Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
3 January 20234 January 2023

Dolf Van Niekerk (1929 – 2022): Die duif is huis toe

 

 

 

 

“[…]

Sal hy ooit die grond verlaat,

sal sy vlerke hom bo alles uit kan dra

na die lug waar sy vlerkslag

hom bo bossies en klip en water sal lig

tot die vryheid hom vat

soos ’n werwelwind en hom laat styg

tot niks hom raak?

Sal hy sy hok vergeet, uit vreugde na al die

horisonne sweef waar niks hom hou

tot hy iewers in die onbekende

gaan sit want hy het gevlieg,

gevlieg soos hy wou?”

 

“19” uit Nag op ’n kaal plein (Van Niekerk D. , 2006, bl. 23).

 

Elke jaareinde het die manier om die beste van ons onverwags rondom Oujaar te kom haal, so asof die individu vir ’n oomblik vergete was, so asof die individu doelbewus weerhou is van die voorreg om die lig van die nuwe jaar te sien. Vanjaar was dit Pelé; Emeritus Pous Benedictus XVI; en hier, ter plaatse, Dolf van Niekerk.

Rudolf Johannes van Niekerk is op 22 Februarie 1929 in Edenburg in die Vrystaat gebore (Terblanche, 2019). Sy vader was ’n kleremaker en skaars ’n maand ná sy geboorte is sy moeder, Bettie oorlede. Van Niekerk se pa trou weer, maar sy halfsuster, Maria, wat uit hierdie huwelik gebore is, sterf op tweejarige ouderdom.

Van Niekerk sélf was drie keer getroud en het in totaal vyf kinders gehad.

Na sy matrikulasie in 1946 aan die Hoërskool Edenburg behaal Van Niekerk ’n B.A.-graad (met lof) aan die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat, gevolg deur ’n Honneursgraad in Wysbegeerte (met lof) aan Unisa. Hy is werksaam as omroeper en regisseur by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (1950 – 1956), terwyl hy deeltyds verder studeer. In 1967 verwerf hy ’n M.A.-graad in Wysbegeerte (met lof) aan die Universiteit van Pretoria met ’n verhandeling getiteld Vryheid as fundamenteel-eksistensiële prinsipe in ‘Aantekeningen uit het ondergrondse’ van F.M. Dostojefski (1967). Hy behaal ’n Ph.D.-graad in Wysbegeerte aan die Universiteit van Pretoria met die proefskrif getitel Bewaring as sedelike prinsipe in die Suid-Afrikaanse bodembenuttingsituasie: ’n Kultuurfilosofiese studie (1982).

Hy sluit in 1957 aan by die pas gestigte Landbouradio en word hy later die hoof daarvan. Hy word in 1978 bevorder tot direkteur van Landbou-inligting, ’n pos wat hy tot en met sy aftrede in 1994 beklee.

Na die verskyning van die jeugverhaal, Skrik kom huis toe (1979), behartig hy in die sestigerjare ’n duiwerubriek wat deur die SAUK uitgesaai is. In een van sy laaste onderhoude met Corina van der Spoel, opgeneem deur sy seun Evert, vertel Van Niekerk van sy liefde vir duiwe en hoe dit gekom het dat hy ’n duiweboer was (2019). Die vertelling is ook opgeneem in Legkaart van ‘n jong lewe (2019).

Van Niekerk word op drie geleenthede na die buiteland gestuur om kommunikasiedienste binne landbouverband te bestudeer en sy vakkundige artikels verskyn in tydskrifte soos Conserva.

Van Niekerk se nalatenskap word gekenmerk deur ’n ruim oeuvre, insluitend jeugverhale, novelles en romans, kortverhale, radiodramas, verhoogstukke en poësie. As Sestiger bring hy betekenisvolle verandering op die gebied van prosa en jeugverhale; sy beelding van die sensitiewe buitestander is kensketsend van sy oeuvre. Alhoewel hy reeds op skool begin skryf, publiseer hy in sy predebuutfase in gesaghebbende literêre tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde.

“One mark of originality that can win canonical status for a literary work is strangeness that we either never altogether assimilate, or that becomes such a given that we are blinded to its idiosyncrasies.” – Harold Bloom

Van Niekerk debuteer met die roman, Gannavlei (1958), wat op sy radiovervolgverhale, Die rebelle van Gannavlei en Die eerste burger van Gannavlei gebaseer is. Die uitbeelding van die protagoniste, Dawid en Duif as buitestaanders, bring ’n mate van vernuwing in die tradisie van die kleindorpse vertelling. Dit is egter met Die son struikel (1960) wat Van Niekerk baanbrekerswerk lewer in die gedaante van ’n klassieke Afrikaanse jeugverhaal wat gereeld aan leerders en universiteitstudente voorgeskryf is. Tematiek wat voorkom in hierdie novelle is die Rebellie van 1914; die geweld tydens die Randse mynwerkerstaking van 1922; en die Anglo-Boereoorlog. Diederik Versfeld is die hoofkarakter en buitestander in dié werk wat gekenmerk word deur historiese inkleding en bewussynstroomtegniek, ’n roman waarmee Van Niekerk ’n wesenlike bydrae lewer tot die vernuwing wat Sestig in ons prosakuns gebring het. Diederik Versfeld is waarskynlik die mees konsekwente buitestanderfiguur in die Afrikaanse letterkunde – ’n protagonis wat, soekend na sy identiteit, teen die periferale kragte wat soveel groter as ’n eensame enkeling is, stry. Van Niekerk sê hiervan: “Die son struikel was vir my ’n paradigmasprong. Dáár het my weerstand teen die ou manier van doen na vore gekom. NP van Wyk Louw het gesê die taal in dié boek klink soos glas tussen die tande. Soos met ander werke van die jare sestig is die lokaal gemoedelike prosa van die jare vyftig op die kop gekeer…” (Terblanche, 2019).

Bekende temas, soos dit beslag vind in sy merkwaardige oeuvre is grondkwessies; historiese kwessies rakende die Afrikaner en sy identiteit; ’n ekologiese bewustheid; die verlies van ’n moeder; musiek; kuns; en filosofie. Van Niekerk was ’n opgeleide filosoof wat, na aanleiding van sy belangstelling in Dostojefski, ’n groot aanhanger geword het van eksistensialisme, hoewel sy kennis van Nietzsche, Sartre, Camus en Heidegger nooit sy skryfwerk oorwoeker het nie. Die brandpunt in sy literêre werk sentreer rondom eksistensiële kwellinge en Angst, veral vanuit die perspektief van die buitestander beskou.

Die digter Dolf Van Niekerk se poësie-oeuvre beslaan agt bundels, te wete Karoosange (1975); Dubbelster (1996); Nag op ’n kaal plein (2006); Lang reis na Ithaka (2009); Bleek planeet (2013); Portrette in my gang (2015); Berigte uit die skemerland (2019); en Splintertyd (2021). Sy verse getuig van fyn waarneming en suggestie wat hy in gestroopte styl weergee. Hy betrek die natuur en filosofie in Karoosange, en Niel van der Watt toonset enkele gedigte uit hierdie bundel, wat deur die Tukkie-koor op CD opgeneem word. Sy tweede bundel, Dubbelster, simboliseer die keersy van die lewe en dood, soos dit in die natuur weerspieël word en gestalte vind in pretensielose en sober verse.

Die hoogtepunt van Van Niekerk se poësie-oeuvre is moontlik Nag op ’n kaal plein, ’n versameling herinneringsverse aan sy jeugjare nadat hy sy geboortedorp weer besoek het. Die gedigte het nie titels nie, slegs nommers en kan aaneenskakelend gelees word as een gedig in 26 dele. Op die agterplat sê Daniel Hugo oor die bundel: “…’n poëtiese, visioenêre, ontroerende en soms onthutsende verwerking van die digter se jeugjare op die Vrystaatse dorpie Edenburg.” Maritha Snyman verklaar eweneens: “…hiersonder kan ek nie, wil ek nie, is ek arm.” Die bundel is inderdaad ’n kragtoer: ’n meesterlike visioenêre reis na die verlede, geskep uit die oerbron van poësie, asof vir hom ingegee.’n Skitterende vertelling oor die onstaan van die bundel en enkele voorlesings deur Van Niekerk self, is beskikbaar op YouTube en beslis die kyk werd (Maas, 2023).

Lang reis na Ithaka sinspeel op Odusseus se lang swerftog na sy tuiste ná die Trojaanse oorlog. Die digter skryf oor sy verlange na afgeleë bestemmings en die soeke na ’n geliefde wat hy nooit tydens sy aardse wedervaringe ontmoet het nie. In Van Niekerk se vyfde bundel, Bleek planeet, blyk sy kommer oor die omgewingsvernietiging van planeet aarde. Die titel “bleek” verwys naas die dowwe kleurloosheid ook na Carl Sagan se “Pale blue dot”, ’n subteks wat fyn versteek is in die bundel. Op implisiete wyse dig Van Niekerk dat daar tog hoop op entropie mog bestaan, aangesien alle lewensiklusse in ewewig verkeer. Portette in my gang figureer as digterlike bestekopname van ou portrette wat via herinneringsverse tot lewe gewek en bewaar word. Vele gedigte vorm ’n intertekstuele spel met skrywers en kunstenaars soos Van Wyk Louw, Opperman, Watermeyer, A. Roland Holst en Fagan.

Van Niekerk het Berigte uit die skemerland rondom sy negentigste verjaardag geskryf. Die verse handel oor die skemerland as liminale sone: die land tussen dag en nag of lig en donker. Hy kyk terug na sy lewe, na die melancholie en nostalgie wat altyd sy deelgenoot was, en besef dat hy van vroeg af ’n enkeling was – ’n bundel wat resoneer met die vroeëre tematiek van enkeling- en buitestanderskap. Splintertyd kondig die digter se laaste en agtste bundel aan, en betrek die grendeltyd wat COVID-19 teweeg gebring het. Angst, onsekerheid en ’n diskontinuïteit in tyd en sekerheid word tematies ondersoek. Die dood as “inwonende aanwesigheid” bedreig die mens. Hambidge verwys in haar resensie oor Splintertyd na “’n klein, kompakte bundel wat uitwaaier na die filosofie, die kosmiese vraagstukke en die dood wat iets alledaags geword het”.

Sy laaste twee bundels bly steeds merkwaardig: uitgegee nadat hy reeds ouer as 90 jaar was en verdien moontlik meer aandag as wat dit tydens hul vrystelling in die literêre media gekry het.

Van Niekerk se verse is opgeneem in verskeie versamelbundels, insluitend Groot Verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte”, Digters en digkuns, Die dye trek die dye aan en die Versindaba-bundels wat jaarliks na hierdie fees uitgegee is.

Op ’n vraag wat die vernaamste invloede op sy skryfwerk was (Van Niekerk E. , 2019), noem hy die Afrikaanse skrywers N.P. van Wyk Louw; W.A. de Klerk; en Dostojefski se boek Misdaad en straf as meesterteks ten opsigte van die lot van die enkeling. Van Niekerk vertel dat sy grooste invloede egter gekom het uit twee oorde: eerstens by die lees van Van Wyk Louw se Lojale verset het hy tot die gevolgtrekking gekom “…uiteindelik is ons taak om die waarheid, en skoonheid, op ’n plakkaat deur die skare te dra … dit is die aristokratiese ideaal…” Tweedens het hy een aand na sy pa se radio geluister en Beethoven se vierde klavierkonsert gehoor. Dit het tot ’n lewenslange liefde vir die klassieke musiek gelei, soveel so dat sy seun, Evert van Niekerk, ’n bekende violis geword het.

Ena Jansen het by geleentheid gesê Elisabeth Eybers is ’n aristokraat van die Afrikaanse poësie. Mag ons ook altyd die naam Dolf van Niekerk op soortgelyke wyse onthou as aristokraat; intellektueel; en esteet.

Hiernaas volg ’n oorsig van Van Niekerk se vername literêre publikasies en radiowerk, saamgestel uit verskeie bronne:

1958    Gannavlei (roman)

1960    Die son struikel (roman)

1963    Kwart voor dagbreek (verhoogspel in drie bedrywe)

1963    Skepsels (kortprosa)

1964    Drielaag (kortprosa, saam met Mikro en H.S. van Blerk)

1965    Die moeder (roman)

1968    Skrik kom huis toe (jeugverhaal)

1968    Die paddas (satiriese eenakter)

1971    Kamer 99 (hoorspel)

1975    Karoosange (poësie)

1976    Die nagloper (twee tekste vir televisie)

1978    Woord in die môre (radio-essay)

1979    Kort lewe van ’n reisiger (kortprosa)

1982    Niemand se dag nie (hoorspel)

1983    ’n Bietjie luisterkuier (radioskets)

1985    Karel Kousop (jeugverhaal)

1985    Die haasvanger (jeugverhaal)

1994    Koms van die hyreën (novelle)

1996    Dubbelster (poësie)

1997    Koors (kortprosa)

1998    Brandoffer (kortprosa)

2003    Die aarde waarop ek loop (kortprosa)

2006    Nag op ’n kaal plein (poësie)

2009    Lang reis na Ithaka (poësie)

2013    Bleek planeet (poësie)

2015    Portrette in my gang (poësie)

2017    Kroniek van Turf (roman)

2019    Legkaart van ‘n jong lewe (memoires)

2019    Berigte uit die skemerland (poësie)

2021    Splintertyd (poësie)

 

 

Verwysings:

Maas, H. (2023). Nag op ‘n kaal plein – Dolf van Niekerk. Herwin van YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=gp3SZ3R7iwA&ab_channel=HennieMaas

Terblanche, E. (2019). ATKV/LitNet Skrywersalbum. Herwin van LitNet: https://www.litnet.co.za/dolf-van-niekerk-1929/

Van Niekerk, D. (1958). Gannavlei. Johannesburg: Dagbreek Boekhandel.

Van Niekerk, D. (1960). Die son struikel. Johannesburg: Perskor.

Van Niekerk, D. (1967). Vryheid as fundamenteel-eksistensiële prinsipe in ‘Aantekeningen uit het ondergrondse’ van F.M. Dostojefski. Universiteit van Pretoria: Ongepubliseerde MA-verhandeling.

Van Niekerk, D. (1975). Karoosange. Kaapstad: Tafelberg.

Van Niekerk, D. (1979). Skrik kom huis toe. Kaapstad: Tafelberg.

Van Niekerk, D. (1982). Bewaring as sedelike prinsipe in die Suid-Afrikaanse bodembenuttingsituasie: ’n Kultuurfilosofiese studie. Universiteit van Pretoria: Ongepubliseerde PhD-proefskrif.

Van Niekerk, D. (1996). Dubbelster. Kaapstad: Tafelberg.

Van Niekerk, D. (2006). Nag op ‘n kaal plein. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Niekerk, D. (2009). Lang reis na Ithaka. Pretoria: Protea Boekhuis.

Van Niekerk, D. (2013). Bleek planeet. Pretoria: Protea Boeekhuis.

Van Niekerk, D. (2015). Portrette in my gang . Pretoria: Protea Boekhuis.

Van Niekerk, D. (2019). Berigte uit die skemerland. Pretoria: Imprimatur.

Van Niekerk, D. (2019). Legkaart van ‘n jong lewe. Pretoria: Protea Boekhuis.

Van Niekerk, D. (2021). Splintertyd. Pretoria: Imprimatur.

Van Niekerk, E. (2019). Boekvrystelling deur Dolf van Niekerk ‘Legkaart van ‘n jong lewe’. Herwin van YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=-L4550hYRbE&t=4s&ab_channel=EvertvanNiekerk

 

Mellet Moll

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Dubbelster: Dubbelportret
Mellet Moll. Grondstasie →

1e kommentaar op “Dolf Van Niekerk (1929 – 2022): Die duif is huis toe”

  1. Joan Hambidge says:
    7 January 2023 at 14:00

    ‘n Goeie oorsig. Aandag in die literêre media was daar. Dis nou maar eenmaal so met die digkuns dat ons dikwels eers ‘n digter volledig kan takseer na die vertrek. En die digkuns werk anders as musiek of teater. Dit beweeg stadiger en ondergronds.

    Van Niekerk is wel goed getakseer. En noem sy naam en almal weet van wie jy praat.
    https://joanhambidge.blogspot.com/search?q=dolf+van+niekerk

    O.a. Die son struikel.

    Digters wat media-aandag geniet, kry dit ongelukkig stellig weens side shows?

    ‘n Mooi gedig van jou oor hom.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Elisma van Zyl. Tydloos
  • Paul Kloppers. hemelrog
  • ND Cronjé. navigasie
  • Digtersprofiel: Vincent Oliphant
  • ND Cronjé. wiskunde

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d