Ek onthou nog goed daardie eerste … wat sal ʼn mens dit noem, terugsitoomblik? Regopsit? Palm-onder-die-ken, vingers-oor-die-wang? Wanneer die poësie jou die eerste keer tref. Die blits, soos baie digters al oor geskryf het. Nie aha nie, of ʼn praatborrel met ʼn gloeilamp nie, dis iets priemender. Iewers is daar ʼn skok, ʼn rukbesef, elektrisiteit wat jy seker sal kan meet as jy net kan agterkom waar, wanneer en by wie dit gaan toeslaan.
By my was dit in ʼn klaskamer, agter ʼn nuwe, verniste dennehoutlessenaar met U-vormige staalpype as pote, nuwe tafels om die oues te vervang, hulle nog met die deksel en die gaatjie vir die inkpotjie. Afrikaners was aan die vooruitgaan. Maar die onderwyser was outyds, blik jy op van jou handboek was dit vas in sy boep en sy kakiebroek met die swart leergordel om. Hy had ʼn dikraambril en ʼn bokkerige baard en het die bundel lomp vasgehou asof hy wens dit is ʼn kalf se oor waarin hy ʼn merker kan kram.
Wat die gedig was kan ek nie meer onthou nie, wel dat dit deur DJ Opperman was en oor Johannesburg gegaan het. En ʼn kwatryn. Iets uit Joernaal van Jorik? Hoe ookal, ek was totaal oorrompel deur ʼn nuwe emosie wat ek nog nie verstaan het nie. Ek wil amper sê, ten spyte van sy voorlesing, wat maar saaklik was, maar dis miskien hoe ek dit wil onthou, want dit pas by die mitetjie wat ek deur die jare ontwikkel het, sy vermeende trogloditeit en regsheid moet die verrassingselement versterk.
Dit het skielik die mag van woorde gedemonstreer, maar ewe belangrik, dit het ʼn ander lig op Johannesburg geskyn, daar in die myndorp Evander, waar die stad iets grys, rokerig en intimiderend vir my was.
Was dit hoe dit werklik was? Bykans 55 jaar en dosyne aanpassings aan die storietjie later kan ek nie meer sê nie. Hoe sal ek ooit kan weet? Nietemin, dis aan daardie oomblik wat ek gedink het toe ek probeer uitwerk hoe ek sal antwoord op die versoek van Versindaba: skryf ʼn opstel oor jou digkuns. Hoekom ek? Geensins ʼn digter van naam nie, is ek dalk eerder as essayis gevra? Indien wel, sou ek liewer as skrywer …
En ek het onmiddellik geweet. Dis juis hierdie vertwyfeling wat dit sinvol maak. Want wanneer is jy ʼn digter? As jy deur daardie weerlig getref is? Al het jy absoluut geen talent nie, maar jy weet dis wat jy wil doen, gedigte skryf? Baie mense verklaar hulself tot digter, en dan beteken dit iets anders, iets meer primordiaal, meer argetipies as wanneer jy jouself tot skrywer verklaar. Ek onthou ʼn jong swartman wat homself as digter by ʼn geleentheid voorgestel het. O, waar het jy al gepubliseer, vra ek versigtig. Sy briewe verskyn in die koerant.
ʼn Mens kan lag ja, maar nie voor jy daardie briewe aan die koerant gelees het nie. Moontlik was dit deurtrek van die poësie. Vele jare later sou hierdie onderonsie sy rolletjie speel in my konseptualisering van die Melville Poetry Festival, as een wat die oorvleueling tussen genres moes probeer ontgin – die manifestering van ʼn poëtikalieit wat nog meer onderliggend aan dinge as die ewetydse vorme van digkuns was.
Hoeveel minder is jy ʼn kreatuur van ʼn mitologie as jy ʼn digter genoem word binne ʼn meer gevorderde kultuur, soos Afrikaners hulle s’n graag sien? En hoeveel daarvan is deel van ʼn private mitetjie waaraan jy werk terwyl jy die struikelblokke, wanbegrip, onverskilligheid en selfs antagonisme probeer hanteer wat na enigeen toe kom wat hulself tot beoefenaar van die kunste verklaar?
Selfs vandag nog, nadat ʼn hoofstroomuitgewer ʼn bundel van my uitgegee het, huiwer ek om myself digter te noem. Maar eerder as gebrek aan erkenning of ʼn valse nederigheid, het dit te doen met daardie eerste jare na die reuk van Oppermanswael. Eendag gaan ek nog gedigte skryf, het ek geweet, daar in die klaskamer op Evander, maar ek was volledig onder die ban van wat ons vandag patriargie noem. Dit was mos nie ʼn ding vir manne nie, manne duik oor bokke in die gimnasieksaal, smeer mekaar in die rugbygras, trek strepe in die sand vir boks-of-stoei en as hulle tennis speel oor die kort rokkies, maak hulle nie hulle tekkies skoon nie. Ek was nie goed met sport nie, maar dis waaraan ek my gewy het, ek was versot daarop.
Intussen het ander aspekte van die mitologiese wel meer aanvaarbare aandag begin kry. Aanvanklik ook veel meer begaan oor die wetenskappe, het ek ʼn rubriek in die agterblaaie van die tydskrif Scientific American met die naam Dedalus raakgelees, oor allerhande dinge wat skeefloop en hoe om dit reg te maak. En so het ek die Griekse gode ontdek. Hulle het beter by die rowwe selfbeeld van Afrikanerskoolseuns ingepas. My ma was besig om ʼn BA-graad te behaal en een vak was Klassieke Studies, en toe ek my Christelike geloof verloor, was haar Unisa-handleidings en koffietafelboeke net nog meer boeiend.
Politieke ontgogeling het gevolg, en rebellie met plate van Bob Dylan en Black Sabbath. Maar die Oppermanvonkie is eers weer aangeblaas toe ek Dylan se nou vergete digbundel Tarantula saam met Jack Kerouac se On the Road lees. Ek het gaan sit en my eerste reëls poësie neergeskryf. En onmiddellik besef, hierdie gaan ʼn moeilike ding wees. Dis nie sommer vir sommer nie.
In die weermag was daar ander ontdekkings. Pornografie nie meer in vlugtige foto’s onder die skoolbanke nie, maar dik boeke vol geskryf, Xaviera Hollander het baie troepe op die grens kalm gehou. Terug in Suid-Afrika het ek my hand gewaag aan erotiese reëls oor meisies by die inry. My ma het dit ontdek tussen my wasgoed en die swaar hand van sensuur het toegeslaan: my pa het my kamer deursoek en afgekom op die rocktydskrif Cream, waarin daar toevallig ʼn artikel oor masturbasie was. Dit summier verbrand.
Universiteit het gevolg, en met my rebellie in volle swang, was daar ʼn paadjie oop: beveg apartheid en sensuur met die pen, in die spore van Brink en Breytenbach. Maar daarvoor moes ek die pen bemeester, iets wat ironies nou meer aanvaarbaar was, soos regstudente en ander geswoeg het om Afrikaans deur te kom sodat hulle die grade kon behaal waarmee hulle baie geld kon maak. Skielik het daar iets gebeur wanneer ek probeer dig; maar weereens was dit teleurstellend, want wat uitgeglip het, was nie opruiende traktate teen die bewind nie, meer daardie gode en hul meelopers: Hefaistos, Ikaros, by die kwatryne oor melktreine.
Ons het ʼn anti-apartheid studentekoerantjie gestig, maar ʼn spioentjie het die affêre gekelder. ʼn Literêre blaadjie onder my redakteurskap het langer gehou: Vlieg, so genoem na die lugvaardige stramien in my handvol maaksels – die ander deelnemers soos Corne Coetzee, Daniel (Johann) de Lange, Koos Prinsloo, Therese Bartmann (Hulme), Johann Lodewyk (L) Marais kon nie ʼn beter titel kry nie, en het ingeval, waarom nie. Nommer vier, met ʼn skets van ʼn kaal meisie op die voorblad en lelike woord in ʼn Koos Prinsloo-verhaal en ook gay prosa deur Daniel, is verbied en ons almal is geskors. Omdat ons feitlik klaar met ons studie was, is dit opgeskort op voorwaarde dat ek nie aan studentepolitiek deelneem of met die pers praat nie.
Op die ou end het ons meer kulturele kapitaal gewen as skade gely – met die uitsondering van Koos en Daniel wat hul onderwysbeurse moes terug betaal – maar dit het my ʼn wrewel in Afrikaans gegee. Nou weet ek dat ʼn oordrewe gewetenswroeging gehelp het met die blokkasie op die duistere manier waarop sulke dinge werk. Ek het vas geglo dat alles my skuld was, dat my anti-apartheidsobsessie my Vlieg laat kaap het.
Was dit dalk so? Die feitelike agtergrond is maklik te bepaal en sal nie veel van bogenoemde verskil nie. Hoe dit ookal sy, al was die private mitevorming ʼn blokkasie kon dit nie keer dat die gedigte hulle kom aanmeld terwyl ek my brood by die Engelse pers verdien nie. Die filosoof Giorgio Agamben skryf dat gedigte daarop aandring om gelees te word, in my geval het hulle aangedring om geskryf te word. Om die storie kort maak, teen die einde van die eeu het ek ʼn bundel aan ʼn uitgewer voorgelê, maar dis afgekeur ten gunste van werk deur ʼn gevalle struggleheld en ʼn aanvallige prosaïs.
Weer het dit my ʼn bietjie van ʼn renons in die Afrikaanse establishment gegee en het ek besluit om dit self uit te gee. Die tegnologie het met rasse skrede vooruit gegaan, en die nuwe ding, die internet het my toegelaat om ʼn eksperiment te fabriseer: publiseer enkele eksemplare en vra mense dan om verbeterings van die gedigte na my te stuur vir volgende uitgawes, om sodoende die grootste koste te bespaar, van ʼn redakteur.
Die enigste persoon wat deelgeneem het, was die oorspronklike leser by die uitgewer, wat wou weet waarom ek dit so uitgegee het, want sy het dan publikasie aanbeveel. So het ons ontdek dat haar verslag vervals is; later sou ek agterkom dis nie ʼn ongewone praktyk by uitgewers nie. Waarom dit nodig was, is ʼn raaiseltjie wat seker ook nooit verklaar sal word nie.
Ter sake vir my private mite was dat dit my in my “kwaad” gesterk het. Die Taal van Voëls het op die kortlys van die Ingrid Jonkerprys beland, maar etlike van die gedigte was “onaf”, “onklaar”, stylnabootsings en alles te eklekties. Vormlike dissipline is hart en siel deel van ʼn digter se werk, en daar was genoeg gedigte waaraan ek geswoeg het, maar ek wou probeer demonstreer dat alle digkuns, hoe amateuragtig ookal, geldig is. Om ʼn prys te wen, sou hierdie aspek ietwat ondermyn het.
Dit was ook geensins dat ek kritiek en pryse verwerp het nie. Kritieke en behoorlike beoordeling is onontbeerlik, en pryse is hoogs bruikbaar nie net omdat sommige aardige bedrae behels of deure vir jou oopmaak nie – in my geval, na China – maar omdat meer lesers jou werk gaan lees. En vir hedendaagse digters is dit ʼn kwessie. Daar is elke dag na skatting 500-miljoen gedigte op die internet, duisende daarvan is in Afrikaans. Jou eie gedigte kan maklik net verdwyn. Aan die ander kant, bly die goeies opgesluit in duur publikasies, en afgesien hiervan verklaar selfs digters, ook die bestes soos Ben Lerner, dat hulle poësie haat.
Om jouself in hierdie omstandighede tot digter te verklaar verg ʼn openheid vir masochisme. Jy speel ʼn rol, in ʼn geringe mate om ʼn sosiale of diskursiewe funksie te vervul, maar veel meer as ʼn mitiese figuur, vir mense om op sy beste oor te wonder soos oor intellektuele fauna en flora, en op sy ergste te bespot. Die eerste meisie ooit vir wie ek ʼn gedig gewys het, was ʼn tennisster wat nie omgegee het dat ek 6-0 6-0 teen haar verloor nie, maar my terstond toe afgesê het.
Onlangs het ek groter klarigheid gekry hieroor toe my goeie vriend en mededigter Charl-Pierre Naude my sy doktorale proefskrif oor Hans Blumenberg gee. Die Duitse filosoof wortel Westerse denke in die simbiose en disbiose tussen mitewerking en redewerking. Sekere “gedigte” in die Taal van Voëls het probeer om die mitewerking tot op hul uiterste te vermy. In “Arend in Sement” het dit my uitgebring by nie veel meer as ʼn rasionele betoog rondom ʼn kitsch versiering in ʼn straat van Melville nie.
Die enkele assonansies, die afbreek in reëls en een of twee ryme het ingeglip weens die onvermydelike poëtikaliteit van alle taal. Maar hierdie en ander, soos “Afgaanse vinke” of “Red light blues”, laasgenoemde in die styl van ʼn swak rock-liriek, kontrasteer met die meer afgerondes waarvan enkeles as waardig genoeg vir die Groot Verseboek geag is. Die volle prentjie behandel ek dan in my gunsteling-gedig in my persoonlike mitevorming (maar een wat min aftrek elders kry): “Wat die wêreld van vol is, loop die bekers van oor”.
Etlike bladsye lank, begin die gedig met lomperige en soms onpoëtiese, paradoksale reëls, en behandel dan by wyse van demonstrasie maar ook rasionele segging die oordaad wat ek voel ons wêreld kenmerk:
Oordaad is ’n misdaad waar die boeke veel
van praat. Minstens vyfhonderdduisend sê matig
jou aan en o tempering, o mores, verbeel jou
die fluisteringe in die see, die lispelinge aan
haar kus, die onderrokke met kant opgetrek
deur die maan al langs die kontinente is net
powere poësie, die amateur se watermerk.
So sê, altans, die keurders en verteerders
van gedigte, en ontken dat alles sonder maat
of mening is en tog esteties en genotlik in die dimensie:
oorweldigend. Hulle, die fynproewers wil veilig
ontroer word, het ’n gawe afwerking lief bo alles,
verduur disharmonie net in ’n duet met
harmonie. Die Groot Bang gaan hulle nie aan,
dat die oerplof lig skenk aan groot getalle, halsoorkop
in titaniese tuimelinge in die tallose atavars
van elektroniese doppelgangers in genadelose gange
van redelose rekenaars in hul Escherspel van gogols
en gogolplekse… onmoontlike syfers van anderkant
die wederkerende grens van oneindigheid, …
Waarom dan hoegenaamd voortgaan met dig, sou die skeptiese leser kon vra, as jy net nog uitspattige toevoegings maak tot die oordaad. Wel, daar is wel deeglik iets soos die estetika van die rommelwerf, of as found object soos in pop art, of in die patroonmatighede van chaos, soos in Willem Boshof se werk, alles ʼn onderdeel van ʼn ondergewaardeerde estetika van die hiperboliese (sien my essay: Klipgooi as tydverdryf: wiskunde en die poësie). En beide Blumenberg en Roland Barthes in sy Mythologies wys hoe so iets ʼn procede in die ontstaan van post-klassieke mites kan word – dink maar aan die mitologie rondom rocksterre en hul orgiastiese rites soos om eersteklas kabines te “trash”.
In Die Taal van Voëls is die mitiese ook uitgebou in die “gewone”, nie-hiperboliese, beelde en motiewe oor “dinge van die lug”: vliegtuie, standbeelde van engele, allerlei voëlsoorte self, die maan, sterre, son … Hulle was die usual suspects in menige digbundel, maar ek het hulle anders probeer maak, vreemd probeer maak deur hulle in die voëls se taal te beskryf, in die rukkerige ritmes van lompstappende en palpikkende wesens wat neerslag in die rukritmes en herhalings van baie van die gedigte gevind het. Natuurlik het die ou mites nie agterweë gebly nie, hoewel net Hefaistos, Ikaros, Narcissus en die Furieë dit by name in die bundel gemaak het.
Na die Taal van Voëls was my energie gefokus op die teater, maar in die meeste van my dramas is my ondersoek na die mitiese voortgesit. In Ching Chong Che sit ʼn ontgogelde Che Guevara in die hiernamaals en dekonstrueer sy eie mite, wat op die ou end meer gedien het om geld te maak vir kapitaliste. En hy moet homself verdedig teen aanklagte van rassisme. In Kom Terug Saartjie is die hoofkarakter gebaseer op die verhaal van Charlize Theron, wat wil probeer keer dat die “ware verhaal” oor die moord op haar pa op die lappe kom, en die stuk ondersoek die konstruksie van die mite van die Hollywood-aktrise, maar ook van Saartjie Baartman. In Drie Dosyn Rose kom Nelson Mandela en Animal Farm vlugtig aan die beurt. In die nog onopgevoerde Kruger se DNS is dit die mites van Paul Kruger en Modjadji wat die twee hoofkarakters op ʼn tog van self-ontdekking stuur. In My Broer, My Held, pak ek Oscar Pistorius aan. In my eerste lang fiksie, gepubliseer in 2012, Chaos, of Op soek na Superman bewerk ek die strokieskarakter en die mitologie rondom die gebroeders Wright.
Omdat Die Taal van Voëls so ʼn lekker ervaring was, het ek ʼn uitgewery deur my produksiemaatskappy vir teater onder die druknaam altoviolet op die been gebring. Sy eerste publikasie was my eie Notas uit die empire. Ek het ʼn drietal redakteurs en ʼn bladontwerper aangestel, maar tog is dit steeds as ʼn selfpublikasie gebrandmerk. Die ontvangs was meestal negatief, en die antagonisme was voelbaar, en alleenlik verstaanbaar as projeksies van wat nie-sielkundiges “impostor-sindroom” noem. Ek het gevoel ek oortree op ʼn terrein waar ek hoogstens verduur word, dat ek eintlik my goed moet vat en loop.
Die inspirasie, of wortelteks, was die filosofies-ekonomiese toom Empire deur Antonio Neri en Michael Hardt, en die kerngedagte: dat daar nie meer koloniale empires is nie, maar een empire van Everything, Everywhere All at Once soos die trefferfilm van 2022 dit het. Sy hoofstede is nie meer Londen of Parys nie, maar alle rykmansbuurte oral, van Governors Row in Abuja, deur Hyde Park in New York na Sandton in Johannesburg. En ons is almal die begunstigdes en slagoffers tegelyk.
Hierdie deurmekaarloop van statusse, funksies, tye en ruimtes het ek probeer bewerk in die aanvangsgedig “Lank Leef”, wat eindig met die reël: “Die empire is dood, lank leef die empire.” Hiervan is daar natuurlik oorvloedig getuienis in Suid-Afrika; om mee te begin, in die verklaring dat apartheid dood is terwyl dit bly voortleef in die ruimtelike skikkings van ons gemeenskappe en vir ewig sal, veral as die ANC rasseklassifikasie op ons wetboeke hou. Ek gooi verskeie mitiese figure uit die antieke tye saam met etlikes uit die moderne wêreldgeskiedenis: Hannibal en Armstrong, Iskender en Montgomery, Gutenberg en Mao, Bush en Theseus. En skep my eie avatar asof in ʼn rekenaarspeletjie, Kioko die Kazekami wat haar asem oor Frau Eva (Hitler) se blou ooglede laat gaan terwyl sy fluister: “Ek is die brieserige gees, die ninja in jou jassak.”
Dat hierdie spel met geskiedkundige figure egter ʼn misleidende spel is en jou nie rus vir jou siel gaan gee nie laat haar aan die leser sê: “Ek is dors weens gebrek aan kennis, ek is die djinn in jou tonikum”, en “Ek is die aamborstige orator, die duiwel in jou kattebak”. En in die volgende drie gedigte stel ek drie hopelik skrikwekkende mitiese figure voor: Die Keiser, sy Gesellin en sy Dienaar. Weereens is hulle nie vas te pen nie, die beskrywings is paradoksaal en oordadig-verhullend – jy kan die keiser alleen uitken aan die feit, na aanleiding van die sprokie, dat hy nie klere dra nie; die keiserlike gesellin daaraan dat sy nie geliefd is nie; en die dienaar aan sy versluierdheid as spioen.
Ek het werklik gedink, naïewelik, dat die bundel sou aanleiding gee tot ʼn debat, of minstens ʼn engagement met die kwessies wat ek probeer belig het: empire, kolonialisme, oorlog, uitbuiting, en hoe ons net nie daarvan kan wegkom nie. Maar niks het daarvan gekom nie. As iets misluk, is dit net wys om op jou eie spore terug te gaan, selfkritiek te beoefen en die gewone clichés soos “dit was darem leersaam” te lug. Ek kan dan ook geredelik erken dat sommige dele van die bundel net te obskuur was om ʼn debat te ondersteun, al maak obskuriteit juis baie digkuns waardevol omdat dit die enigste manier is om aan die oorweldigende oordaad aan redevoering te ontsnap.
Maar binne my private mite was dit nie so eenvoudig as om dit af te skryf en voort te gaan na die volgende ding nie. ʼn Reeks in die bundel, “Die smarte van empire”, bestaan uit elf sonette, met ʼn duidelike voorskrif om in ʼn vervelige toon en in ʼn stadige trant gelees te word, en handel oor die ellendes in ʼn land wat pas uit ʼn oorlog gekom het en nou deur al die skynheilighede van vredemaking moet gaan. Teen die sewende, agtste sonnet moet die leser agterkom dat daar eintlik ʼn digter-burokraat aan die woord is:
En so sal elf sonnette van ’n burger
oor mag wat hom of haar ontnugter
net water op die ryk se meule wees.
Die ritmes, gans te stadig, en ryme
wat hul lesers dwing tot swyme,
kan net trane pers uit weduwees
Sy ontgogeling en bedruktheid eindig so:
Eintlik is my smarte deur die empire
al gesien in triplikaat, gerangskik
in leggers in die vorm van ’n waaier
diep in ’n snippermandjie ingedruk.
Miskien sal simpatieke akademici
dit eendag ontdek en by vensters tob
oor ou style en selfs ’n bitter rusie
loods wat uitloop op ’n stywe dop.
Dalk is lof en verering nie uitgesluit
en te veel stof tot nadenke ten spyt
volg ’n ophemeling van my memorie.
Die reeks was bedoel om oor ʼn hipotetiese empire te gaan en nie noodwendig plaaslik toepaslik nie. Maar dit was moeilik om hom nie in die response te herken nie. Ten spyte van al die aanvalle van eerlikheid oor my tekortkominge het die oordeel by my bly steek dat die meeste van my mededigters en literêre deelnemers of geen benul het van die “big picture” waarin ons leef nie, of dit sienderoë miskyk. Daar was geen werklike poging om selfs die woorde van die titel aan te pak nie: Wat beteken empire vandag? Waarom word die inhoud notas genoem? Vir diegene wat gereageer het, was gedigte oënskynlik dinge om na gebruik maar gedweë in die empire se snippermandjie te laat druk.
My oorspronklike ambisie om hierdie digtersfiguur ʼn platform vir critique van empire te maak, het nou verskraal tot my eie persoonlike mite en my eie worsteling met my (nie)digterskap. Dit het gelyk of elkeen sy eie mite oor digterskap het en dit ten alle koste teen die buitewêreld probeer verdedig. Om te herhaal, kritici is onontbeerlik, en hulle hoef jou nie met rose en ʼn sjokoladietjie op jou kopkussing te ontvang nie, maar dit was asof my eie foute en tekortkominge gebruik is om ʼn dubbelbaan padversperring op te rig. Die ding is, dit het ook gelyk of die pad doodloop teen ʼn muur, die een met die skrif daarop. Wou ek in sulke selfbeperkende omstandighede digter wees? If I am a poet, I don’t wanna know it. Ek was terug waar ek op skool was, ʼn geheime digter, of op universiteit, ʼn self-ontkennende een.
Dit was in ʼn tyd toe ek weens ander struikelblokke in ander genres heeltemal wou afsien van literêre aktiwiteit. Weereens kon dit nie duur nie. Ek kon die gedigte nie keer om uit die snippermandjie te klim soos op ʼn LSD-trip nie. Hulle het my al die pad terug na daardie dag op Evander geneem toe die blits my tref, en die gevoel dat ek nou iets oor Johannesburg weet. Ek het gevoel dat die digkuns ʼn baie handige instrument vir ontdekking bly, al is dit dan net vir eie gebruik. En hoewel ek my in my Engelse digwêreld verdiep het, het die Afrikaanses bly gebeur – ook omdat ek nuuskierig was oor formele aanwinste.
Een taboe vir hedendaagse hekwagters is rymdwang, wat ek daarom na hartelus mee eksperimenteer het in Taal van Voëls al. Sulke dwangryme en harde osse-in-die-stowwe ritmes lok ander affekte uit, affekte wat die hoofstroomletterkunde miskien besig was om af te splyt in sy gediensigheid aan ʼn verglanste, vaartbelynde lewenswyse. Hier is ʼn kwatryn uit “Langeraat” in Notas uit die Empire:
Fregatte loop op gladde ratte
En trosse goddelose matrose
Alle vliegdekskepe is geslepe
Met ’n helifamilie uit die bose
Inhoudelik het dit my soms op onbedoeld onaangename terrein laat beland. So het die reeks “Bomme oor Bagdad” in Notas uit die Empire begin weens ontsetting oor die oorlog in Irak, wat ek in 2003 as joernalis besoek het. Al die vormlike hardhede het egter op ʼn ondersoek na verhoudings tussen man en vrou in tye van oorlog uitgeloop, veral na my epifaniese ontdekking dat Hooglied van Salomo ʼn misantropiese inslag het. En meer vanuit die hoek van daardie uitvaagsel, die huursoldaat. In die ontluistering van die mitologie rondom die Paradys, wat sommige brawe argeoloë in Irak plaas, werk die moderne mitologie rondom granate, ʼn kandidaat vir die vrug wat Eva sou geëet het, net ten dele as plaasvervanger.
Om verder van die keurslywe van Afrikaans te probeer wegkom, het ek die nuwe genre van fotogedigte begin verkondig. Een van die grootste plesiere van my artistieke loopbaan was om plakkate van fotogedigte in die arm dorpies rondom Oudtshoorn te gaan opsit, en die operasie ʼn paar dae later te moet herhaal want almal is intussen gesteel.
Die groot ontdekking was hoe goed gedigte werk om foto’s te lees – hoewel die twee praktyke op die ou end dalk net te verskillend bly – maar daar was ook ʼn nuwe tegniese ontwikkeling: aanvangsryme. Dit is om die eerste woorde in versreëls te laat rym of assoneer of op ander maniere met mekaar te verbind, in ʼn poging om die raming van foto’s, een van die min vormingsmiddele tot die fotograaf se beskikking, in die gedig se eie raming van woorde na te boots.
Met my volgende bundel, Seisoene op Parool, het ek die teenoorgestelde as met Notas beleef. Die ontvangs het my vir die eerste keer soos ʼn digter laat voel, natuurlik omdat die bundel deur ʼn hoofstroomuitgewer uitgegee is, en dit nie bekend was dat twee ander dit afgekeur het nie. Iemand het my geluk gewens dat ek nou uiteindelik deurgebreek het. Die ironie was dat ek enkele gedigte uit die vroeëre bundels ingesluit het, wat nou skielik hoog aangeskryf is.
Hier het ek weereens probeer werk met Barthesiaanse mitewerking, maar die bundel laat eindig met ʼn reeks oor Prometheus, soos behandel deur Franz Kafka, ʼn dubbele mite dus. Gangsters en hul wêrelde is so dikwels die materiaal vir veral Westerse rolprente en TV-reekse dat dit vir die buitestander nie meer moontlik is om waarheid en fiksie te onderskei nie. Ek het hulle gebruik om die seisoene te verpersoonlik, of sekere tye van die dag, en hoe die natuurlike verloop van dinge ooreenkom met die aktiwiteite van misdadigers, wat ons almal is met die perke wat ons kortstondige parool uit die gevangeneskap van die menslike kondisie aan ons oplê.
Die natuur as misdaad voer ek terug na die oerplof self, en die teorie dat die heelal begin het met prosesse wat ons in die wiskunde van simmetriebreking kan naboots. En kom dan by Prometheus uit, wie se mite om die eerste misdaad in die naam van die mensdom draai, die roof van vuur. As straf word hy vasgeketting met sy lewervretende aasvoël as sy enigste metgesel, en Kafka laat hom in sy kort geskrif al meer terugkrimp in sy rots, met die implikasie dat dit ook die mensdom se lot is, om fossiele te word.
Prometheus het my aangetrek omdat hy ʼn soortgelyke mite as Dedalus was, die figuur van my jeug as aspirant-fisikus. En ook deurspek met paradoksaliteit. Hy is beide skepper van mense en hul skepping, kan beide die toekoms voorspel maar nie aan sy lot as gekettingde titaan ontkom nie, en kan die mensdom bevry maar net deur die mensdom self bevry word. Hy is die vader van die antroposeen, en terselfdertyd is hy verdoem om in die aardse geologie en sy eras van verstening te verdwyn, a la Kafka.
Die grootste paradoks is dat hy bestaan uit beide steen, die mees materiële grondstof van die mens en uit woord, die mees serebrale. Die metafisiese “conceit” hier is die standbeelde van Prometheus wat toekomstige wesens in opgrawings op ʼn vergane aarde inderdaad in die argeologiese rekord sal kom oopkrap.
Maar in hierdie opset is daar nog groter fout, want so erg is die mense se uitbuiting van die aarde dat die vretende stowwe en nuwe organismes wat hy skep, en sy mag oor kernkrag dreig om alles te vernietig, en dat Prometheus selfs as steen nie gaan oorbly nie. Hy pleit dan as die digter in die reeks dat die mens hom moet bevry, sodat hy nuwe wesens kan skep vir ons almal se toekoms as halfdier-halfmens-halfrobot, wel wetende dat hy, Prometheus, homself ook sal vernietig, in ʼn soort selfmoord, as maaksel van die mens in taal.
Hiervoor het ek inspirasie gekry in die ekokritiek en die idees van Donna Haraway in die paradoksale taal van haar A Cyborg Manifesto.
Die reeks is bedoel om by “Wat die wêreld van vol is …” aan te sluit. Ook Prometheus maak hom skuldig aan ʼn oordaad – ʼn gordyn van woorde, soos Hein Viljoen dit in ʼn resensie stel – want die finale paradoks is dat hy tog wil oorlewe, en die enigste medium wat regtig oorbly, is woorde, want dis waaruit mites bestaan. Na ons almal se dood, is dit die volledigste, langdurigste voortbestaan waarop ons kan hoop: in ander se woorde.
Kan ek myself nou uiteindelik digter noem? My private mite het ʼn ander loop ook geneem, in die The Fall, ʼn ko-publikasie van altoviolet en Dyehard Press. Die bundel is ʼn lang verhaal en die hoofkarakter is Dedalus, die ingenieurseun van Groentegrieke wat self immigreer, en wat dan die neerstorting van sy vliegtuig oorleef, waarna hy deur ʼn militia gevange geneem word. Hy oorreed hulle om sy lewe te spaar in ruil vir die skepping van nuwe gode, want die oues het afgesterf. Hierdie nuwe gode verpersoonlik kragte in hul lewens, soos taxis, geld, werfbrakke, nuwe uitvindsels, slawerny, televisie, rommelhope … en hiervoor put ek uit my reise as joernalis in die res van Afrika.
Wanneer ek dit probeer bemark, vertel ek aan mense ek is “an Afrikaans poet”. Na ʼn jaar is die enigste terugvoer tot dusver dié van ʼn buurvrou wat ʼn tydjie in Sierra Leone gewoon het en met sekere sentimente in die gedigte identifiseer. Verder niks nie, nie van skrywerkollegas, vriende, familie of mense aan wie ek elektroniese weergawes gestuur het nie. Maar dis ʼn ander storie vir ʼn ander essay. Dalk.
