Toonsetting – Antjie Krog: Ma (Die Naamlose Dors)
Ma
Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig
sonder fênsie leesekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
‘n kaalvoet gedig –
want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe
ek is so jammer ma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie.
Volg die skakel om toonsetting te luister: https://www.youtube.com/watch?v=rIDS9lDdnfs
Titel: Dogter van Jefta
Outeur: Antjie Krog
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798113533
Gedig: “Ma”
Gereproduseer met toestemming van Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers