In my St. IX-jaar op Harrismith het ek en ’n Grieks-Cipriotiese skoolvriend, Costa André Georghiou (later die digter van Oblivium, 2018), twee dae lank met die trein van Harrismith af Kaap toe gereis om by my oom en tannie, Les en Bes Luyt, te gaan kuier. Hulle het kort tevore van Windhoek na die Kaap verhuis.
Toe ons op Bellville-stasie aankom en die meeue bo ons hoor krys, was dit my eerste kennismaking met die Kaap. My oom-hulle het in Parow gewoon, vanwaar daar ’n mooi uitsig in die rigting van Tafelberg was. Saans het ek die see van liggies geniet en my sterk aangetrokke tot die Kaap gevoel.
Ons uitstappies na die stad het besoeke aan die Kasteel, die Parade, die Kompanjiestuin, die Suid-Afrikaanse Museum en die Planetarium ingesluit. Ons het ook plate- en boekwinkels besoek, iets wat vir ’n seun uit die Noordoos-Vrystaat besondere vreugde gebring het.
Die veelkleurige Parade, die Parlementsgebou, die blommeverkopers in Adderleystraat en die klanke van Kaapse Afrikaans om ons was nuwe ervarings. My neef Norman, saam met wie ek twee jaar tevore graag in Windhoek rondgestap het, was toe in St. III. Hy is saam met ons in die kabelkar op na Tafelberg. Deur die gemonteerde teleskoop op die berg, wat soos ’n wakende oog oor Kaapstad uitkyk, kon ek Robbeneiland sien. Ek het min van die eiland geweet, behalwe dat politieke gevangenes daar aangehou is en dat dit vroeër ’n plek van afsondering vir melaatses was.
Veral waardevol was my besoeke aan die Groote Kerk-boekwinkel, waar ek boeke van die Sestigers en ander literatuur uit die vroeë 1970’s kon aankoop. Ek het spoedig groot vreugde geput uit N.P. van Wyk Louw (samest.) se Windroos (1963), Breyten Breytenbach se Kouevuur (1967), André P. Brink se Die ambassadeur (1964) en John Miles se kortverhale in Liefs nie op straat nie (1971) en die roman Okker bestel twee toebroodjies (1973).
Teen dié tyd het ek reeds, danksy my uitgebreide leeswerk gedurende die voorafgaande jare, kennis gemaak met Brink se Lobola vir die lewe (1962) en Einder (1966) in die Carnegie-biblioteek op Harrismith, asook Ingrid Jonker se Rook en oker (1963) en Breyten Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet (1964), wat ek per pos ontvang het. Die opwinding en betowering van die Sestigers se werk het reeds deur my are gevloei.
Ek het die hulpvaardigheid en aangename atmosfeer in die Kaapse boekwinkel geniet en terselfdertyd ’n waardering vir die Kaapse uitgewers ontwikkel. Kon ek toe vermoed dat ek eendag self by Human & Rousseau in die Kaap sou uitgee, met mense soos Koos Human, Ampie van Straten, Linette Viljoen en Kerneels Breytenbach sou saamwerk, saam met hulle in Die Here XVII, die Mount Nelson en die Montreux-hotel sou eet, en dat vier van my digbundels daar sou verskyn? Destyds het dié gebeure egter nog ver in die toekoms gelê.
Een aand het Costa en ek die rolprent Doctor Zhivago in ’n teater in die Sanlam-sentrum (vandag Parow Centre) gaan kyk, nie ver van my oom-hulle se huis in Frieslandstraat 2 af nie. Die sneeulandskappe wat David Lean geskep het, die oorrompelende spel van Omar Sharif en die temamusiek van Maurice Jarre het my betower. Costa het in dié tyd Boris Pasternak se roman gelees waarop die rolprent gebaseer is en ’n lang lys van die Russiese name in die boek opgestel.
Nie lank nadat ons in die Kaap aangekom het nie, is ek deur griep platgetrek, wat die vakansie vir my redelik bederf het. Ek dink ek het siek geword toe ek een aand saam met oom Les, Harry van langsaan, Costa en Norman op Hartleyvale-stadion na ’n sokkerwedstryd tussen die destyds wit spanne van Hartleyvale en Pretoria Shepherds gaan kyk het.
Een oggend is ek saam met die buurvrou, tannie Anne, en Costa na Kaapstad, waar sy gewerk het. Ek het egter so siek gevoel dat ek die grootste deel van die tyd met kouekoors op die agtersitplek van die motor gelê het. Buite het dit gereën en die ruite het erg aangewasem. (Harry en Anne het hulle kleinseun, Marc, en ’n mooi kleindogter, Natasha, grootgemaak.)
Terwyl ek nog siek was, het ons deur die toedoen van ’n kennis van Costa die geleentheid gekry om ’n paar dae op ’n plaas naby Malmesbury in die Swartland te gaan kuier en in die plaashuis van oom Akker Smit en sy vrou (wat was haar naam nou weer?) tuis te gaan. Ons het in ’n karaktervolle kamer met ’n stapelbed geslaap, ek bo en Costa onder, sodat ons mekaar se nagtelike bewegings kon hoor en mekaar daaroor kon terg.
Ons het saamgery na die Swartlandse Wynkelder op Malmesbury, waar Akker Swartland Hanepoot en dopwyn vir die bruin werkers op die plaas in groot houers laat tap het. Die wyn is in groot plastiekkanne afgemeet en weggedra.
Elke middag en aand was daar Hanepoot op die geelhouttafel, waarvan ons ruim kon drink. Ek was versot op die soet smaak en goudgeel kleur van die wyn. Dit was heelwat lekkerder as die eerste, taamlik droë en suur wyn wat my oupa Oosthuizen-hulle by die Oranjerivier Wynkelder langs die Gariep gemaak het.
Geen beperkings is op ons geplaas wat die Hanepoot betref nie, en teen die laataand was ek soms effens onvas op my voete. Die gesprekke en meningswisselings om die tafel, onder meer oor die werk van die Sestigers, was egter besonder verrykend.
Saam met ons op die plaas was ook ’n jong man wat kort tevore sy BA (Admissie)-graadsertifikaat ontvang het tydens dieselfde gradeplegtigheid op Stellenbosch in 1974 waartydens Hennie Aucamp sy doktorsgraad in Opvoedkunde ontvang het.
My belangstelling in die letterkunde moes opvallend gewees het. Reeds as St. IX-leerling kon ek redelik saampraat en uitgesproke menings oor tendense in die letterkunde lug. My algemene kennis is gevoed deur Brink se resensies in Rapport en deur die boekredakteur Coenie Slabber se gereelde berigte oor wat in die Afrikaanse literêre wêreld gebeur het.
Daar was ook die polemieke en omstredenheid rondom skrywers se doen en late, sensuur en die toekenning van literêre pryse. Dit alles het ’n lewendige belangstelling in die letterkunde help handhaaf en lesers redelik goed op hoogte van verwikkelinge gehou.
Op 13 Julie 1974, die voorlaaste dag van ons verblyf op die plaas, het die derde rugbytoets tussen die Springbokke en die seëvierende Britse Leeus onder leiding van Willie John McBride op die Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth plaasgevind. Ek het met groot belangstelling na Gerhard Viviers se kommentaar op die wedstryd geluister, want my neef, Klippies Kritzinger, wat net soos ek Johannes Lodewyk gedoop is na ons oupa John Bull, het daardie dag sy eerste toets as Springbok-agtsteman gespeel. Vandag nog word dié wedstryd, wat die Springbokke met 26–9 verloor het, as een van die bloedigste toetse in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby onthou.
Toe ons hoor die aspirant-dominee was ná die wintervakansie op pad terug na Stellenbosch, het ons gevra of ons kon saamry. My skoolmaat, met ’n oog vir ’n mooi meisie, wou graag sy oud-laerskoolmaat Mareli van Huyssteen gaan opsoek. Haar pa, dr. Roelie van Huyssteen, was vroeër ons huisdokter op Harrismith, maar die gesin het na Stellenbosch verhuis waar dr. Van Huyssteen later aan Sanlam verbonde geraak het.
Ek wou die geleentheid gebruik om op Stellenbosch een van die digter en akademikus prof. W.E.G. Louw se klasse by te woon.
Dit was reënerig in die Boland en baie koud. Ek en my reisgenoot het elk ’n enkelbed in die Wilgenhof-manskoshuis gekry om op te slaap. Dit was ’n bitter koue nag en daar was min komberse. Die ou, ongelyke klapperhaarmatras was egter die ergste ontbering van die nag. Op sy eie manier het Wilgenhof my dus gemartel.
Louw se lesing vir die tweedejaars het in die Ou Hoofgebou plaasgevind. ’n Groep studente het reeds gesit toe ek by hulle aansluit om na hom te luister. Hy het ’n donker pak en ’n das aangehad. Ek het met verwondering na die digter geluister wat ek veral uit sy bundel Adam en ander gedigte (1944), wat ek in my dorpsbiblioteek ontdek het, leer ken het. Daarin was ook van die passiesonnette wat in een van ons skoolbloemlesings opgeneem is.
Van jongs af het ek graag reisverhale gelees, en Louw se keurige So ver as ’n engel te perd kan ry (1969), oor sy en sy vrou Rosa Nepgen, die komponis, se Europese reis waartydens hulle onder meer Italië besoek het, was vir my ’n besondere kulturele belewenis. Ek het ook opgemerk hoe die Boland se druiwe, wingerde en wyn meermale in sy gedigte voorkom en deur dié verwysings ’n beeld en atmosfeer van die streek oproep.
Louw het tydens die lesing, as ek reg onthou, die kulturele agtergrond van die Nederlandse Tagtigers geskets en na ’n kunsboek verwys. Daarna het hy na Hermann Gorter se beroemde gedig “Mei” verwys en ten slotte ’n fragment uit Rob Antonissen se Digkuns van die Nederlande, 1100– 1970: Deel 1 (1972) se bloemlesing van gedigte uit die Lae Lande voorgelees. Ek het sy duidelike en gevoelvolle Nederlandse uitspraak waardeer, asook die respek waarmee hy die gedig gelees en die klas meegesleur het. Dalk was dit tog ’n besondere geleentheid, want die digter Daniel Hugo het later vertel dat hy ook in die klas was. Hy onthou selfs Louw se opmerking dat ene mej. Boer, volgens Daniel besonder aantreklik, die volgende lesings sou aanbied. In daardie klas was ook Marlene van Niekerk, André le Roux, Louise Viljoen en Willem Botha (later hoofredakteur van die WAT).
Ek was gelukkig om op Stellenbosch ’n eksemplaar van die faksimilee-uitgawe van Louw se Naggesprek en ander gedigte (1972) te kon koop. Terug in Harrismith het ek sy werk verder gelees en bly glo dat sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde groot was, sy persoonlike allure besonder en sy sofistikasie indrukwekkend.Toe ek tydens my dienspligjare tyd by die SAS Simonsberg en die duikbootbasis SAS Hugo Biermann in Simonstad deurgebring het en per trein vanaf Retreat gereis het, waar ek by ’n vriend gebly het, het ek soms met lt.kdr. (later kapt. [SAV]) Johan Louw, Louw se seun, gesels.
Toe ek later weer op besoek in die Kaap was, het Daniel Hugo my W.E.G. Louw en Rosa Nepgen se plasie, Sondraai, buite Stellenbosch gaan wys. Hulle het toe nie meer daar gewoon nie, maar op ’n manier was hulle steeds in die gees aanwesig. Die besluit oor my oorspronklike studierigting aan die universiteit het trouens ook tydens daardie reis en besoeke in St. IX gestalte gekry.
Die volgende gedig van Hugo word hier vir die eerste keer geplaas:
W.E.G. Louw herbesoek
’n Flou wintersonnetjie val skuins oor sy boekrak
met bellettrie styfgepak. Hy spring verontwaardig op
en laat die blinding sak: “My arme boeke.” Sommige
van hulle het op die nippertjie saam met hom per skip
gevlug uit Nederland, voor ’n wêreldoorlog uit.
Dit was September 1939. Veertig
jaar later sit ek bevoorreg in sy leslokaal
in die stil Eikestad. Die datum is van belang:
Junie 1976. Die kruitvat het in Soweto vlamgevat
oor Afrikaans, daardie kreoolse kind van Nederlands.
Vensters op die vrees, sy voorlaaste bundel,
het pas verskyn, waarin hy angstig vra:
“Maar wie bewaar wat ons opgegaar
en naarstig gebou het oor driehonderd jaar?”
As jong liberale klong het ek toe gedink
hy is verkramp, ongevoelig, arrogant.
En nou? Die tye het verander, sý ouderdom
het my ingehaal en ek bekommer my
in ons gedeelde, digterlike taal van Afrika
– die naelstring wat ons aan Europa bind –
oor die Dietse boek, die koloniale eik.
© Daniel Hugo, 2026
(Erkenning word gegee aan Daniel Hugo vir sy voorstelle ter verbetering van hierdie teks.)
© Johann Lodewyk Marais, 2026
