ou man van die berge
alleen het ek op die berg gestaan
en die woedende wind voel uitkom
teen die swaar begroeide hange uit
en ek het gesien, ja waarlik ek het gesien,
hoe die opstuwende lug wit woeste wolke word
wat die ruwe krappende pieke verberg
dit het voor my oë gebeur, reg voor my,
daardie gemaal van water en woede
ineens kon ek beswaarlik meer as dit sien
net die water en al die woede
maar die wind, liewe Heer, die wind was so sterk
dat ek moes vashou
en al wat daar was om aan te gryp
was die woord en toe hoor ek
in ‘n hortende, smagtende, digte lugvlaag
wat teen ‘n krans te pletter waai
sodat die onrus in nat stukkies na benede stort
die skepper daarvan is dood.
© Jaco Fouché, 2024