Christoff Stählin. Liedvertaling uit Duits in Afrikaans. Vert. deur Bernard Odendaal
ʼn Guitig-satiriese lied oor die beskoulike obsessies in die Duitse samelewing van die laat-1960’s en die 1970’s
Hoewel die Liedermacher van die begin af polities bewus was, het hulle nie liedwerk in gedagte gehad wat massas moes aanspreek of mobiliseer nie. Die organiseerders van die Burg Waldeck-byeenkomste het die soort chanson wat hulle wou skep, soos volg beskryf: “’n [L]ied wat daarteen stry om in koorverband gesing te word. Dan is dit ook ’n lied wat vir een toehoorder bedoel is en wat hierdie toehoorder betrek. Geen manifestasie van bruisende groepsgevoelens nie, maar ’n aanspreking van enkelinge … [D]ít is die onderliggende demokratiese neiging van alle chansons.”
Vanaf 1967, en veral vanaf 1968 toe omvangryke studenteopstande in Europa en Amerika voorgekom het, het die byeenkomste by Burg Waldeck verpolitiseerd geraak. Politieke betrokkenheid is as ’t ware van die Liedermacher geëis. Een van die vurigste voorstanders van hierdie tendens was Hanns-Dieter Hüsch. Hy het onder meer die volgende verwagtings aangaande die nuwe liedsoort gekoester: “Liedere maak geen rewolusie nie, dit is waar; maar die rewolusie maak liedere. Die ‘verhoog’ van die rewolusie is die straat. Die beste liedere sal die wees wat ’n mens ook onder die oop hemel kan sing … Die effektiefste lied sal in die toekoms die strooibiljet wees wat gesing word.”
Sulke radikale standpunte het natuurlik baie van die Liedermacher self vervreem. Bowendien was daar in die laat sestiger- en in die sewentigerjare soveel politieke kwessies en teenstrydige standpunte in die lug, dat die samehorigheidsgevoel onder hulle as Liedermacher gekwyn het. ’n Verdere kompliserende faktor was dat talle van hulle kommersieel suksesvol begin word het en toegewings na die kommersiële mark se kant toe gemaak het.
Die indiwiduele Liedermacher het al hoe meer hulle eie koerse ingeslaan. En die feit dat alternatiewe sangfeeste oral opgeskiet het, het die Burg Waldeck-byeenkomste hul unieke status laat verloor.
Christof Stählin druk met sy lied “Freundinnen” (in Afrikaans iets soos “meisies” of “nooiens”) op guitig-satiriese wyse die Liedermacher se ontnugtering met die ideologiese, politieke en maatskaplike obsessies van hierdie jare uit.
Dié lied is in 1973 op die langspeelplaat Privatlieder (“private liedere”) uitgegee – ’n titel wat Stählin doelbewus gekies het om sy teenstand teen die eis om politieke betrokkenheid uit te druk.
Freundinnen
Ich stell’ Ihnen jetzt meine Freundinnen vor
Der Freundinnen hab’ ich viele
Ich komme aber und ich weiss auch warum
Mit keiner recht zum Ziele
Meine Freundin Christenheit
Die ist ganz schön bescheuert
Sie kommt immer frisch vom Friseur und meint
Sie wär’ jetzt total erneuert
Meine Freundin die Arbeiterschaft
Die sagte mir ironisch
Dass sie jetzt ein Verhältnis mit dem Klassenkampf hätt’
Es wär’ aber nur platonisch
Meine Freundin die Revolution
Die möcht’ die Umstände wenden
Doch sie ist seit soviel Jahren schon
In anderen Umständen
Meine Freundin die Sexualität
Das is eine Hexe
Ich glaubte ich hätte ihren Busen in der Hand
Da waren’s zwei Komplexe
Meine Freundin die Herrschaftstruktur
Die hab’ ich überwunden
Ich habe sie nämlich umfunktioniert
Sie oben und ich unten
Mit meiner Freundin der Marktlücke
Mit der ist’s auch kein Leben
Denn wenn ich in sie stossen will
Dann stoss ich stets daneben
Meine Freundin die Universität hätt’ geglaubt
Sie wär’ die schönste aller Orten
Da hatte sie sich aber in dem Spiegel geschaut
Da ist sie rot geworden
Eine Freundin hab’ ich noch
Die liegt mir stets im Ohre
Dass ich beim Höhepunkt mitsingen soll
Das ist die Folklore
Meine Herren wenn ihnen eine meiner Freundinnen gefällt
Dann lieben sie sie nur tüchtig
Und behalten sie sie gleich wenn sie woll’n
Ich bin nicht eifersüchtig
- Teks en toonsetting: Christof Stählin (vrygestel op die langspeelplaat Privatlieder, Xenopfon, 1973; die liedopname kan afgelaai word by https://www.last.fm/music/Christof+St%C3%A4hlin/Privatlieder/Freundinnen)
***
[Stählin se liedteks toon talle metriese afwykings. Die vertaling is metries in ’n ietwat meer reëlmatige vorm gegiet.]
My meisies
Ek stel julle aan my meisies voor,
nie té klein in getal nie.
Ek vry na hulle, haal net nooit
met een van hulle die paal nie.
My nooientjie Christendom dink sy’s
tot goed lyk uitverkore;
het sy haar hare maar laat doen,
voel sy klaar weergebore.
My kaalvoet meisie, Werkersklas,
vertel, blatant ironies,
sy slaap graag ook by Klassestryd –
maar dis glo net platonies.
Die een wat Rewolusie heet,
wil nuwe tye meebring;
maar lol sy so, gaan sy lank in
die “ander tyd” nog deurbring.
Die nimf genaamd Seksualiteit
is suster van die hekse.
Ek dag ek het haar borste beet,
toe is dit twee komplekse.
Die fris een, juffie Heerserskorps –
ek kry haar moeilik onder.
Maar sy’t vir ons als uitgewerk:
Sy’s bo en ék lê onder.
Die loskop ene, Markgaping –
mens hou g’n huis met haar nie.
Want nes jy dink jy’s in haar in,
dan lê sy nie meer daar nie.
My nooientjie Universiteit,
eens mooi, vol idealisme,
kyk in die spieël van politiek …
sy’s rooi van die Marxisme!
Die laaste vroumens laat my bloos:
Sy hygneul in my ore
dat ons by klimaks iets moet sing –
haar naam is Sus Folklore.
Menere, as hulle jul geval:
Taboe is vat beslis nie.
En wil jul hulle vir jul hou –
ek sal hulle nie juis mis nie!
