Dubbelster : Dubbelportret
Dolf van Niekerk (1929 – 2022)
Die dood immer ‘n toeskouer
in jou lewe op jou lang reis
na Ithaka. Vele portrette
van geliefdes met berigte
uit jou strak skemerland.
Hoe sal ek jou nou opsom
tot klarigheid finaal kom?
Dat alles wat jy skryf gestroop
en sonder fieterjasie was
nes legkaarte ingepas?
Dood se siklusse – ‘n posjong
met swart briewe – ervaar
jy as jong kind toe jou moeder sterf.
‘n Jong meisie versend ‘n blaar
in ‘n onthouboek gepars.
Dalk tog eerder my dubbelkyk:
of / of , én / én, dan / nou …
saamgevoeg soos ‘n spreuk:
Draai jou gesig na die son
en die skaduwee val agter jou.
Nou vlieg jy saam met die albatrosse
teen die skemer wat sy geheime verklap,
wég van hierdie skelet van ‘n vers:
op mý moeder se verjaarsdag, ‘n lament
vir jou meester van die allegorie-van-elke-dag.
© Joan Hambidge, 2022
