Resensie: Uit die herberg van Alhambra: vertalings deur Bester Meyer. Naledi. 2024. ISBN: 978-1-991256-90-4
Resensent: Neil Cochrane
Naledi doen die afgelope paar jaar goeie werk om literêre vertalings te bevorder. Dit is ’n dapper onderneming weens ekonomiese uitdagings. Gedrukte publikasies verkeer toenemend onder ’n staat van beleg weens gruwelike kopieregoortredings en die kompeterende voordeel van digitale media. Mense vergeet soms dat uitgewershuise besighede is en dit is duur om boeke uit te gee. Daarom is weldeurdagte publikasiebesluite belangrik. Goeie literêre vertalings op Naledi se onlangse publikasielys sluit in: Wat ek van klippe weet (Duitse gedigte van Jan Wagner vertaal deur Robert Schall, 2021), Kliniek van verlatenheid (Italiaanse gedigte van Alda Merini vertaal deur Rina Cascione, 2022), Van Alexandrië na Ithaka (Griekse gedigte van Konstantinos P. Kavafis vertaal deur Louise Cilliers, 2023), Die ses woorde van die Sigeuner (Griekse gedigte van Kostis Palamas vertaal deur Louise Cilliers, 2024), Goethe se Faust (uit Duits vertaal deur Robert Schall, 2024) en Beckett se En attendant Godot/Waiting for Godot (Afrikaanse vertaling: Ons wag vir Godot uit Frans en Engels vertaal deur Naòmi Morgan, 2024).
Bester Meyer se jongste versameling Afrikaanse vertalings (eerder omdigtings) heet Uit die herberg van Alhambra. Die bundel fokus op geselekteerde werke uit die oeuvres van drie groot geeste in die wêreldletterkunde, naamlik Khalil Gibran, Federico García Lorca en Yehuda Amichai.
Die Alhambra (gesetel in die Arabies geïnspireerde deel van Spanje, naamlik Andalusië) is ’n pragtige paleiskompleks en toonbeeld van Islamitiese argitektuur. Deur die eeue het diverse magshebbers met uiteenlopende politieke en godsdienstige oortuigings hulle intrek geneem. Die werk van Gibran, García Lorca en Amichai is divers net soos die geskiedenis van die Alhambra. Menslike tragedie (ook biografies gesproke) is ’n verdere raakpunt. Al drie se herkoms is ook verbind aan die Midde-Ooste. Gibran is in Libanon gebore, García Lorca in Andalusië (die streek waar die Alhambra staan) en Amichai het op elfjarige ouderdom na Israel verhuis. Die bundeltitel is gepas en klink ook mooi op die oor. Die voorplatillustrasie is besonder treffend.
Die voorwoord deur Charl-Pierre Naudé klink wel plek-plek soos ’n bemarkingsteks: “Hierdie is waarskynlik die mees asembenewende, lywigste aanbod van vertaalde gedigte wat ooit tot publikasie gekom het in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde.” Mens moet versigtig omgaan met sulke absolutistiese beskrywings, want hy vergeet van In a Burning Sea: Contemporary Afrikaans Poetry in Translation (2015) geredigeer deur Marlise Joubert. Die boek beslaan immers 224 bladsye. Presies hoe gaan Meyer se vertalings lei “tot ’n verbreding van die kritiek van poësie in Afrikaans”? Sak Sarel! Die tyd sal leer. Die doel van ’n voorwoord is om die leser op ’n nugter en informatiewe wyse te oriënteer en die werk kortliks toe te lig. Dit is nie ’n lofprysing aan die gode nie.
Meyer se vertalings is uitsluitlik geskoei op bestaande Engelse vertalings wat noukeurig in die bronnelys vermeld word. Engels word dus as ’n oorbruggingstaal gebruik wat beteken dat die Afrikaanse vertalings nie met die brontale (Arabies, Spaans en Hebreeus) vergelyk kan word nie. Dit is onregstreekse of abba-vertalings (vertalings van vertalings), want die tekste is uit Arabies, Spaans en Hebreeus na Afrikaans via Engels vertaal. Sommige vertaalkenners sal beweer dat Meyer se werkswyse onwenslik is en kan lei tot ’n swakker eindproduk, omdat die ritme, klankpatrone en musikaliteit van die brontale nie getrou oorgedra kan word nie. Tog gaan iets altyd verlore in enige vertaling en ek moet ook billik teenoor Meyer wees. Hy het nie juis ’n ander keuse gehad nie, want hy is nie Arabies, Spaans of Hebreeus magtig nie. Hy is ook nie die eerste en enigste literêre vertaler wat op bestaande vertalings steun nie. Dit is wel moontlik om sy Afrikaanse vertalings (omdigtings) op eie meriete te beoordeel en dit as outonome tekste te beskou. In dié opsig het evalueerders ook nie ’n alternatiewe keuse nie, alhoewel die Engelse vertalings as ’n verwysingspunt gebruik kan word.
In sy vertalersnota maak Meyer ’n aantal vreemde opmerkings. Hy beweer dat “teorieë oor vertaling, vertaalpraktyk en vertaalfilosofie” ongewens is, want dié kennis sal “die suiwerheid” van vertaling in die wiele ry. Verder beweer hy dat vertaling “oop” moet wees vir almal en dat “wette”, “beginsels” en “teorieë” ’n bedreiging vir “die kuns” inhou en lesers aan “die sisteem” gebonde sal hou. Ek begryp nie Meyer se argumentasie nie en in dié opsig kan ek nie vir hom in die bres tree nie. Hoe kan ’n deeglike kennis van vertaalteorieë enigsins nadelig wees? Dit sal eerder lei tot ’n beter begrip van komplekse linguistiese prosesse. Teorie en praktyk is nie noodwendig skeibaar nie, maar komplementerend. Teorieë word tog by uitstek in praktyk toegepas.
Literêre vertaalstudie is wêreldwyd ’n gevestigde akademiese dissipline met die doel om literêre vertalers toe te rus met fundamentele kennis en vaardighede. ’n Mens kan nie ’n huis bou sonder ’n fondament nie. Literêre vertaling is immers ’n ambag waaraan lewenslank geslyp word. Beginsels en beste praktyke is kenmerkend van enige ambag. Literêre vertaling is nie ’n stokperdjie nie. Dit vereis vakmanskap en kom neer op ingewikkelde keuses:
It requires intuition. It doesn’t just require knowing loads of vocabulary, there is a suppleness to translation and the way we think about our own language we are writing in. I’m always surprised how difficult translation is, which is quite nice in a way. It is fairly rare that I get to the end of a text and go, there was nothing much to that. It is a process of discovering the complexity and subtlety of a piece of writing. It is not a direct thing. You don’t just take one word and replace it with another word until you get to 85,000 words and then you have a novel. Even the simplest thing, the number of different ways a character might say hello to another character, is weighted with choice. There are always lots and lots of possibilities. There is almost nothing that doesn’t have a choice involved, which might be an aesthetic choice, or it might be an ethical choice, about what precisely you are choosing to represent, about the character, about the text, and you’re not necessarily making all of those choices deliberately or consciously (Hahn, 2023).
Kundige literêre vertalers soos Naòmi Morgan en Louise Cilliers het hulle loopbane gewy aan die bestudering van die brontale waarop hulle Afrikaanse literêre vertalings geskoei is. Dit is waarskynlik een van die belangrikste redes waarom beide bekroonde literêre vertalers is. Die beste literêre vertalers is ook gerekende skrywers en digters. Hier op eie bodem dink ek aan André P. Brink, Elisabeth Eybers, Daniel Hugo, Uys Krige, Antjie Krog en Michiel Heyns. Jammer, ek is nie oortuig dat elke Jan Rap en sy maat literêre vertalers kan wees nie. Dit deug ook nie om gevestigde benaderingswyses op ’n lukrake wyse af te wys om jou onortodokse werkswyse beter te laat voorkom nie.
Verder beweer Meyer dat hy aanklank gevind het by die “musikaliteit” van al drie skrywers. Hy kon slegs aanklank vind by die musikaliteit van die Engelse vertalings en nie by die oorspronklike Arabiese, Spaanse en Hebreeuse tekste nie.
Meyer verwys na “’n sekere soort goddelikheid” waaroor Gibran, García Lorca en Amichai se werk beskik en dat hy probeer om “hierdie ‘kern’ wat aan hulle tekste ‘kleef’” oor te dra “eerder as dit wat die tekste op semantiese vlak wil sê”. Ek weet nie wat Bester met “goddelikheid” bedoel nie en nog minder hoe dit deur vertaling oorgedra word. Verder gaan literêre vertaling juis om die uiteenlopende betekenisse van woorde in verskillende taalsisteme wat deur historiese, sosiale en politieke kontekste en agendas beïnvloed word.
Voorts beskou Meyer sy teoretiese begronding “as ’n terugblik op die vertalingsproses”. Met ander woorde, ’n geval van eers doen en later dink. Watter doel dien dít? Later sê hy dat hy Walter Benjamin se opstel “The task of the translator” as grondslag gebruik vir sy vertaalfilosofie en Benjamin se beskouings toepas in sy vertaalpraktyk. Hoe strook dit met Meyer se retrospektiewe benadering? Meyer brei nie uit op die essensie van Benjamin se genuanseerde betoog nie. Hy selekteer gewoon ’n paar terloopse frases om die leser te oortuig van sy werkswyse. Benjamin se essay gaan in wese oor die vertaalbaarheid van tekste en die familieverwantskap tussen tale. Ironies genoeg is dit opvallend hoeveel keer Benjamin die woord “original” gebruik en telkens verwys na die belangrikheid van die oorspronklike teks (bronteks):
Translation is a form. To comprehend it as a form, one must go back to the original, for the laws governing the translation lie within the original, contained in the issue of its translatability (Benjamin, 1996:254, my kursivering).
Verder bied Meyer ’n foutiewe parafrase van Benjamin se stellings. Nêrens verwys Benjamin na die “heilige verhouding” tussen tale nie. Hy plaas wel deurlopend klem op die familieverwantskap (“kinship”) tussen tale:
As for the posited innermost kinship of languages, it is marked by a peculiar convergence. This special kinship holds because languages are not strangers to one another, but are, a priori and apart from all historical relationships, interrelated in what they want to express (Benjamin, 1996:255).
Familieverwantskap (“kinship”) is ’n konsep uit die sosiale antropologie wat dui op die netwerk van sosiale verhoudings in gemeenskappe. Benjamin gebruik dit in sy essay om die verwantskap tussen tale te beklemtoon – ’n verbintenis wat niks met “heiligheid” te make het nie.
Ongelukkig kom ’n klomp lastige redaksionele flaters in Meyer se versameling voor. As resensent het ek geen ander keuse as om dit uit te wys nie:
- Die herkoms van Gibran word verkeerdelik op die agterplat as “Libië” en in die voorwoord as “hedendaagse Irak” aangedui. Die korrekte land is “Libanon”.
- Die titels van gedigte word nie gekursiveer nie, maar tussen aanhalingstekens geplaas.
- ’n Inhoudsopgawe agter in ’n boek dien geen doel nie. Wat is die doel van die nommering in die inhoudsopgawe?
- Wat is die doel van die steurende nommers tussen blokhakies soos byvoorbeeld “[4]” en “[5]”?
- 119 – Waarom is “balkon” afgebreek as “bal-/kon” aan die einde van versreëls?
- 122 – “Nogtans sy weerklank as eggo” – Dit maak nie sin nie, want is “weerklank” en “eggo” nie sinonieme nie?
- 156 – wêreld-geskiedenis moet wêreldgeskiedenis wees
- 162 – “en in die donkerte wortel te word” – eerder “en in die donkerte wortel te skiet”?
- 166 – “heengane” – die woord “heengaan” beskik nie oor ’n meervoudsvorm in Afrikaans nie
- 170 – “nerveuse” – binne die konteks van die gedig is dit miskien ’n vreemde en hoogdrawende woordkeuse
- 224 – “gebetig het” moet “betig het” wees
- 226 – “San-Francisco” moet “San Francisco” wees
- 229 – “lompe” moet “lomp” wees
In Meyer se versameling Afrikaanse vertalings vind ek die meeste aanklank by die gedigte van Amichai, want dit is toeganklik en sensueel. Die verrassende beeldgebruik asook die satiriese en kritiese herinterpretasie van religieuse intertekste is verdere pluspunte. Amichai skryf ook die mooiste liefdesgedigte soos byvoorbeeld “Jakob en die engel”, “Nog een keer” en “Geskenke van liefde”. Sy liefdesverse verval selde in oordrewe sentimentaliteit, maar vertoon ’n nugterheid en eerlikheid. In sy verse loop liefde en verganklikheid dikwels hand aan hand. Sommige van sy gedigte oor geweld beskik steeds oor kontemporêre relevansie veral as jy die voortslepende Israel-Palestynse konflik in gedagte hou:
Die deursnee van die bom
Die deursnee van die bom was dertig sentimeter
met ’n trefwydte van ongeveer sewe meter,
vier dood en elf verwond.
en reg rondom hulle, in ’n groter sirkel
van pyn en tyd, lê versprei twee hospitale en een
begraafplaas. Die jong meisie
wat begrawe lê in haar stad van herkoms,
meer as ’n honderd kilometer verder,
vergroot egter dié sirkel beduidend,
en die man wat haar dood stoksielalleen betreur
aan die afgeleë kus van ’n land ver oor die see,
betrek die ganse wêreld by die sirkel.
en ek sal nie eens die gehuil van weeskinders
wat uitreik na die troon van God,
selfs verder, hier noem nie,
want dan’s die sirkel sonder einde
en sonder God.
Dit is waar dat literêre vertaling “deure en moontlikhede” open en dit is goed dat lesers nou die werk van Gibran, García Lorca en Amichai in Afrikaans kan lees. Dit maak waarskynlik vir lesers van Afrikaanse poësie en prosa nie soveel saak watter vertaalstrategie of teoretiese begronding Meyer gevolg het nie. Die Afrikaanse leser kan steeds genot put en waardering koester vir drie literêre reuse se uitsonderlike vakmanskap. In dié opsig lewer Meyer beslis ’n belangrike bydrae. Uiteindelik gaan dit om die lesers, want sonder hulle is literêre vertaling in elk geval ’n dagdroom. Die leser moet self besluit watter weergawes hy of sy wil lees en kan selfs die Engelse en Afrikaanse vertalings vergelykend lees. Ek verkies laasgenoemde opsie, omdat dit meer lig kan werp op die kreatiewe wisselwerking tussen die Engelse en Afrikaanse vertalings.
Bronnelys
Benjamin, W. 1996. The task of the translator. In: Bullock, M. & Jennings, M.W. (reds.). Walter Benjamin: Selected writings volume 1 (1913-1926). Cambridge: The Belknap Press of Harvard University, 253-263.
Hahn, D. 2023. ‘Spinning an illusion’: what exactly do literary translators do? [Aanlyn]. Beskikbaar: https://thebookerprizes.com/the-booker-library/features/spinning-an-illusion-what-exactly-do-literary-translators-do
‘Jislaaik ou Trompie’ sê Blikkies terwyl Rooies sy tone wikkel!
My tweede kommentaar het betrekking op Louis Esterhuizen se goed gemotiveerde teenkommentaar hierbo. Ek het ook by enkele gevalle van die lys taalbesware in die resensie nie saamgestem nie. Louis maak baie geldige punte, wat verdere nabetragting aanwakker.
Die woord is “asembenemend” – nie “asembenewend” nie. Dit staan in die voorwoord en op die agterplat van die boek.
Korrek, Daniel. Maar is daar dalk ander frikatiewe in die betrokke versreël? (Ek kan nie onthou nie.) Soos jy weet, verskil ek en jy oor die toonaard (musikaliteit) van ‘n bepaalde versreël/gedig. Indien dit oor musikaliteit gaan, sou ek “asembenewend” as wisselvorm toegelaat het weens die [w]-klank. Jy is natuurlik welkom om van my te verskil, maar kan jy dalk verduidelik in welke mate dit die lees en/of begrip van die vers affekteer?
Louis, dit staan nie in ‘n vertaalde gedig nie, maar in Charl-Pierre se voorwoord wat op die agterplat herhaal word.
Ek sien nou dat op die internet dat die vorm “asembenewend” wel in publikasies voorkom. Ek beskou dit egter nie as ‘n wisselvorm nie, maar bloot as ‘n fout. Die Nederlands is “adembenemend” – dit wat jou asem wegneem. In Afrikaans is daar wel ‘n wisselvorm, naamlik “asemrowend” (wat ook in Charl-Pierre se voorwoord staan). Die woorddeel “benewend” het geen betekenis nie.
Eina! Aangesien ek op versoek van die vertaler hom bygestaan het met die taalversorging van sy gedigte voor hy dit na die uitgewer gestuur het, voel ek nogal aangepraat deur die resensent se lys van “lastige redaksionele flaters”. Dit is sy goeie reg om “flaters” uit te wys, maar ek wil tog reageer omrede sommige besware myns insiens misplaas is.
* Die herkoms van Gibran word verkeerdelik op die agterplat as “Libië” en in die voorwoord as “hedendaagse Irak” aangedui. Die korrekte land is “Libanon”. >>> Ek was nie verantwoordelik vir die flapteks nie, maar ja – dit is ‘n gruwelike flater.
* Die titels van gedigte word nie gekursiveer nie, maar tussen aanhalingstekens geplaas. >>> Volgens voorskrif word die bundeltitel gekursiveer, maar nie die titels van gedigte nie; dit kom in aanhalingstekens. Gaan kyk asseblief na Dalene Müller se “Skryf Afrikaans van A tot Z: 22.10”. (En ja, hierdie boektitel moet in skuinsdruk wees, maar Versindaba se program [WordPress] vir kommentare laat dit helaas nie toe nie. Dus maar eerder in aanhalingstekens.)
* ’n Inhoudsopgawe agter in ’n boek dien geen doel nie. Wat is die doel van die nommering in die inhoudsopgawe? >>> Voor of agter is opsioneel, maar dit is algemene gebruik om die inhoudsopgawe van ‘n digbundel agter in die boek te plaas. Persoonlik verkies ek dit ten opsigte van poësie agter omrede jy as poësieleser veronderstel is om die bundel van eerste tot laaste gedig te lees. Die inhoudsopgawe is bloot vir indien jy as leser op ‘n latere stadium na ‘n spesifieke gedig wil soek. ‘n Gedig is immers nie ‘n hoofstuk nie.
* Wat is die doel van die steurende nommers tussen blokhakies soos byvoorbeeld “[4]” en “[5]”? >>> Opsioneel, solank dit konsekwent toegepas word. Dit is die vertaler se voorkeur.
* 119 – Waarom is “balkon” afgebreek as “bal-/kon” aan die einde van versreëls? >>> Ek kan eerlikwaar nie onthou nie. Was dit so in die bronteks? Miskien weens tipografiese redes met die koppelteken wat soos ‘n balkon uitsteek?
* 122 – “Nogtans sy weerklank as eggo” – Dit maak nie sin nie, want is “weerklank” en “eggo” nie sinonieme nie? >>> Korrek. Maar het ons dalk hier te make met dramatisering en/of oorbeklemtoning soos “die eggo van ‘n eggo” of Opperman se “blik op blik op blik”?
* 156 – wêreld-geskiedenis moet wêreldgeskiedenis wees >>> Beide word erken. Ek verkies laasgenoemde, maar sommige skrywers/digters hou nie van worshondwoorde nie. Ek het die vertaler se voorkeur gevolg.
* 162 – “en in die donkerte wortel te word” – eerder “en in die donkerte wortel te skiet”? >>> H’m, myns insiens is daar ‘n intonasieverskil; eersgenoemde is passief (lydend), terwyl laasgenoemde aktief (bedrywende bedryf) is. Persoonlik sal ek eerder wortel “word” as “skiet”.
* 166 – “heengane” – die woord “heengaan” beskik nie oor ’n meervoudsvorm in Afrikaans nie >>> Ek kan nie die konteks onthou nie. Is daar dalk ‘n rede/regverdiging ten opsigte van metrum en/of rym? In ieder geval – vertaler se keuse.
* 170 – “nerveuse” – binne die konteks van die gedig is dit miskien ’n vreemde en hoogdrawende woordkeuse >>> Ook hier kan ek nie die konteks onthou nie. Word die woord dalk sarkasties bedoel? Spottend?
* 224 – “gebetig het” moet “betig het” wees >>> Ja, uiteraard. My fout. Waarskynlik sou die proefleser dit raakgesien het?
* 226 – “San-Francisco” moet “San Francisco” wees >>> Hierdie is ‘n gruwelike oorsig. My fout. Jammer. Proefleser?
* 229 – “lompe” moet “lomp” wees >>> Nie seker nie. Word dit as adjektief of naamwoord gebruik? Indien dit as adjektief gebruik is, vind ek op VivA se korpusportaal 98 trefslae met “lompe” as adjektief. Ook – versterk dit dalk metrum en/of assonansie?
Hoe ook al. Hierdie is ‘n belangrike resensie oor ‘n lieflike teks wat belangrike gesprekspunte aktiveer. Ek stem saam met beide die resensent se bespreking en Charl-Pierre Naudé se kommentaar, maar voel uiteraard ietwat gevoelig oor die klap na my kant as taalversorger. Selfs ek het my trots. Daarom – met apologie aan die vertaler, uitgewer én leser vir my twee “flaters”, is ek nogtans van mening dat die resensent met hierdie lys “lastige redaksionele flaters” spoke sien waar daar nie eens grafte is nie.
Beste Vversindaba en Neil Cochrane (resensent).
Geluk met hierdie uitnemende en riglynskeppende resensie. Ek sou niks minder wou verwag van ‘n resensie op hierdie hoopvolle bundel nie.
Ek moet dit net duidelik maak waar ek as Voorwoord-skrywer ten opsigte van hierdie bundel vertaalde gedigte staan, want ek dink nie die resensie doen dit na behore nie.
1. Nerens in my Voorwoord verwys ek na die vertaalde gedigte as literere vertalings nie. Ek verwys daarna as: ” ‘n BLOUDRUK tot die ERVARING van ….[die oorspronklike gedigte]”. Ek skryf die woorde in hoofletters hier want die twee woorde bevat die rede waarom ek op die aandrang van die uitgewer ‘n voorwoord geskryf het. Die twee woorde in hoofletters dui ‘n tweemaalse verwydering aan tussen hierdie produk en literer verantwoordbare eindvertalings, soos ek die saak sien. Die vertalings bied ‘n sleutel tot die konseptualisering van literere vertaling. En tweedens het ons nog lank nie te doen met ‘n literere eindproduk nie, maar met ‘n inleidende ervaring van die oorspronklike.
Dit is my mening dat die gebeurtenis van die publikasie van ‘n stel abba-gedigte stof tot nadenke bied oor die aard van vertaling, wat hierdie publikasie regverdig, en eintlik onontbeerlik is.
2. Veral wou my Voorwoord ‘n lansie breek vir die droom van kontak oor literere taalgrense in die afwesigheid van onmiddelik beskikbare middelle. Dit is die droom van Bester Meyer, en daarop wil ek se: Hou aan met hierdie droom. Dit is die begin van nuwe werelde.
3. Wat betref die uitbreiding van die kritiek rondom vertalings, wat ek beweer het deur hierdie bundel geinspireer sou kon word, wel, niks meer of minder as Neil Cochrane se resensie nie bewys dat die publikasie van hierdie gedigte aanleiding gegee het tot die uitbreiding van die kritiek! Dus is ek tog reg, nie waar nie? Toe ek hierdie Voorwoord geskryf het, het ek absoluut ‘n resensie soos hierdie een verwag en in die vooruisig gestel. In die interaksie tussen ‘n publikasie “abba-vertalings” (vertalings wat vertaal word uit ‘n tussenteks) en ‘n skerpsionnige resensent het ‘n maatstafskeppende stuk besinning in die vorm van vertalingskritiek tot stand gekom. Wel gedaan.
4. Die punt is: Streng wetenskaplike vertaling is nie die enigste geldige vorm van literere oorsetting uit een taal na ‘n ander nie. Om te kan besin oor die ander vorms, moet mens duidelikheid kry oor waarom juis abba-vertalings (as slegs een van die vorms) niks meer as bloudrukke kan wees nie. Dit doen Bester Meyer, en dit doen Neil Cochrane.
5. Ek en Cochrane stem eintlik saam, en ek haal nou uit sy resensie aan:
” [Dit] is goed dat lesers nou die werk van Gibran, García Lorca en Amichai in Afrikaans kan lees. Dit maak waarskynlik vir lesers van Afrikaanse poësie en prosa nie soveel saak watter vertaalstrategie of teoretiese begronding Meyer gevolg het nie. Die Afrikaanse leser kan steeds genot put en waardering koester vir drie literêre reuse se uitsonderlike vakmanskap. In dié opsig lewer Meyer beslis ’n belangrike bydrae.”
En, so ook, lewer Neil Cochrane as resensent ‘n ewe belangrike bydrae.
Oor my “lofprysings aan die gode”, waaroor Cochrane ongelukkig voel? Ag, laat ons tog nerens sonder die gode gaan nie? Hulle bring die bloudrukke van respek en begeerte met hulle saam. Solank hulle net hul baaibroeke saambring en nie te lollerig raak nie.