Heroïese Sonnettekrans – Openbaring
(Engelse Sonnette)
Sonnet 1
Die Man
‘n Man is iewers binne sag besiel
en vlak in krake van sy vormklei,
(waar egotrots sy beeld van rots verniel),
lê sagte stemme vir ‘n groot verlei.
Hy sal bo al die hoogste pieke troon;
die wye wêreld aan sy voete hang,
maar kan hy ooit sy dinamiek verloën,
sy waakbevel en inner liefdesdrang?
Met ywer sal hy wel sy loon verdien;
getrou in aanskynsweet aan’t werke kom,
maar nooit verby sy hart se leemte sien,
daar waar die dieptes van die liefde blom.
Hy wéét, van nóu, tot in sy sterwensuur,
in elke vrou se hart woed daar ‘n vuur.
Andries Fourie
*
Sonnet 2
Die Vrou
In elke vrou se hart woed daar ‘n vuur
en passie loop soos are deur haar lyf;
kom eind’lik vol in haar tot vloedrivier
en delta deur haar vingers as sy skryf.
In wese staan sy mensontbloot, gemerk,
met letsels wat sy aan haar hande dra.
‘n Arendsvlug is oor haar bors gevlerk;
haar oë pleit om waarheid oor haar vra’.
Oor berg se hang en kranse sal sy loop
tot daar waar sy oor wêrelde kan troon,
(oor rotse struikel steeds intens bly hoop),
met seëninge word haar gees bekroon.
Maar een ding wis die vrou se brose siel
… hoe waar tog dat die liefde kan verniel.
Carma Shaw
*
Sonnet 3
Liefde
Hoe waar tog dat die liefde kan verniel
venynig kan vereensaam en verdoem,
die teikens altyd soekend na asiel,
in huise tussen husse nom de plume.
Hoe vreemd tog dat die liefde ook vervul;
‘n harde hart tot bewing kan bedwing,
by vriende hegte bande sal onthul
en teerheid tussen man en vrou kan bring.
Die liefde kan in storms steeds gedy;
aan krakerige kiekierame hang
en odes uit ‘n oorlogtyd herlei.
Die liefde is die vesting van verlang.
So, soms vertoef ons in ‘n vredesuur
en soms sal ons vulkane moet verduur.
Andries Fourie
*
Sonnet 4
Vuur
En soms sal ons vulkane moet verduur,
maar meestal smeul die kole lou en kalm;
ons wonder oor die wonder van die vuur,
… die lewenslange gloed wat in ons talm.
Die vuur verrys en volg die nag se spoor,
dit wals oor berg en deur ‘n diep vallei;
die vonk wat koper uit die roesklip toor,
pigment ten eind’ in rook en roet en klei.
Die vuur vlei teen die kokerboom se stam,
dit kelk in ‘n Namakwa lenteblom
en saans, as vonke teen die einders vlam,
beleef ons dat die dag ten ruste kom.
Uit vuur se werking moet die mens ook leer,
seisoene wissel, daaraan is geen keer.
Carma Shaw
*
Sonnet 5
Seisoene
Seisoene wissel, daaraan is geen keer.
Net soos die branders teen die rotse spoel
en kontinuum, met ritme, tyd verweer,
sal élke jaar, deur hiérdie kringloop woel.
Alvoor die tyd die somer kon bevry,
het lentebloeisels ieder kom verras,
is duisend swaeltjiemyle reeds verby;
‘n winter is met herfs en al verpas.
Seisoene dans ‘n dekor in die gang,
van ongeverfde dramas se palet;
die spelers ry ‘n rooi perd sonder stang
en die heelal se verhoog is in verset.
Ons reis in ‘n seisoene-wentelbaan,
soos sterre en blou hemel son en maan.
Andries Fourie
*
Sonnet 6
Uitspansel
Soos sterre en blou hemel, son en maan;
die rooi planeet, Saturnus met sy ring.
Soos Venus helder op haar kringloop gaan,
bly alles aanbeweeg, aan’t uiterkring.
Wat weet ek van ‘n sateliet se vlug:
‘n Lugballon is al waarna ek smag;
‘n asem wat my aandryf deur die lug,
oor reënboë gespan in volle prag.
Na wolke (wat deur winde aangejaag)
soos wolwitlammers in ‘n trop vergaar;
konveksie stapels, newels laag op laag,
eer sluiers kraak en seëning verklaar.
Ons wis as reën so uit die ruimte skeur,
die fynste bosse blom in wind en weer.
Carma Shaw
*
Sonnet 7
Boom & bos
Die fynste bosse blom in wind en weer;
omsoom die koningskleed van berg en dal.
Die grootste bome werp hul blaaie neer,
maar troon nog nakend oor die veldeval.
‘n Deurmekaarbos mag jou dalk verveel,
maar kokerbome uitgestrek na bo,
sal deur ‘n verfkwas kom en harte steel;
sal ‘n verlate mens in God laat glo.
Papierbasdorings met verslete bas,
getoon met geure uit ‘n bloeiselblos,
is vars soos lelies by ‘n waterplas,
alteen die grys en groen van klip en mos.
Al sal die struik en boom verwelk’d vergaan,
geheiligd is die aarde waar hul staan.
Andries Fourie
*
Sonnet 8
Afrikakinders
Geheiligd is die aarde waar hul staan
en afrika se grond waaroor hul loop.
Op paaie, agter bees en skape aan,
terwyl hul sade van graspluime stroop.
O land van Meiringspoort en Swartbergpas,
van krans en hang tot diep en wyd vallei.
My siel sit midde in jou klowe vas
en skeur deur harde rots soos wildevy.
Geboorteland, in jou sal ek bly glo.
Jou bosvelde, savannes se bioom,
jou Kaap, jou Kalahari, jou Karoo,
dit bly verstrengel in my elke droom.
Jou kinders dra jou as hul lewensskild;
is iets so skoon as wesens vry en wild?
Carma Shaw
*
Sonnet 9
Wesens (vry en wild)
Is iets so skoon as wesens vry en wild,
(dog vasgevang in mens se heerskappy)
so onbevang en vry van skeppingskuld,
wat ongerep oor al die veld gedy?
Wat blyk dan mooier as ‘n beestetrop
op groen grasvelde teen ‘n berg en krans;
‘n wilde hings wat teen ‘n rant gallop
en ritmies speels alvoor sy merries dans?
‘n Maanhaar wat sy bosveldbas kom brul
te midde van ‘n hardhoutvlam se vuur;
die skril trompet van ‘n olifantbul
wie vir sy trop ‘n waarskusein uitstuur?
Wat kan dan mooier in ‘n lugstroom wieg
as kolganse, wat ewig twee-twee vlieg?
Andries Fourie
*
Sonnet 10
So vry (soos voëls)
As kolganse, wat ewig twee-twee vlieg
en aasvoëls, hul wat hoog oor alles sweef;
sal swaels lentes verby Darling vlieg
en arende soos koninklikes leef.
Soos duiwe, roepend in ‘n kanonkoor,
sal mossies smôrens op die gras rumoer;
sal spegte gate in boomstamme boor
en vinke daglank tussen riete roer.
As pelikane spikkel teen die blou
en duikers weë deur seewaters baan,
sal tobies nes uit skulpeskerwe bou;
die albatros sal snerpend’ wind weerstaan.
‘n Blik vlugvry oor boom en berg en bult;
die mens aanskou met oë sonder skuld.
Carma Shaw
*
Sonnet 11
Mens alleen
Die mens aanskou met oë sonder skuld
hy sien sy beeld as vae visioen,
deur raaiselspieëls wat vele vrae duld,
wat met sy toe en hede kan versoen.
Sy wese straal van elke liefdesdaad,
wyl grou geheime deurbreek in die lig;
die snye in sy siel getuig van haat,
in ieder mens is waarlik sy gesig.
By elke mens is daar verspeelde tyd
sy niemandsland waarmee hy daagliks deel;
waaroor hy hom en selfs sy god verwyt,
wat grepe uit sy nou en gisters steel.
Maar tog kan hy met arendsvlerke vlieg
gevly in god’likheid se lewenswieg.
Andries Fourie
*
Sonnet 12
Mens en die Goddelikheid
Gevlei in god’likheid se lewenswieg,
staan iedereen ootmoedig voor die aarde;
selfs dié wat ongeloof aan maker bieg,
ag dit wat hier geskape lê na waarde.
Gebore om te heers oor als wat leef,
bewakers, vér bo gras en boom en blom;
verhef tot daar waar net ‘n witkruis sweef,
sal aardse beelde steeds die mens verstom.
En waar ons ookal wandel is ons huis,
die ganse wye wêreld is ons werf.
Begunstigdes, maar nooit volkome tuis,
want so is dit dat elke mens moet sterf.
As byna eng’le, niks om op te roem nie,
moet ons met droogt’ en stryde nie versoen nie?
Carma Shaw
*
Sonnet 13
Droogte
Moet ons met droogt’ en stryde nie versoen nie,
dit wat ons só met felle vrees verbloem?
Ons kan die skeppingsdoel tog nie verloën nie,
al het die stormstof ons kom verdoem.
Drogbeelde van ‘n eense adelstoet,
wat nou ‘n karkas met die aasvoëls deel.
Hoe wis mens dit uit brose boer gemoed;
hoe kon die lewe só ‘n lot verseël?
Theewaterskloof o ewig bron van hoop,
jou vertebrata ly ‘n doodse dors.
El Nino het jou waarlik stom gestroop
en leef onsterflik in jou modderkors.
Sal fonteine ons tog nie vergroen nie?
Daar’s niks wat lewe gee soos water doen nie.
Andries Fourie
*
Sonnet 14
Water
Daar’s níks wat lewe gee soos water doen nie;
na elke felle dorstryd breek ’n wolk
en strome, wat met droogtes nooit versoen nie,
rivier en word met voël en vis bevolk.
Die krake tussen klei sal gulsig drink
tot vleie weer verby hul walle stoot
en elke meer en dam word volgeskink;
hoe blink elk spruit, elk waterplas en sloot.
En daar waar skynbaar niemand kan oorleef nie,
geen Hagar of geen Lot, in ’n woestyn;
geen riet of gras of bos in briese beef nie,
selfs dáár ontspring en borrel ’n fontein.
Blus vlamme, vóór die vrouehart verniel.
’n Man is iewers binne sag besiel.
Carma Shaw
*
Sonnet 15
Meestersonnet
Openbaring
‘n Man is iewers binne sag besiel;
in elke vrou se hart woed daar ‘n vuur;
hoe waar tog dat die liefde kan verniel
en soms sal ons vulkane moet verduur.
Seisoene wissel, daaraan is geen keer,
soos sterre en blou hemel, son en maan;
die fynste bosse blom in wind en weer,
geheiligd is die aarde waar hul staan.
Is iets so skoon as wesens vry en wild,
as kolganse, wat ewig twee-twee vlieg.
Die mens aanskou met oë sonder skuld
gevly in god’likheid se lewenswieg.
Moet ons met droogt’ en stryde nie versoen nie?
Daar’s niks wat lewe gee soos water doen nie.
Carma Shaw
© Andries Fourie, 2026; © Carma Shaw, 2026
Voetnota
Sonnettekrans
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
‘n Sonettekrans of sonnet corona is ‘n reeks sonnete wat meestal aan een persoon geadresser is en/of gemoeid is met ‘n enkele tema. Elk van die sonnette ondersoek een aspek van die tema en is gekoppel aan die voorafgaande en opeenvolgende sonnette deur die finale reël van die voorafgaande sonnet as sy eerste reël te herhaal. Die eerste reël van die eerste sonnet word herhaal as die finale reël van die finale sonnet, en sodoende word die volgorde derhalwe tot ‘n einde gebring.
Heroïese krans
‘n Gevorderde vorm van ‘n sonnettekrans word ook ‘n sonnet redoublé of heroïese krans genoem, welke bestaan uit vyftien sonnette, waarin die sonnette met mekaar verbind is soos hierbo beskryf, maar die finale bindende sonnet bestaan uit al die eerste reëls van die voorafgaande veertien, in volgorde. Die vyftiende sonnet word die Meestersonnet genoem.
