n relatiewe kort periode gedurende die pandemie geskryf is. Die muse was my goedgesind en die beelde was daar vir my. In my gedigte is ek altyd die spreker, en so die beelde vloei seker uit my lewe uit, uit my day to day. Waar word beelde gestoor? Dalk iewers in die liggaam soos ’n woud? ’n Vlam wat soms skielik & vanself brand, ander kere met ’n bietjie aan(spoor)ing. As die gedig ’n masjien is, dan besit sy oë, ore, hande wat voel, ’n hart wat klank:klop, niere, borste, die (maan). Ensovoorts. Beelde dan eintlik so natuurlik soos {asem}{haal} & daar vir die opraap wanneer jy al jou sintuie soos seile inspan. Natuurlik help dit ook dat ek ’n ruimte met ’n skilder & ’n kleuter deel. Hulle wat images eet vir breakfast. Skrywers soos Bruno Schulz, Lorca, Neruda, Aracelis Girmay, Larry Levis, Rilke. Beelddiewe.

 

JH

De Kooning (1904 – 1997) is ’n belangrike kode soos Rothko en ander Abstrakte Ekspressioniste. De Kooning (gebore in Rotterdam, later Amerikaanse burger) som dalk iets op van afskeid en vertrek.  De Kooning verwring ook die werklikheid, nes jou gedigte ook die werklikheid “verander”; dit het ek eerstehands ervaar het by ’n retrospektief in die MoMa (2012).

https://www.moma.org/calendar/exhibitions/1135

Kommentaar.

HS

 Klein wêreld! Ek is ook hier (einde 2011) & met my eerste besoek aan New York aan De Kooning voorgestel (deur Ben). Hy is eintlik die eerste abstrakte skilder waarmee ek ’n konneksie ervaar het, waarvoor ek die deur bietjie oopgecrack het. Dit verg nogal vertroue, “blind trust”, om iets in die water te sien as dit nie konkreet is nie, dinamies is & van vorm verander reg voor jou oë. Vir ’n lang tyd het ek nie geloof gehad nie. Waar is die bewys dan?

As voorbeeld hierdie gedig van my wat deur Rooskleurige Dagbreek by Louse Point deur De Kooning geïnspireer is.

 

ooptes hier soos ribbebene & die sagte myle tussenin

die strand is ’n klein pienk kragtige bul

die hoë geel duine jazz

die duine dans met die lang dun arms van krieke gesigloos met net oë vir mekaar

stomp vliegtuie in die blinde oneindige lug

jy beur die water is juwele die kleur van oë heel aan die einde uit

jy het die swak maar vasberade arms van ’n kewer

die promenade is uit ’n kwasstreep die promenade is met die hand gemaak

jou twee bene is maar net droë hout & gee soos roomys in

die bul sal verwoed soos porselein in jou perfekte hand-

palm pas & dalk sal daar mooi slaap wees of herinnering aan

voel die bul is gewig vol somer op jou afwagtende geduldige hand

 

Ek hou ook baie van hierdie De Kooning aanhaling, “Content, if you want to say, is a glimpse of something, an encounter, you know, like a flash – it’s very tiny, very tiny, content.”

 

JH

Jy skryf pragtige en sterk ekfrastiese gedigte, beeldverse. “Washington Square, winter, André Kertész”, “Georgia O’Keeffe – hande, Alfred Stieglitz”, “Twee vroue omring deur voëls, Joan Miró”, “Goeie plek vir vis(se), Paul Klee”, “Pienk engele, De Kooning”, om ’n paar uit te sonder. Watter invloed het die skilderkuns op jou digkuns? En waarom Van Gogh?

HS

Dit was werklik ’n voorreg om van hierdie skilders “in die persoon” te ontmoet. Die ruimte waar ’n mens ’n skildery ontmoet maak ’n verskil aan die ontmoeting. ’n Handdruk in ’n intieme spasie. Die wit bladsy is soms ontsettend intimiderend, veral in my geval waar die dissipline & aandagspan dikwels ont/breek. En so die beelde was aanvanklik ’n beginpunt, is as prompts gebruik waaruit ek klein happies kon vat, eers later my tande in die vleis van die image insink. Ek is nog van altyd af verlief op Van Gogh, op sy lewe. Iets van ’n stray cat, iets van my pa. Dit het my wel lank geneem om te sien hoe iets soos ’n stillewe, soos sonneblomme, deurdrenk met gevoel kan wees.

 

JH

Die skildery op die voorblad van Benjamin Silberstein is soos die surrealistiese kuns. Soms lyk dit of daar ’n foto skuil; ander kere verbeel ’n mens dit dalk?

HS

Die komposisie is op ’n Leonardo Da Vinci skildery, “St Jerome and the lion”, gebaseer. Da Vinci was ’n beginpunt en toe word dit ’n collage. Ben (in sy eie woorde): “I never think in terms of surrealism or any kind of isms. I am just trying to navigate the space. For me the most important thing is that the thing feels alive”. Daar het jy dit nou, direk uit die perd se bek.

 

JH

Jy gebruik soms die kleiner font in ’n gedig. Dis asof jy die leser wil dwing om weer te kyk. Kommentaar.

 

HS

Die fontveranderinge was intuïtief en het organies gebeur, soos kwashale of as mens jou stem groter of kleiner maak. Sê dalk ook iets van woorde soos kamers beperk tot vier mure en die moontlikhede wat wit vlaktes papier bied.

 

JH

Was jy al in die Ooste of speel jy net in jou fantasie met die gedagte? (21)

HS

Indië & Egipte. Magical plekke, soos poësie, waarna ek gereeld in my gedagtes, en hopelik in my ewig ontwykende (!) drome, terugkeer.

 

JH

Jy tipeer jouself as nostalgies. Jy skryf oor jou familie en veral jou vader se dood bly by jou spook. (16)

Hoe verwerk mens verlies in die vreemde?

HS

Deur te skryf. Te draf. Lief te hê. As psigoterapeut my sintuie te spits, in te leun. Die bundel is meestal gedurende die pandemie geskryf. ’n Intense tydperk in Amerika, een van political upheaval op alle fronte. Dit was ook gedurende hierdie tydperk wat ek van my sowat 40 kliënte moes afskeid neem, kliënte waarmee ek vir jare gewerk het. En heroïenverslaafdes ken van verlies. Verlies dan op alle fronte.

So mooi, hierdie aanhaling van Aracelis Girmay, “When the piece of a body is left (or a home is left) then the body begins being a constellation: one piece is there! one piece is there! If I leave my hair in the comb in my mother’s house & walk out the door to go to the airport, then all of a sudden the body is everything between me & that lost piece. The body is made up, then, of roads & crickets & azucena & mud. How large we are. How ramshackle, how brilliant, how haphazardly & strangely rendered we are. Gloriously, fantastically mixed & monstered. I have been asking myself to be more attentive & porous – to pay attention to the way every inch of me is animal, every inch of me is earth.”

 

JH

Jy dra nie jou hart op jou mou nie; eerder die son se strale soos ’n hart op jou leerbaadjie dra (of soiets). Ek dink hier aan Colm Tóibín se studie oor Elizabeth Bishop (On Elizabeth Bishop) wat uiters gedistansieerd oor pyn, verdriet en verlies geskryf het – weg van die self. Dit was waarom sy probleme gehad het met Robert Lowell se persoonlik-belydende verse. Sy verbeeld ook verplanting en leef in ’n vreemde landskap. Kommentaar.

https://www.amazon.co.uk/Elizabeth-Bishop-Writers/dp/0691154112

HS

 Vir my is my gedigte die mees persoonlike, intieme uitdrukking van myself. Gedigte sonder afstand. En as hierdie gedigte “moeilik” is om te be/nader, as die afstand te groot voorkom, dan is dit net omdat gedigte soos mense kompleks is, tyd & energie verg. Een van Rilke se gedigte (ek vergeet die titel!) wat uit Duits na Engels vertaal is lees iets soos “hand vat aan hand” in Engels, maar in Duits “hand hand aanraak”. So die hande in die gedig raak mekaar aan soos wat hulle sou in die “regte” wêreld. Ons praat in ’n gedig, op papier, anders as in die persoon, en poëtiese spraak is nie die taal van toffies koop nie. Hierdie komplekse sintakse wat eers na merkers van afstand lyk, is eintlik soms die mees intieme deel van die gedig, die mees unieke uitdrukking van myself.

 

JH

Londen of New York?

HS

Londen? Na 10 jaar het sy soos klitsgras of ’n komeet in my vasgegroei.

 

JH

Gee vir ons ’n gunsteling-vers uit jou bundel.

HS

mag jy van 9 lewens

mag jou kussings sag wees soos die lente

mag die ligte saans deur hande verdoof geleidelik weer

soos ’n koor van stemme jy elke nag die eerste reën

mag die silwer kostrollie op & af soos ’n rescue kat in die lang gange

soos ’n lullaby tot reg onder jou deur

mag jy elke dag vir ’n smoke break gevat & die verpleeghulp

haar lyf van goedige rondings

al die nuutste gossip dan soos koninklike geheime

mag die rook jou omhul soos wit wolke

as jy opkyk sal die lug die blouste

mag die as in die urn in die kas saans & in die helder dag van fluorescent lights

opstaan soos ’n imam in ’n miljoen stukkies lig

soos brood of candy halo om jou hospitaalbed

langs jou gaan lê met die swart liggaam van ’n leeftyd

sy dun arms dan soos my stem wat sê there there maar groter as

soos ’n mooi rivier & soeter as soos koffie met baie cream

mag die diep slaap jou dan

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Hilda Smits oor “mag die diep slaap jou dan””

  1. Bester Meyer :

    Dankie vir die onderhoud en geluk met die bundel. Lyk woordloos mooi!