
Die literêre ontledings van towerspreuke is opvallend afwesig in Afrikaanse literatuur, wat waarskynlik toe te skryf is aan die taboewaarde daarvan binne die Calvinistiese konteks, maar ook aan die Europese herkoms en wortels van dié esoteriese tradisies.
In Literêre Terme en Teorieë is daar lemmas wat verwys na “Toorliteratuur” en “Spreuke”, maar nie alle spreuke is esoteries van aard nie. Die begrip “toorliteratuur” is bowenal generies en egter net so problemeties soos die woorde “okkult”, “heksery”, “heidens’’, en dies meer: woorde wat reeds swaar dra aan die pejoratiewe gewig van hulle Afrikaanse kultuurherkoms, en in baie gevalle die outomatiese en onregverdige konnotasies met Satanisme of die Bose. Ek vermy om laasgenoemde rede dié woorde, en volstaan by die gebruik van die woorde “esoteries”, as toespeling op verborge kennis, en die woorde “Wicca’’ en “paganisties” om hierdie ingeboude vooroordeel te vermy.
Literêre Terme en Teorieë bied wel ’n panoramiese oorsig op toorliteratuur in die antieke tyd, die Middeleeue en Renaissance, met enkele verwysings na Clavicula Salomonis, Romanusbüchlein en Sechstes und siebentes Buch Mosis, asook sommige towerboeke wat towerformules, seënspreuke en verwensingsformules bevat. Ek keer later weer terug na Clavicula Salomonis.
Breedweg gesproke bestaan daar baie esoteriese tradisies. Hier volg ’n oorsig van die belangrikste groeperinge en strominge: nieu-paganisme; Wicca; Druïdisme; die rekonstruksie van talle antieke godsdienste; Westerse esoteriese en Oosterse mistieke strome, en kleiner, moderne eklektiese strominge, soos byvoorbeeld die New Age-beweging. Die lys is nog lank.
Heelwat van die ou towerspreuke is poëties van aard en Jonathan Roper het hom daarop toegespits om die poëtika van hierdie towerformules en -spreuke na te speur.
In die klassieke, eklektiese werk, Cunningham’s Book of Shadows: The Path of an American Traditionalist, tref mens byvoorbeeld die volgende spreuk aan:
Invocation of the elements
Air, fire, water, earth
Elements of Astral Birth;
I charge you now; Attend to me!
In the Circle, rightly cast;
Safe from psychic curse and blast;
I charge you now; Attend to me!
From cave and desert, sea and hill
By wand, blade, cup and pentacle
I charge you now; Attend to me!
This is my will, so mote it be! (27)
Alhoewel die hele boek soos vloeibare poësie lees, beklemtoon Cunningham dat ’n digterlike stylgreep soos rym die “rituele onderbewuste” open. Cunningham’s Book of Shadows bevat, naas towerspreuke, ook riglyne vir invokasies, ’n kruie-grimoire, en die skrywer se handgeskrewe simbole en runes. Die werk word deur baie beoefenaars van Wicca gesien as ’n waardevolle en outentieke blik op die skrywer se persoonlike esoteriese praktyk.
Wicca het sy oorsprong in die ouer natuurgelowe wat klem lê op die eerbiediging van die groot sabatte wat met die wisseling van die jaargetye saamgaan, alhoewel baie aanhangers nie na Wicca verwys as ’n geloof nie, maar as ’n praktyk.
Wicca is dus breedweg beskou ’n nieu-paganistiese-beweging in die gedaante van verskillende strominge wat dwarsoor die wêreld voorkom, en veral in Anglo-Amerikaanse lande uitgebrei het. Die term “Wicca” is afgelei uit die ou Angel-Saksiese taal en beteken letterlik “waarsêer” of “die wyse een”.
Afrikaans is egter nie die enigste taal wat tekortskiet aan kritiese terminologie as dit by esoteriese tekste kom nie. In Towards a Poetics, Rhetorics and Proxemics of Verbal Charms (2003), deur die reeds genoemde Jonathan Roper, poog die skrywer om ’n poëtika te ontwikkel in die analise van verbale towerspreuke. Hy wys daarop dat studies van spreuke in die Engelstalige wêreld (en elders) dikwels onderontwikkel is, omdat daar ’n gebrek is aan geskikte terminologie om hulle digterlike, retoriese en performatiewe aard te beskryf.
Met verwysing na die begrip “charm” wys Roper op die etimologieë van die woord, asook die ooreenkomste met die woorde “song” en “speak”:
“First off, a brief consideration of a few etymologies can help to better distinguish the subject of this study. Middle and Modern English charm, (which is a French loan into Middle English ultimately derived from a reflex of the Latin word carmen ‘song’), and Old English galdor, gealdor (which Grattan and Singer define as ‘a common word always associated with singing for a magical purpose’), both imply a series of sung, or at the least, half-chanted, vocables. But on the other hand, the occurrence of tell, as root-word of the Middle English terms for a ‘charmer’, telster, and for a ‘charm’, teling, also, teoling and tellunge) , when considered together with the roots of other words of the same meaning in various other European languages (South Slavic odgovor, East Slavic zagovor, both from the common Slavic root govor, ‘speech’; German besprechen and [Zauber]spruch, cognate with the German verb ‘to speak’;”
Vir die doel van die artikel gebruik ek die woord “towerspreuke” as oorkoeplende verwysing na “spells” en “charms”. Bestaan daar dus iets soos ’n poëtika van (verbale) towerspreuke? Ja, inderdaad.
Towerspreuke word as tradisionele verbale uitinge/tekste (mondelings en geskrewe) beskou wat d.m.v hul uitwerking ’n “bonatuurlike” verandering in die wêreld bewerkstellig (soos gesondheid, geluk, veiligheid of liefde). Hierdie spreuke is dikwels poëties, maar hul praktiese doel is belangriker as hul suiwer literêre waarde.
Mens kry ’n groot verskeidenheid towerspreuke in volkskuns en tradisionele magie regoor die wêreld, wat meesal volgens hulle doel geklassifiseer word. Hier is enkele van die belangrikste soorte wat veral in die Europese (en Germaanse) tradisie voorkom:
Genesings- en heilspreuke; losmaak- of bevrydingspreuke; beskermings- of afweerspreuke; liefdes- en aantrekkingsspreuke; weer- en landbouspreuke; geboorte- en vrugbaarheidspreuke; jag- of oorlogspreuke; droom- of waarsêerspreuke; vervloekingspreuke, en uitdrywingspreuke.
Let op die digterlike kwaliteit van dié voorbereidingsritueel, geneem uit Earth, Air, Fire & Water (1991):
From the soil; from the stone;
From the wind-swept sky;
From the flaming power cone;
From the water’s sigh;
I now call the blendid force
Of Elemental power;
Come here from your primal source:
Be here in this hour!
Asook:
As above, so below.
So money in my life does flow.
Land to sky, shore to shore,
this money brings me money more.
Wicca Spellbook Starter Kit: A Book of Candle, Crystal, and Herbal Spells (Lisa Chamberlain, 2018).
In byna alle godsdienstige, esoteriese en nieu-paganistiese tradisies speel die klankmatige en prosodiese eienskappe van taal ’n sentrale rol in gebede, mantras en towerformules. Die herhaling van klanke, ritme, metrum, alliterasie, assonansie en rym word nie net as estetiese versiering gesien nie, maar as aktiewe kragte wat die bewussyn beïnvloed, energie fokus, en ’n verbintenis met die heilige of die magiese skep.
In ’n naamlose fotokopie van ’n Rooms-Katolieke gebedeboek, ’n geskenk aan my, herroep ek die volgende juweel:
Guardian Angel Prayer
Angel of God, my guardian dear,
to whom God’s love commits me here,
ever this day be at my side,
to light and guard, to rule and guide.
Amen.
In Hindoeïsme en Boeddhisme is mantras ’n klassieke voorbeeld. Die heilige lettergrepe (soos Om, uitgespreek as “Aum”, die oerklank), word met presiese uitspraak, toonhoogte en ritme herhaal. Die vibrasie self word as skeppend en transformerend beskou – die klank is nie net ’n middel om iets te sê nie, maar ’n krag wat die liggaam en gees as’t ware stem.
Antieke towerspreuke maak insgelyks gebruik van rym (en verwante klankpatrone soos alliterasie, assonansie en metrum), omdat hierdie formalisering die teks se geheuewaarde, performatiewe krag en vermeende magiese doeltreffendheid versterk. Dit maak van sulke tekste wel ’n literêre (of mondelinge letterkundevorm), al is hul primêre doel prakties eerder as suiwer esteties.
In mondelinge samelewings was presiese oordrag van kennis belangrik. Rym, metrum, herhaling en parallelisme dien as mnemoniese hulpmiddels: hulle maak dit makliker om magiese formules akkuraat te onthou en oor te dra. In towerspreuke is die akkuraatheid van die woorde self belangrik, want die “regte” formulering word as deel van die magiese werking beskou.
Mnemoniek, op sy beurt, is ’n geheuehulpmiddel – ’n metode, rym, akroniem, beeld of assosiasie wat jou help om inligting makliker te onthou.
Daarbenewens is daar ’n wye oortuiging – van antieke Egipte, Griekeland en China tot Germaanse en Angel-Saksiese tradisies – dat gestruktureerde, ritmiese taal self oor magiese krag beskik. Klankpatrone skep ’n inkantatoriese krag : die herhaling en eufonie versterk die intensie, skep ’n beswymings- (trance-agtige) of hipnotiese effek, en help om die rasionele verstand te omseil sodat die onderbewussyn die bedoeling dieper absorbeer. In Chinese dagboeke (daybooks), rituele formules en bidtekste word rym gebruik om die vermeende doeltreffendheid van gebede en beswerings te verhoog. In Angel-Saksiese metriese towerspreuke en ander Europese tradisies is alliterasie, rym en herhaling nie bloot dekoratief nie, maar funksioneel – die vorm dien die magiese doel. Eufonie, as stylkenmerk, gee vooraang aan die klank (van die woorde) wat ’n melodieuse, vloeiende of musikale effek skep wanneer die teks hardop gelees of gehoor word.
Ook die Merseburgerse towerspreuke (in Oudhoogduits) en die Angel-Saksiese metriese towerspreuke kombineer narratiewe elemente met besweringsformules wat sterk op klankspel steun. Latynse en Grieks-Romeinse inkantasies gebruik dikwels herhaling, variasie en soms rym of alliterasie.
Die vraag is nou: Maak hierdie gebruik van prosodiese en poëtiese tegnieke van towerspreuke ’n literêre genre? Ja, in baie opsigte. Dit is ’n genre van mondelinge literatuur met duidelike stylkenmerke soos “formuletaal”, klankpatrone, prosodie, parallelisme, herhaling en dikwels ’n duidelike rituele of narratiewe struktuur wat gesing, gespreek of “uitgevoer” kan word. Towerspreuke word inderdaad ook in volksdigbundels opgeneem en ontleed met begrippe uit die poëtika en retoriek. Hulle is nie suiwer literatuur in die moderne sin van outonome kuns nie – hulle doel is om die wêreld te verander (deur byvoorbeeld genesing, beskerming, vrugbaarheid, ens.) – maar hulle lê op die grens tussen magie, ritueel en digkuns. Die estetiese element is inherent aan die seremoniële aard daarvan; alhoewel ’n herkenbare literêre genre, bly die funksionele, performatiewe karakter primêr. Die grens tussen “magiese formule” en “gedig” is histories dikwels poreus.
In nieu-paganistiese en Wicca-tradisies is rymende towerformules ’n kenmerk. Towerspreuke word dikwels in kort, metriese reëls geskryf met paarrym of herhalende woorde/frases (“By earth, by air, by water, by fire…”), alliterasie (“powerful protection prevails”) en herhaalde chants wat energie opbou en die gevoel van magiese werking versterk.
As gevolg van Afrikaans se Calvinistiese herkoms is spreuke van hierdie aard maar dun gesaai. Tog; ’n bekende afweerspreuk om bose magte, spoke, goëlery of towery af te weer, is “Wyk, Satang!/Satan!’’; of om op vratte te blaas en te sê “Gaan na die maan!”
’n Ander interessante eienskap van towerspreuke is die gebruik van die palindroom. ’n Palindroom is onder meer ’n literêre stylfiguur omdat dit taal as speelse, simmetriese en selfreflekterende medium verbeeld. Dit is juis die kombinasie van speelsheid, visuele/strukturele skoonheid en simboliese potensiaal wat dit literêr maak. ’n Palindroom wat dikwels in die Papyri Graecae Magicae (PGM) aangetref word, is “ABLANATHANALBA”.
En bogenoemde bring ons by voces magicae: dit is spesiale “magiese” woorde of toorwoorde, frases of lettergrepe wat nie-semanties, m.a.w sonder ware betekenis is, en aangetref word in antieke esoteriese tekste. Hierdie inkantasies se krag het gelê in die uitspraak, ritme en misterieuse kwaliteit van die woorde. Mens sien dikwels speelgoed vir kinders met die woord “Abrac/kadabra” op (dis ook gewild by kinderpartytjies), maar Abracadabra is egter ’n antieke woord, soos gebruik deur magiërs in die wydste sin van die woord, as deel van towerspreuke.
Die herkoms van dié woord is nie heeltemal seker nie, maar kan teruggespoor word na die Aramees en Hebreeus vir “ek skep soos ek spreek”.
Abracadabra is insgelyks in die antieke volksremedies van die Romeinse geleerde, skrywer en geneesheer, Quintus Serenus Sammonicus se towerformules teen siekte en koors gevind (die 2de of 3de eeu n.C.).
Die woord moes in ’n driehoekige vorm op ’n stukkie materiaal of papier geskryf word, wat dan om die nek van die pasiënt gehang is. Die ‘verdwynende’ letter van die towerwoord, wat telkens weggeneem is, was dan ook ’n simboliese manifestasie van die siekte of koors wat opklaar.
ABRACADABRA
ABRACADABR
ABRACADAB
ABRACADA
ABRACAD
ABRACA
ABRAC
ABRA
ABR
AB
A
Vervolgens, ’n fragment uit ’n konjureringspreuk, geneem uit Clavicula Salomonis (Key of Solomon), soos vertaal deur S. L. MacGregor Mathers uit verskeie antieke tekste/grimoires (The Key of Solomon the King, 1989.)
“By the Holy Names of God written in this Book, and by the other Holy and Ineffable Names which are written in the Book of Life, we conjure ye to come unto us promptly and without any delay… by these Holy Names: ADONAI, TZABAOTH, EL, ELOHI, ELOHIM, SHADDAI; and by EHEIEH, YOD HE VAU HE…”
Let op die Bybelse toespelings; die herhalende, hiërargiese bevelstaal in die spreuk, en die ritmiese akkumulasie van woorde wat op krag/mag dui.
Deur laasgenoemde enumerasie word dié stylfiguur ingespan as retoriese middel om die name van God te beklemtoon, tot lewe te wek, of om ’n klimaks te bewerk.
’n “Historiola” is ’n term wat Jonathan Roper meld in sy artikel, en wat ook ’n ánder belangrike deel van talle towerspreuke uitmaak, naamlik dat ’n historiola letterlik ’n “klein storie” of “klein geskiedenis” beteken en saamdra in so ‘n spreuk. Dit is die narratiewe gedeelte van ’n towerspreuk waarin ’n heilige, Bybelse of mitologiese figuur (bv. Jesus, ’n engel, ’n heilige of ’n god) ’n probleem of vyand oorkom.
Deur die storie te vertel, word die magiese krag van daardie vorige oorwinning geaktiveer en oorgedra na die huidige probleem. Dit is een van die tipiese strukturele dele van narratiewe spreuke.
Roper verwys ten laaste na die proksemiek (“proxemics”), wat op sy beurt die studie is van hoe mense ruimte inspan in kommunikasie en interaksie. Die term is in die 1960’s deur die Amerikaanse antropoloog Edward T. Hall geskep. Jonathan Roper gebruik proksemiek spesifiek vir die nie-verbale, ruimtelike en performatiewe aspekte van towerspreuke. Dit sluit in: Die fisiese handelinge en gebare wat saam met die woorde van die towerspreuk uitgevoer word; die ruimte waarin die spreuk uitgevoer word; die gebruik van voorwerpe tydens die seremoniële handeling, en die tyd, plek en omstandighede wat nodig is vir die uitvoering.
Roper beklemtoon dat ’n towerspreuk nie net ’n teks is nie, maar ’n volledige performatiewe handeling, met spesifieke ruimtelike en liggaamlike reëls. Sonder hierdie proksemiese elemente verloor die blote teks baie van sy betekenis.
Roper bepleit ten slotte ’n benadering om towerspreuke as ’n outonome genre te bestudeer, eerder net as volksmedisyne of “minor poetry”. Dit kombineer die poëtiese, retoriese en performatiewe-analises, en is bedoel om vergelykende studies van towerspreuke in verskillende kulture te bevorder.
Verwysings:
Chamberlain, L. 2018. Wicca Spellbook Starter Kit: A Book of Candle, Crystal, and Herbal Spells. Chamberlain Publications (Wicca Shorts).
Cloete, T.T. (red.).1992. Literêre Terme en Teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.
Cunningham, S. 2002. Earth, Air, Fire & Water. Minnesota: Llewellyn Publications.
– . 2009. Cunningham’s Book of Shadows . The Path to an American Traditionalist. Minnesota: Llewellyn Publications.
MacGregor Mathers, S.L. 1889. The Key of Solomon the King. Londen: George Redway.
Roper, J. 2003. Towards a Poetics, Rhetorics and Proxemics of Verbal Charms. Folklore 24.
Wikipedia: Wicca. https://en.wikipedia.org/wiki/Wicca. (31 Oktober 2026 besoek.)
