
Resensie: Asindeton deur Joan Hambidge. Protea Boekhuis, 2024.
Resensent: Neil Cochrane
In sy profiel oor Joan Hambidge se digkuns maak Snyman (1998:503-504) die volgende opmerking oor haar eerste dertien bundels:
Tog vorm al hierdie bundels ’n verrassende eenheid en ontwikkel hulle tot ’n epos uit eie reg, ’n e-pos van die psige. Elke bundel maak ’n afsonderlike bydrae tor hierdie mosaïek, en dit is slegs die oorhaastige leser wat verby die konstante ontwikkeling binne hierdie epos sal lees.
’n Soortgelyke gevolgtrekking word in ’n latere profiel gemaak:
Hambidge is ’n Arachne/Ariadne-figuur in die Afrikaanse poësie; sy bly intertekstuele en intratekstuele drade spin in ’n uniek gekonstrueerde en selfbewuste poësieweb.
Haar oeuvre moet liefs in sy totaliteit beskou word. Dit verteenwoordig ’n kontinuum van duidelike hoogtepunte aan die een kant en aantoonbare gebreke aan die ander kant (Cochrane, 2016).
Beide uitsprake sluit aan by Gouws (1990:44) se beskrywing van haar oeuvre “as een groot bundel” en haar digterskap as “’n nimmereindigende proses om betekenis te vind”.
Die primêre uitgangspunt is gewoon dat mens verkieslik Asindeton (haar sewe-en-twintigste bundel) binne oeuvrekonteks moet lees, want dié stategie pas die beste by hoe Hambidge haar digterlike projek benader. Soos dikwels gebeur tree haar jongste bundel in gesprek met vroeëre werk wat berus op ’n proses van herevaluering en voortsetting. Al die spindrade word deur bindingselemente bymekaar gehou wat terselfdertyd funksioneer as vingerafdrukke van haar digterskap. Die meeste hiervan is weereens in haar jongste toevoeging aanwesig – ’n ryk en geskakeerde netwerk van intertekstuele verwysings, eksperimente met vaste digvorms, ars poëtikale besinnings, ekfrastiese gedigte, parodie en palinode asook lykdigte. Bekende motiewe is opnuut teenwoordig – speurtogte, stede, meditasies, reise en herinnerings.
Hambidge se sewe-en-twintigste bundel is aan die lywige kant – byna honderd-en-veertig gedigte versprei oor elf afdelings. Soos vantevore gebruik Hambidge ’n sentrale motief as bindingselement wat reeds deur die bundeltitel (meestal eenwoordtitels) aangedui word. Die woord “asindeton” dui op weglating; op dit wat nie gesê kan word nie. Aansluitend hierby is tyd (veral verlore of verbygaande tyd en tydloosheid) ’n verdere hoofmotief soos blyk uit talle verwysings na tyd in die bundel (ook treffend beklemtoon deur die wysterplaat op die voorplat). Die oorgang van een lewensfase na ’n volgende kom veral in die sesde afdeling (“Afskeid en vertrek”) ter sprake. Die twintigtal gedigte in dié afdeling fokus op Hambidge se aftrede ’n paar jaar gelede aan die Universiteit van Kaapstad. Die gedigte is ’n interrogerende bestekopname van die self, verlies en haar professionele loopbaan. Een van die verse wat ek wil uitsonder is “Opruiming 4” (p. 47) waarin die speker vra hoe mens ’n lykdig vir ’n kantoor skryf. Dit is interessant hoe die spreker haar aftrede aan groter sosiopolitieke onstuimighede koppel wat die individuele bestaanskrisis in ’n mate relativeer. Uiteindelik tree haar kantoor as ’n soort waarnemer van ’n spesifieke tydsgewrig op:
Pakplek, veral ’n stil getuie
van dekolonisasie, Dag O,
Waterbesparing, tot après le déluge:
#RhodesMustFall, #FeesMustFall,
Shackville, tot die virale oorlog,
almal gemasker; onkant betrap.
Daar het ’n brand gewoed, rakelings
hierdie kantoor net-net gemis:
’n treurende boom swart gevlek.
Stil getuie van somber tye.
Digterskap en die digproses is ’n tematiese spilpunt in Hambidge se werk wat raak deur Snyman (1998:512) opgesom word: “Die oorheersende simbool is egter die poësie self. Maar dit weet die leser reeds, die poësie moet by hierdie digter wyd opgeneem word.” Dié opmerking is ook op Asindeton van toepassing. Reeds in die programgedig (p. 9) lê die spreker se insiggewende besinning oor die aard van die digkuns ’n stewige grondslag vir ander ars poëtikale gedigte in die tweede en vierde afdeling. In die slotstrofe is die spreker se gevolgtrekking dat die digkuns op ’n nimmereindigende pyniging neerkom:
Tussen Ashbery en Stevens
lees die leser – nou die speurder –
opnuut op oor implikasie:
vele vingerafdrukke en bloedspatsels
verraai ten slotte niks
van digterlike agonie
in hierdie krimi, ’n sirkel-
gang doelloos en eindeloos.
Die idee van poësie-as-pyniging kom herhaaldelik in die bundel voor soos blyk uit die volgende beskrywings: “dat pyn bestaan, dat pyn bestaan in hierdie katedraal,” (“Gebed”, p. 15), “terug in die gevegsone van die digkuns” (“Fisting-as-écriture”, p. 19) en “stille geweld van binne” (“Opruiming 5”, p. 48). Dit is egter nie al wat Hambidge oor die digkuns te sê het nie. Naas pyniging word dit ook soos volg beskryf – “mis van dubbelpraat” en “hierdie onvertaalbare skryn” (“Blowup”, p. 31), “nurkse bedryf” (“Oggendmeditasie 8”, p. 52) en “’n leuenspul” (“Opruiming 14”, p. 58). In “Bibliobibuli” (p. 30) weer erken die speker dat sy ’n “skryfverslaafde” is en in “Opruiming 20 (p. 64)” word verwys na “vir dié stil bedryf”. Poësie is dus gelykstaande aan paradokse – nutteloos én waadevol, selfkastytend én helend, straf én seën.
Die skerpste besinnings oor digterskap in Hambidge se werk is egter gesetel in die wedersydse digterlike gesprekke met Johann de Lange (sien die bibliografie vir Rickus Ströh se insiggewende artikels hieroor). Dié gesprekke kom herhaaldelik in haar oeuvre voor en is ook ’n definitiewe bindingselement (net soos haar gebruiklike selfportretverse). Hambidge sit die digterlike diskoers met De Lange voort in “Ars poetica II” (p. 124-125) waarin die digterlike simbiose tussen Hambidge en De Lange goed belig word:
In ’n gedig vir sy digtersvriend Elizabeth Bishop bely
Robert Lowell sy liefde vir die afstandelike meester van
verlies.
By ons staan alles opgeteken in lang akwarelle van die dors.
Briefwisselinge eers, later e-posse en dan blitsige vonkpossies,
maar immer die band tussen ons; dog ons so uit-een-lopend.
Die ekfrastiese verse in die agtste afdeling is ’n hoogtepunt. Die wye spektrum van visuele kunswerke en die uiteenlopende interpretasies hiervan is indrukwekkend. Sommige van dié gedigte soos “Munch: Die skreeu” (p. 79), “Vermeer: Meisie met die pêreloorbel” (p. 80), “Balthus: Nu au chat” (p. 84) en “Hockney: Portret van ’n kunstenaar” (p. 86) bied ’n boeiende perspektief op verhale oor en rondom ’n spesifieke kunswerk. Ander gedigte soos “Hokusai: Tsoenami” (p. 78), “Raysse: Made in Japan” (p. 83) en “Bacon: Drie studies vir ’n portret van George Dyer” (p. 90) dien telkens as ’n katalisator vir die spreker se besinnings oor haar liefdeservarings waarin nuwe verbande tussen die visuele aanbod en die spreker se liefdesteleurstellings gelê word. Dit is veral van toepassing op die beeldgedig wat gebaseer is op Bacon se “Drie studies vir ’n portret van George Dyer”:
Wat gru nie alles
in ’n portret oor jou minnaar:
die jakkalsdraaie
van die verbintenisse
by my met vroue:
geweld van stilte
verkennings van ’n labirint
donker, ’n troebel doolhof
waarin ek verdwaal
in die nag met nagmerries
flesh wins out
die lyf as padkaarte van pyn
Hambidge lewer bewys dat ekfrastiese gedigte om meer kan gaan as blote beskrywing. Dit gaan om ’n subjektiewe interpretasie van die visuele aanbod wat in ’n groot mate geskoei is op alles wat die digter na die skildery toe bring, want dit gaan tog om die oog van die waarnemer, nie waar nie? In dié opsig maak Hambidge (2023) die volgende belangrike opmerking: “Ekfrastiese verse is filosofiese besinnings vanuit ’n bepaalde perspektief. Hierom sal elke kyker of digter op iets anders fokus.” Ek dink die tyd is ryp vir ’n seleksie van Hambidge se ekfrastiese verse soortgelyk aan Visums by verstek (20111) waarin ’n keur van haar reisverse opgeneem is.
Sommige lesers ervaar Hambidge se poësie as verliteratuurd weens die warboel verwysings na ander literêre werke en kunsprodukte. Haar poësie is in ’n groot mate ensiklopedies en vereis deeglike kennis van die leser. Volgens my is dit nie noodwendig ’n leemte nie, maar eerder deel van die ontdekking en genot. Haar poësie is afgestem op speurende lesers en nie luies nie. Dit geld veral vir haar parodieë (gaan kyk maar weer na Gesteelde appels, 1989) – ’n digterlike modus wat sy weereens vernuftig bemeester in gedigte soos “Gebed” (p. 15), “Oggendmeditasie 8” (p. 41) en “Bitterbessie dagbreek vir oulaas” (p. 70). Soos in vroeëre parodieë vorm selfironisering en ’n ondermyning van die digkuns dikwels deel van die spel:
Ek is ’n tricoteuse wyl die koppe rol
nou staan my ghremmer-eks op hol
als is reeds beskryf deur ander aksenawel
in die blouboek van Dirk met sy snawel
al die beelde oor die bovenstebeste
het Boerneef reeds geskep van die verste
punt tot hede, kyk onse digters meestal dood
selfs ou Mocke wonder oor wraak en nood
Dit is welbekend dat Hambidge ’n lykdigter van formaat is, maar met die gedigreeks “JCM 1958-2023” in die negende afdeling oortref sy haarself. Soms mis ek ’n meer liriese en emosioneel ontmaskerende inslag in haar werk. Dit is sonder twyfel aanwesig in elkeen van die veertien verse in die negende afdeling. Die disseksie en verwoording van verlies beskik oor emosionele oortuigingskrag en die spreker kommunikeer duidelik aan die leser wat verdriet werklik beteken in ’n gedig soos “Staalkaart (p. 101):
Teorie bewys net woordeloos
en stomverslaan ons immer bly
in die aangesig van siekte.
Die syn van die self (m’être)
mag verdwyn, maar verdriet
vernietig spasies en skyn.
Geen Hambidge-bundel is ooit net dít of dát nie. Dit geld ook vir Asindeton wat aan die een kant ’n welbekende digterlike allegaartjie is in terme van toonaard, tematiek en tegniek. Aan die ander kant word ook iets anders vir die leser opgedis. In dié opsig is dit veral die multidimensionele perspektief op tyd binne die konteks van verlies, verandering en herinnering wat ek kan uitsonder. Verder beklemtoon die bundel een van Hambidge se mees onthullende vingerafdrukke, naamlik teenstrydigheid – bekend én onbekend, somber én spottend, intellektualisties én hartsbegeerlik und so weiter und so fort.
Hambidge bevestig weereens met Asindeton dat geen sluiting betreffende die poësie bestaan nie. Dit is immers die rede waarom sy reeds sewe-en-twintig digbundels die lig laat sien het en die agt-en-twintigste waarskynlik broeiend in wording is. Hambidge is soos ’n digterlike Floria Tosca wat “Vissi d’arte, vissi d’amore” sing – “Ek het geleef vir die (dig) kuns, ek het geleef vir liefde”. Dit kan gewoon nie anders nie soos die speker in “Digterlike diagnose” (p. 122) tereg opmerk:
Die koue stetoskoop verklap
’n fladderende, bonsende hart.
Alle digters, wat my betref,
ly aan ’n toestand inkurabel.
Bibliografie:
Cochrane, N. 2016. Joan Hambidge: oeuvre 1996-2013. In: Van Coller, HP (red.). Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis Deel 2. Pretoria: Van Schaik Uitgewers. Aanlyn beskikbaar: https://research.ebsco.com/linkprocessor/plink?id=2fee5eba-a9e4-35bd-a8cd-44d066c8e81f (Toegang: 19 Maart 2025).
Gouws, T. 1990. Joan: die analitiese, voorspelbare maagd? Insig, Augustus: 44-45.
Hambidge, J. 2023. Ekfrasis Deel 1. Aanlyn beskikbaar: https://versindaba.co.za/2023/10/01/joan-hambidge-ekfrasis-deel-1/ (Toegang: 19 Maart 2015).
Snyman, H. 1998. Joan Hambidge (1956 –). In: Van Coller, HP (red.). Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis Deel 1. Pretoria: Van Schaik Uitgewers, 503-513.
Ströh, R. 2020. “’n faset van my daaglikse bestaan”: Joan Hambidge en die poësie van Johann de Lange. Stilet, 32(1&2):214-219. Aanlyn beskikbaar: https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/ejc-stilet-v32-n1-a29 (Toegang: 19 Maart 2025).
Ströh, R. 2022. “jy vir my soos ek vir jou”: Joan Hambidge in/en die poësie van Johann de Lange. Stilet, 34(1):121-140. Aanlyn besikbaar: https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/ejc-stilet-v34-n1-a10 (Toegang: 19 Maart 2025).

Louise Viljoen in gesprek met die digter:
https://www.youtube.com/watch?v=E_F5YpEvQMo