Brevet
na Eybers
Stip soos ‘n belastingkontroleur
sal ek allengs idees bly navigeer:
oor ervarings by tempels en katedrale,
nou net in fantasie hierdie opgawe.
© Joan Hambidge (Uit: Sanctum, 2022)
Inkarnasie
Deesdae betrap ek myself al hoe meer
dat ek my moeder hoor wanneer
ek skryf: ongeduldig, op die punt af.
En soos my vader liasseer en bewaar
ek dokumente, papiere, strokies
daagliks weekliks jaarliks in hierdie opgaar.
Die een het altyd gesnoei, georden;
die ander een het uitgebrei, uitgepak.
Die optiek van hierdie inkarnasie
bring my onverwyld te staan voor
‘n aweregse ars poetica van indrukke,
reise en traktate versamel vir oppak
in ‘n vers sonder afdraaie of selfbelang.
© Joan Hambidge (Uit: Sanctum, 2022)
Totem
Ek is my tempels
my katedrale ruïnes
versugtinge
verbeelde reise –
Ek is my onthoue
verliese verdriete
verraad (soos)
versmade verse –
Ek is my vrese
verlatings om en by
die wortel van dié kwaad:
opgehoopte kwellings –
Ek is my aandagstrepe
tersydes en aanhalings
konfessies en vermanings
in gedoemde ellipse –
Net die allergroot verhouding
met die groot aktiewe woord
daardie tempel staangemaak in Tristia
maak nog sin tot die dood
ons skei – leser, jy of u.
© Joan Hambidge (Uit: Sanctum, 2022)
Oggendlied
Sylvia Plath
Liefde sit jou aan die gang nes ‘n duur goue horlosie.
Die vroedvrou klap jou voetsole en jou skerp gekrys
neem ‘n plek tussen die elemente in.
Ons stemme eggo en amplifiseer jou aankoms. ‘n Nuwe
standbeeld.
In die koue museum word jou naaktheid
‘n silhoeët van ons veiligheid. Ons staan rond soos leë mure.
Ek is net so min jou moeder
as die wolk wat ‘n spieël distilleer om sy stadige verdwyning
deur die wind se toedoen, waar te neem.
Die hele nag lank, flikker jou asemhaling vlinderagtig,
neffens die nagemaakte pienk rose. Luisterend word ek wakker:
‘n verre see beweeg in my oor.
Een geluid en ek strompel uit my bed, koeiswaar en fleurig
in my Victoriaanse nagjurk.
Jou mond gaan oop, skoon soos ‘n kat s’n. Die vensterraam
verbleik en sluk sy dowwe sterre in. En nou repeteer jy
aan jou hand vol note;
die helder vokale styg óp soos ballonne.
© Joan Hambidge (Uit: Sanctum, 2022)