Daar word dikwels na Jalāl al-Dīn Rūmī, wat nou in die Weste bloot bekend staan as Rumi, verwys as die Shakespeare van die Midde-Oosterse wêreld. Sy werk het in vertalings ‘n geweldige aanklank by lesers gevind en word as die topverkoper van alle digkuns in Amerika bestempel. My vertalings uit die Mathnawí hier aangebied is hoofsaaklik in die ghaselstyl met 11 lettergrepige pare soos die oorspronklike volgens my kommunikatiewe benadering tot ’n mistieke teks wat uiteengesit is in LitNet 15:1, 2018. Reëlverwysings gegee, is volgens Nicholson (1926-40) se vertaling, wie se werk geredelik beskikbaar is vir nagaan van die getrouheid van my weergawe.
Uit die Mathnawí
Die Rietfluitlied
I:1-181
Kom luister nou na die riet2 se hartseer klag
oor die pyn, na die skeiding, in elke dag:
“Vandat hul my uit die bed ontwortel het,
fluit my klaaglied elke mens se smeekgebed.
Ek soek na nog ‘n in twee geskeurde hart
wat ook kan deel in my verlangesmart.
Elkeen so ver weg van hulle bron geneem
verlang terug om weer daar te wees as een.
Ek kla my lot uit tussen skares alleen,
meng met hulle wat lag en hulle wat ween.
Dat ons vriende was, stel hulle tevrede,
nie een vra uit na my geheime rede.
My geheim lê digby wat my weeklag bring,
maar oog en oor kan nie deur die sluier dring.
Lyf en siel is nie van mekaar geskei nie,
tog mag niemand nou die siel te sien kry nie.”
Die geruis van die riet is vuur, nie wind nie:
mag wie sonder hierdie vuur is, wees soos niks!
Dis die Liefde se vuur wat in die riet is,
dis die Liefde se drif wat in die wyn is.
Die riet troos geliefdes van mekaar geskei,
sy toon het skerp deur ons sluier ingesny.
Wie het gif of teengif soos die riet ervaar?
Wie soos die riet medelyer of minnaar?
Die riet fluit oor die pad vol bloed wat voorlê
en wat mal Majnûn3 se liefdespassie sê.
Slegs sinneloses is dié sin beskore:
dié tong ken slegs die oor wat mistiek kan hoor.
Met ons smagting word die dae soos nagte:
ons dae reis saam met koorsige klagte.
Gaan ons dae verby, kan hul maar gaan.
U, die heiligste van almal, bly bestaan.
Elkeen word vol van water behalwe vis4;
elkeen sonder brood vind dat die dag lank is.
Groenes verstaan nie rypes in Gods bestel,
daarom moet my toespraak verkort word. Vaarwel!
- Die ghasel bestaan gewoonlik uit 3 tot 17 tweereëlige strofes of “beits” (Persies) met die rymskema aa, ba, ca, ens., maar Rumi gebruik paarrym.
- Die Persies ‘ney’ dui sowel die riet as die musiekinstrument, die fluit, aan.
- Majnûn, letterlik ‘die malman’, is die naam in die Persiese letterkunde wat Qays, Layla se minnaar, gekry het na hy smoorverlief op haar geraak het.
- Die goddelike genade is vir die mistikus soos water vir die vis, maar sy dors kan nooit geles word nie.
Gebod
II:1770
Liefdesgodsdiens verskil, het slegs een gebod;
vir minnaars is al godsdiens en credo – God.
Fases
III:527-30
Waarlik, van elke mens is vorm, fase een;
daarna kom die gees, mooi ingestel, se seën.
Als is eers vorm, dan kom die heerlike smaak
wat die ware betekenis daarvan maak.
Eers maak of koop hul ’n tent wat hulle pas;
daarna bring hulle die geliefde as gas.
Ag jou vorm as tent, jou wese die geliefde.
ag jou wese as piloot, jou vorm as boot.
Pêrels
IV:341–344
My woorde kom gebroke uit, hart gehaal;
dis pêrels en Gods jaloesie wat dit maal;
al is die pêrels klein gefragmenteer
word dit oogwater vir die geestesoog se seer.
O pêrel treur nie omdat jy gebreek word,
want deur gebreek te wees, sal jy ligstraal word.
Die woord moet so gebroke, in pleisters kom;
God, selfgenoegsaam, maak dit eindelik heel deur hom.
Sintuie
IV:425-33
Snags word elke huis met ’n lamp verlig
dat in sy lig mense duisternis ontvlug.
Die lamp is dié lyf, soos die dieresiel sy lig;
dit het dit en dat en ook ’n pit nodig.
Daardie lamp met ses pitte, ons sintuie,
is heeltemal gebaseer op slaap en kos.
Sonder kos en slaap leef dit skaars ’n moment;
selfs met kos en slaap kom leef ook tot ’n end.
Sonder daardie pit en olie hou dit nie
en dis verganklik ook met pit en olie,
want sy lig, sekondêr verbind, bly soek dood:
hoe leef dit as helder dag lei tot sy dood?
Ook ons sintuie het slegs tydelik krag,
want dis soos niks teenoor die opstandingsdag.
Iets van ons vaders se sintuie en gees
bly oor, nie soos die gras nie, om nog te wees,
maar soos die sterre en maanstrale se dans
verdwyn hulle almal in die Son se glans.
Beskrywing
V:2189-92
Sou ek beskrywings van Liefde bly aanbied,
sal alles vergaan en dit nog te kort skiet;
want daar is ’n perk aan die Opstandingstyd,
maar God se kenmerke is onbeperk wyd.
Liefde het vyfhonderd vleuels en elkeen strek
van bo die hemel verby die aardse plek.
Die askeet draf bedees; minnaars tot God verbind
vlieg vinniger as die weerlig en die wind.
Die gastehuis
V:3644-46, 3676-81, 3693-95
Hierdie menswees is vir ons ’n gastehuis:
elke oggend bring ’n nuwe aankoms tuis.
Pas op, sê nie die gas is vir my ’n las
hy mag skielik weer na niebestaan verkas.
Verwelkom gul as gas in jou hart ook al
wat uit die onsigbare binneval.
Elke dag kan ’n ander gedagte kom,
soos ’n geëerde gas in jou boesem om.
Siel, sien denke asof dit mens kan wees,
want dié kry waarde van dink en gees.
As dink aan treur, jou vreug hinderlik beperk,
dit maak mos vir ongekende vreugde plek.
Groet ook dié wat met geweld jou huis leeg vee,
dat nuwe vreug van goedheidsbron in kan tree.
Dit verwaai geel blare van die hart se loot
dat immer, groen blare opnuut uit kan stoot.
Dit ontwortel ou vreug, dat die nuwe plesier
van die Bokant in marsjeer om fees te vier.
Kom die donker gedagte jou bors weer in,
gaan dit laggend tegemoet en nooi dit in.
Sê, “O my Skepper, bewaar my van boosheid:
weerhou U guns nie, laat my deel in goedheid.
O Heer, laat my dank vir wat ook al ek kry:
geen berou al gaan die voordeel verby.”
Ghaselle
Begeerte
Wys jou gesig, want ek begeer die boord en roostuin; 1
open jou lippe, want ek begeer suiker in oormaat.
O son, wys uit die wolk se sluier jou gesig,
want ek begeer daardie stralende, gloeiende aangesig.
Uit liefde vir jou het ek gehoor gegee aan die valketrom;
oor die sultan se arm wat ek begeer, het ek terug gekom.
“Verpes my nie meer nie,” het jy wispelturig gesê, “gaan weg!”
Ek begeer hoe jy sê “Verpes my nie meer nie.”
En hoe jy my wegstuur met “Vertrek, hy is nie tuis nie,” 5
en die houding en trots en hardheid van die deurwag wat ek begeer.
O soet bries wat van die Vriend se blomakker waai,
waai oor my, want ek begeer wat die balsemkruid uitsaai.
Die noodlot se brood en water is soos ’n verraderlike vloed;
ek is ’n groot vis en begeer die See van Oman.
Soos Jakob klink my droewige huilroep op,
ek begeer die prag gesig van Josef van Kanaän.
God weet, sonder jou is die stad vir my soos ’n tronk se erf.
ek begeer om oor berge en woestyne te swerf.
In een hand ’n wynbeker en in die ander ’n haarlok van die Geliefde; 10
so ’n dans in die middel van die mark is my begeerte.
My hart is afgerem deur hierdie kleingelowige metgeselle;
ek begeer die Leeu van God en Rostam*, seun van Zal.
Skaafsels skoonheid besit elkeen wat bestaan;
ek begeer daardie steengroef en myn met uitsonderlike skoonheid.
Al is ek bankrot, sal ek ’n klein karneoolsteen nie aanvaar nie;
die myn met seldsame, trillende karneool is my begeerte.
*’n Legendariese held in die Persiese mitologie, altyd uitgebeeld as die magtigste Iranse heilige kryger.
Verlate
Ek is ’n skilder, ’n prentjiesmaker; elke oomblik skep ek ’n skone beeld,
en dan in jou aanwesigheid smelt ek hulle almal weg.
Ek roep ’n honderd beelde op en blaas ’n gees in hulle in;
wanneer ek jou beeld aanskou, gooi ek hulle in die vuur in.
Is jy die wynhandelaar se skinker of die vyand van hom wat nugter is,
of is dit jy wat elke huis wat ek bou tot bouval wis?
In jou is die siel opgelos, met jou is dit vermeng;
Kyk, ek sal die siel koester, want dit dra van jou parfuum.
Elke druppel bloed wat uit my vloei, sê vir jou stof: 5
“Ek is een kleur met jou liefde, ek is die maat van jou liefdeshof.”
In die huis van water en klei is hierdie hart verlate sonder jou;
O Geliefde, kom in die huis in, of ek verlaat dit nou.
Bronnelys
Arberry, A. J. (vert.). 2009. Mystical poems of Rumi. Vols. 1 & 2. Chicago: University of Chicago Press.
Chittick, William C. 1983. The Sufi path of Love. Albany: State University of New York.
Chittick, William C. 2005. The Sufi doctrine of Rumi. Bloomington, Ind.: World Wisdom.
Nicholson R.A. (vert.). 1926-40. The Mathnawí of Jalálu’ddín Rúmí. London: Luzac & Co.
https://www.academia.edu/8617461/THE_MATHNAW%C3%8D_OF_JAL%C3%81LUDD%C3%8DN_R%C3%9AM%C3%8D_Vol_1_6_by_R_A_Nicholson
Gamard, Ibrahim en Farhadi, Rawan. (verts.). 2008. The Quatrains of Rumi: Rubâ’iyât-é Jalâluddîn Muhammad Rûmî-Balkhî. San Rafael, California: Sufi-Dari Books.
Helminski, Kamille & Camille. (verts.). 2005. The Rumi Collection. Boston & London: Shambala.
Lewis, Franklin D. 2000. Rumi: Past and Present, East and West: The Life, Teaching and Poetry of Jalal al-Din Rumi. Oxford: One World.
Lewis, Franklin D. (vert.). 2007. Rumi: Swallowing The Sun. Oxford: Oneworld.
Osborne, Jeffrey R. (vert.). 2017. Divan-i Kabir, Volume I &2: The Quatrains: Jalal al-Din Rumi. Scotts Valley, Cal.: Createspace Independent Publishing Platform.
Osborne, Jeffrey R. (vert.). 2018. Divan-i Kabir, Volume III: The First Meter: Jalal al-Din Rumi. Scotts Valley, Cal.: Createspace Independent Publishing Platform.
Schimmel, Annemari. 1991. Look! This is Love. Boston: Shambala.
Schimmel, Annemari. 1993. The Triumphal Sun. New York: State University of New York.
Williams, Alan. (vert.) 2007. Spiritual Verses, The First Book of the Mathnawí-ye Ma’navi. London and New York: Penguin.