Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
8 October 2024

Boekbespreking: Ons wag vir Godot deur Samuel Beckett (vertaal deur Naòmi Morgan)

 

 

 

Boekbespreking: Ons wag vir Godot deur Samuel Beckett (vertaal deur Naòmi Morgan). Naledi, 2024. ISBN 978-1-991256-97-3

Resensent: Neil Cochrane

Naòmi Morgan is professor in Frans aan die Universiteit van die Vrystaat en is ’n bedrewe en bekroonde literêre vertaler met ’n aantal vertalings op haar kerfstok – Oskar en die pienk tannie (2013) en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran (2014) deur Eric-Emmanuel Schmitt, Die klein prinsie (2017) deur Antoine de Saint-Exupéry, ’n Klein wonderwerk (2021) deur Paul Gallico, Franse vertalings van Afrikaanse liedtekste (Afri-Frans CD-reeks) en Afrikaanse omdigtings (saam met Bernard Odendaal) van Franse chansons van Piaf en Brel wat in 2023 onder die titel Piaf & Brel: Luisterryk! verskyn. In 2021 vertaal sy ook Francois Smith se roman Kamphoer in Frans onder die titel Fille á soldats.

Die Ierse dramaturg en Nobelprys-wenner Samuel Beckett se Waiting for Godot is een van die belangrikste dramatekste in die twintigste-eeuse dramaskat. Die teks verskyn oorspronklik in Frans as En attendant Godot in 1952 en in 1956 verskyn die Engelse vertaling deur Beckett, naamlik Waiting for Godot. In 1970 verskyn die eerste Afrikaanse vertaling deur Suseth Brits, naamlik Afspraak met Godot wat by die Potchefstroomse Universiteitskollege as “besprekingsteater” opgevoer word.

In 2024 verskyn Naòmi Morgan se Afrikaanse vertaling getiteld Ons wag vir Godot. Dit is in ’n beperkte oplaag van 300 eksemplare uitgegee deur Naledi, ’n uitgewery wat die afgelope paar jaar baie goeie werk doen om literêre vertalings ’n hupstoot te gee. Die oorspronklike Franse uitgewer Les Editions de Minuit het toestemming verleen dat slegs 300 kopieë gedruk mag word.

Waiting for Godot is een van die eksemplariese tekste van die Teater van die Absurde, ’n term wat in 1960 gemunt is deur Martin Esslin. Simplisties beskou verwys dit na ’n tipe drama wat in die vyftiger- en sestigerjare van die twintigste-eeu ’n opbloei beleef het. Die fokus val op die sinloosheid van die menslike bestaan en ’n eindelose soektog na betekenis. Geen antwoorde word gevind nie en dikwels word die sinloosheid van bestaan ook konkreet in die dramastruktuur, handelinge en dialoog uitgebeeld. Absurde dramas beskik meermale oor ’n onsamehangende struktuur en min logiese verbande tussen gebeure. Dit eindig dikwels soos dit begin het, meganiese handelinge kom voor en die dialoog is onsinning sonder enige logika juis om die wankommunikasie tussen karakters te beklemtoon.

Beckett se drama handel oor twee haweloses, naamlik Vladimir en Estragon wat wag en wag op die koms van Godot, maar die enigmatiese Godot maak nooit sy verskyning nie. Die besoeke van Pozzo en Lucky maak dinge nog meer absurd. Die twee hoofkarakters is verstrik in terme van ruimte en tyd. Selfs al probeer hulle om voort te beweeg, bly hulle steeds bewegingloos aan die einde van die drama:

            VLADIMIR:                 Sal ons gaan?

            ESTRAGON:             Weg is ons.

Hulle roer nie.

 

Morgan se vertaling van Waiting for Godot is weens twee redes belangrik. Haar Afrikaanse vertaling is op die oorspronklike Franse bronteks én Beckett se Engelse vertaling gebaseer. Morgan lig die voordeel van dié benadering soos volg toe in die voorwoord: “Die vertaler van En attendant Godot behoort albei brontekste te raadpleeg, want deur die twee dramas deur die selfvertaler-dramaturg te jukstaponeer, word die vertaalmoontlikhede van die kulturele verwysings gedemonstreer.”

Morgan se vertaling val ook saam met die opvoering van Ons wag vir Godot tydens die Vrystaat Kunstefees in Julie 2024. Op dié wyse word die Afrikaanse vertaling op die verhoog tot lewe gewek. Dit is ’n teks wat opgevoer wil word en wat die teaterganger moet síén en hóór. Ek hoop regtig dat die produksie ook by ander kunstefeeste opgevoer sal word sodat meer mense dit in lewende lywe kan sien. Dit is dan ook nie die eerste en enigste voorbeeld van kreatiewe kruisbestuiwing tussen Morgan se literêre vertalings en verhoog- en woordkunsproduksies nie. Oskar en die pienk tannie (met Sandra Prinsloo), Die klein prinsie (met Chris van Niekerk) en ’n Klein wonderwerk (ook met Chris van Niekerk) is reeds op die planke gebring.

Beckett se dramateks is op verskeie maniere deur Morgan verplaas na ’n Suid-Afrikaanse konteks. Dit blyk uit Suid-Afrikaanse plekname (“Van Stadensbrug”, “Boland”); Afrikaanse idiomatiese uitdrukkings (“ou koeie in die sloot”, “Elke huisie het sy kruisie”, “praat die donkie se agterbeen af”); Afrikaanse gesprekstaal (“met ’n paar skoppe in die gat”, “Dis hoe dit gaan op hierdie donnerse aarde”, “Dan’s ons in ons moer in”); Afrikaanse kragwoorde (“bliksem”, “verdomp”, “pis jy selfs beter”); kulturele en historiese verwysings (“Siener van Rensburg”, “volkspele”, “riel” ) en verwysings na ouer Afrikaanse literêre tekste van Eugène Marais, Langenhoven, Totius en Leipoldt. Hierdie is slegs ’n paar voorbeelde van hoe vernuftig Morgan die teks verafrikaans het. Die Afrikaanse dialoog voeg ook ’n oortuigende dimensie tot die karakterisering toe veral deur die ongedwonge en natuurlike aard van die taalgebruik.

Die volgende woorde en frases is juwele – “beter om die yster te smee voordat dit yskoud is”, “grasie en waarhede van die eerste water”, “Prostaatpolka”, “jou vuil trens”, “Gatkantland” en “doodsbeenderehuis”. Die woord “knoek” is baie interessant. Dit vorm deel van Pozzo se dialoog wanneer hy na sy slaaf Lucky verwys – ’n goed gekose, maar onbekende woord wat Pozzo en Lucky se baas-en-klaas-verhouding uitstekend beskryf – “So, toe kry ek vir my ’n knoek.” In Nederlands verwys die woord na ’n stok met ’n ysterhaak.

Lucky se monoloog (sy “dink-eksperiment”) bestaan uit ’n onlogiese, onsamehangende en aaneenstromende gebrabbel en dui op die disintegrasie van taal (’n kenmerk van absurde drama). Dit stel ’n uitdaging aan die vertaler, maar Morgan se poging om dié teksgedeelte te verafrikaans is uiters geslaagd. Let veral op die vertaling van “Essy-in-Possy of Testew and Cunard” (in die Engelse vertaling) na “Graaff-Roberto van Balsak en Volwa” in Lucky se frenetiese alleenspraak:

[…] in ag genome siende dat as gevolg van die onvoltooide navorsing bekroon deur die Akakakakademie van Antropopopometrie in Graaff-Roberto van Balsak en Volwa dit sonder enige twyfel vasgestel word behalwe dit wat met menslike berekenings verband hou dat as gevolg van die onvoltooide onvoltooide navorsing van Balsak en Volwa vasgestel gestel gestel word dit wat volg wat volg wat volg te wete maar laat ons nie dinge vooruitloop nie vir redes onbekend as gevolg van die onvoltooide navorsing van Pons en Watt-Man dit ewe duidelik so duidelik blyk dat in die lig van die navorsing van Fartov en Belcher onvoltooid gelaat vir redes onbekend van Balsak en Volwa wat onvoltooid gelaat is dit vasgestel word dat baie ontken dat die mens in Graaff van Balsak en Volwa dat die mens in Roberto kortom dat die mens dat die mens ten spyte van vooruitgang in voeding en vullisverwydering besig is om maerder te word […]

Ek kon nie help om te dink dat dié woorde van Lucky presies klink soos die nonsens wat kunsmatige intelligensie skep en ek gereeld tot my ontsteltenis in alledaagse praktyk teëkom. Dit is ’n tragikomedie op sy eie, maar kom ons laat dit eerder daar.

Ek wil nie hare kloof nie, maar ek sou Ons wag op Godot (eerder as wag vir Godot) in die titel verkies het. Dit sou die assosiasie met Godot wat nooit sy opwagting maak nie versterk het.

Morgan het deur haar vertaling die uitsiglose bestaan van Vladimir en Estragon vir Afrikaanse lesers ontsluit. Die vertaling is soepel en in die kol. Ek kan goed insien hoe hierdie vertaling vir letterkundestudente op universiteitsvlak voorgeskryf kan word. Dit is ’n teks waarmee die dosent baie kan doen. Ek hoop werklik dat die moontlikheid van ’n verdere drukoplaag wel oorweeg sal word.

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Resensie: “ek en jy bestaan nie” (Danie Marais)
Resensie: “Uit die herberg van Alhambra”: vertalings deur Bester Meyer →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. George Steiner, “On Difficulty”
  • Carina van der Walt. Madeleine en Marianne (uit “Paryse Dagboek”)
  • 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)
  • Marthé McLoud. Een aand op straat
  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)16 January 2026

    Van die kant van die Redaksie: Baie dankie Bernard Odendaal en Robert Schall dat Versindaba hierdie skitterende vertalings kon plaas.…

  2. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Hierom dan dat George Steiner sy Poetry of thought aan hierdie manjifieke digter opgedra het. Ek (her)lees tans Steiner se…

  3. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Dank. Die gedig as smoelneuker. Goed vertaal.

  4. Jacobus Swart on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk14 January 2026

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek. Want die digter…

  5. Bernard Odendaal on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk13 January 2026

    “Lostorring” het my ewe diep getref, Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d