Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
2 December 2024

Bester Meyer. Breyten Breytenbach: Om die duif wat opkom en ondergaan aan te hou volg …

 

Breyten Breytenbach: Om die duif wat opkom en ondergaan aan te hou volg …

 

Om vir die maer man in die groen trui te huldig, is nie ʼn maklike taak nie. Waar sou ʼn mens begin? Seker by die woord ‘vrygewigheid.’ Dat hy ons op die diepste sintuiglike vlak ʼn gevoel van verstaan vir die digkuns gegee het: is ʼn stelling wat ek dink weer en weer herhaal kan word. Vir my was dit om ons (Afrikane én wêreldburgers) te laat verstaan dat om deur gedigte met mekaar te praat, ons by ʼn punt kan uitkom waar ons  stem kan verleen aan die taal waarin ons mekaar beter, meer volkome, op sielsvlak kan verstaan. Wanneer ons oor die afgrond van die onsegbare tuur, slegs dán is dit moontlik om die Ander (in al sy/haar vorme) te (kan) ontmoet. Dit is slegs dán vanselfsprekend dat dáárdie ontmoeting – die harmonie van elke seisoen, die manlike en vroulike in ʼn kolk van lewe; die oeroue  dans van verrukking en verruklikheid – met hom sal saamdra. Wanneer die woord nie soseer enige spesiale letterkundige betekenis, óf simbool, óf metaforiese strekking wil kom vestig nie, maar waar dit ons by die (kontra)punt kan uitbring waar ons gedwing word om ons groter samehorigheid te (h)erken. Aldus bruin reisbrief: [in] “ʼn mooi land, oop vir al sy mense.” Ek hou veral van hierdie frase uit Met ander woorde: Vrugte van die droom van stilte wat dié proses omskryf:

 

“Dalk moet ons déúr woorde na die eenvoudigste dinge kyk, en die stilte met die woorde lees. Die gedig dan, is ʼn ‘vorm’ vir die onsêbare, soos mens in dieper grondlae soms die spore kry, die índrukke, van klein efemere dingetjies en diertjies wat in die oertyd daar versteen geraak het, vergaan het en net die ‘ekstrak’ agtergelaat het.”

 

Ek was bevoorreg om een van die aande by te wees toe hy saam met Schalk Joubert en Laurinda Hofmeyr van sy gedigte voorgedra het, altyd met speelse, amper stoute glimlag nadat hy een – wat voorheen op wit papier tot soveel lesers gespreek het – vir ons kon opmaak én vertolk in sy eiesoortige stem, terwyl die taal van sy hart uit hom gestraal het soos water: “Kyk, hy is skadeloos, wees hom tog genadig,” onthou ek nog een van die frases of was dit miskien: “En daarom: skuldig, skuldig.” (?) Dit is hoe ek hom sal onthou. In daardie waardigheid het hy ons vir dekades lank gelei sonder enige grootvertoon, behalwe as daar iets is wat reggestel, óf reggeskryf, moes word dan eerder met ʼn uitdagentheid, ʼn skerpsinnige intelligensie, waarmee hy enige teenstaander/s van die waarheid, veral met inaggenome taal, kultuur of andersheid, kon uitdaag en/of half spottend kon dwing om tot inkeer, óf toegewing, te kom. Uitlatings/waarhede soos byvoorbeeld:

 

“Ons is ’n bastervolk van vele oorspronge en volledig en onlosmaaklik inheems as Afrikane. Ons is (nie as enigstes nie, maar net so “geregtig” as wie dan ook) van die oorspronklike synsnyers en agter-die-sterre-aan-lopers. Ons taal moes gesmee en gelouter en versoepel word omdat ons hier moes oorlewe, moes andersmaak en andersword.”

 

Uit die aard van die saak het hy hom ook stewig ingegrawe as die ghoeroe (vir menigte van ons) as dit gekom het by die hoeksteen van iemand-om-na-op-te-kyk. Iemand by wie digterlike gesprekke kan/kon begin. Soos wat hy vroeër die oë gerig gehad het op die leermeesters voor hom, so kan sy werk nou die (bede)snoere word vir ons wat agterbly. Soos wat NP van Van Wyk Louw se werk hier en daar in sy eie werk sou deurbreek, so sal Breyten se werk inspirasie bly vir sy taalgenote. Dalk om weer bruin reisbrief as voorbeeld te gebruik:  My broer, my dor, verlate broer: iets wens dat mens weer in jou groei  teenoor Van Wyk Louw se: “My land, my dor, verlate land: / íets wens olywe groei in jou:” Ignatius bid vir sy orde; word Breyten bid vir homself; word Charl Pierre bid vir God. En juis dít: is die nalatenskap. Die siel van ʼn groter orde wat hy lewenslank gestand gedoen het in ʼn poging om die ekwilibrium van die Afrikaanse taal met betrekking tot alle groeperinge in Suid-Afrika en elders te behou.

Ek dink dit is elders ook gesê dat hy ʼn inspirasie is wat sal aanhou om vir jong en nuwe skrywers én enige persoon wat sy/haar hand wil uitreik na die veer-en-inkpotjie van die woord. Op persoonlike vlak sal ek sy vrygewigheid en aansporing tot my vertalingpogings van Magmoed Darwiesj se werk altyd onthou. Ek het ten minste twee e-posse van hom af ontvang toe ek met dié vertalings besig was ter aansporing en selfs die aanstuur van ʼn video waarin hy deel was van ʼn paneel wat Darwiesj se werk bespreek het.

Soos uit die titels en sub-titels en soms titels van sub-afdelings in sy bundels deur die jare baie aanwending sou vind, word die nommer nege vooropgestel. Dit is juis die nommer nege wat ʼn volmaak-voltooide sirkel vergestalt. Dieselfde sirkel op die voorblad van Met Ander Woorde: Vrugte van die droom van stilte (?) Oorwinning van die “Groot Niet” aldus Lotus 1.1 veronderstel die vereniging dáármee: ʼn proses van oneindigheid. Die begin veronderstel alreeds die einde. Alhoewel dit vir Breyten tot ʼn einde gekom het in hierdie inkarnasie (én hy volgens die Zen-tradisie nou weer deel (ge)word (het) van die groter geheel), is dit ʼn begin vir dié van ons wat agterbly. Ons sal nou dalk vir eerste keer sy nalatenskap werklik kan waardeer vir wat dit is. Sonder om hierdie nalatenskap noodwendig hoef te toets aan die verhandelings op ons universiteite se rakke, maar eerder in lig van die gees waarin daar lewe gegee is aan sy geskrifte: ʼn medemenslikheid, maar óók ʼn verantwoordelikheid met betrekking tot sy (en óók ons) selfopgelegde rol; sy leierskap; maar uiteraard bloot ten behoewe van die digkuns. Ek dink dit is sý woorde wat teen een van die Bordienghuisteater se mure pryk by die Breytenbach Sentrum in Wellington: meer digdink is nodig. Miskien is dit wat hy sou wou gehad het ons motto moet wees.

Myns insiens is ʼn gepaste wyse om ʼn woordsmid te huldig, om dit juis aan hand van die woord te doen. Om aan hand van, en in lig van, Breyten se eie woorde ʼn ‘totsiens’ te probeer bewerkstelling. Dit is wat hierdie paar woorde van dank ten doel staan. Ek vra om verskoning vir puriste wat sal dink dit is onvanpas om fragmentaries met sy woorde om te gaan. Hopelik is die inhoud vorm en die vorm inhoud.

Uit die aard van die saak was hy een van die bekendste vryheidsvegters soos waarna daar selfs voor sy inhegtenisname in August 1975 verwys word in die ou vers Dar es-Salaam: hawe van vrede: ek dink aan julle, verbanne broers in ons vryheidsbeweging, /ek dink aan julle wat die son probeer volg: /as jy met ʼn vinger na die nuwe maan wys/ sal jou vinger ʼn sny kry … Dit is nie nodig om in verskriklike detail hierop in te gaan nie. Almal weet dat dié digter opgestaan het teen die destydse apartheidsregime. Ek dink dat dit vanselfsprekend is dat dit ʼn baie moeilike tyd vir hom was. Moeiliker as wat hy sou wou voorgee. Miskien kan ʼn mens net toeligting verleen uit een van die briewe wat die digter onder die skuilnaam Juan aan André P Brink gestuur het tydens sy gevangenisskap:

 

“Ek gaan nie baie uitwei oor myself en kondisies hier nie – netnou versuip ek weer in die selfbejammering […] My hofsaak: daar’s baie dinge wat ek verkeerd aangepak het en my verklaring was natuurlik maar net een gedeelte van die waarheid (en bowendien plek-plek onder intense druk geproduseer), maar hoewel krom en skeef glo ek nog dat ek die regte ding probeer doen het gesien aan die omstandighede van die ander se aanhouding asook komplekse verhoudings met die ANC. Sedertdien word ek nog altyd in streng isolasie aangehou in Maksimum Sekuriteit. Dié ander flappies hier is óf psigopate (maar hulle is nou verskuif), mugus wat elders ʼn breek gemaak het, […] af-en-toe politieke gevangenes wat “makgemaak” word, spesiale gevalle soos Protter en Tsafendas (in ʼn ander seksie: ek het hom nog nie gesien nie, maar hy’s nou oud en glo swaksinnig […] en ter dood veroordeeldes, of “kondêms”. Gemiddeld word sowat tien ʼn maand gehang en dis verskriklik – die singery die laaste week en die oggend op pad op, die slag van die valdeur, die feit dat baie doodwurg, […] die spottery van die Boere wat dan weereens “gefliek” het – maar, soos hulle sê en glo en as eerbiedige Christene góéd oor voel: “gelukkig hang ons nie baie mense op nie, net kaffers en meide”

 

Breyten se hart met betrekking tot die vryheidstryd word baie mooi lewe gegee in die vers: die revolusie wat dan op sigself ʼn aansporing word vir ons agtergeblewenes om aan die oorblyfsels van sy gees vas te hou met betrekking tot die beswering van ongeregtighede (in welke vorm ook al). Ek haal slegs die laaste paar strofes van die gedig aan:

 

maar vir vryheid is my hande granaat

my hart met sy wegsêplekke my liefde

vir die bruid in swart op die olifant se rug

 

vrugte vir die werkers en boere

die dooie krygers die flenter-proletariaat

híérvoor het my oë soos sneeu verbleek

 

sigaret in die tande voor die vuurpeloton

die vloekende skelet met as in oogholtes

inkarnaat die uitspansel

 

lees hierdie rede hardop, broer

twee was donkiekarre vol brood en wyn

vir armes verower met daeraad

 

vir ware vryheid is my hande paraat

hoera vir die omwenteling

verower vir die armes met daeraad

(nege landskappe van ons tye bemaak aan ʼn beminde, 130)

 

Breyten se lewe kan beskryf word as ʼn konstante poging om ‘heiligmaking van die niet’ deur die skryfdaad te bewerkstellig. Om vir ons ʼn hawe van verbeelding en droombestaan te kon gee, en deur ruimte en landskap vir ons die oopskryf van verbeelde ruimtes te kon bewerkstellig. Sy nomadiese gesprek met Magmoed Darwiesj het ʼn wesenlike uitwerking op my gehad. Dit is dié gesprek wat my sou laat poog om te skryf en te vertaal. In antwoord op ʼn vraag aan Magmoed Darwiesj oor wat die rol van die digkuns is in die barbaarse tyd waarin ons leef, speel, haal Breyten onder andere vir Darwiesj só aan:

 

“… dit verbind die intieme met die universele, [die digkuns] kan sy beeld as dogter van alleenheid en wandelaar van die buiterand – soos ʼn eggo wat opreis uit ʼn obskure droom – nie ontwyk nie… Digters moet nie daardie alleenheid ontken nie; ook nie nét glorie dááraan bring nie – maar hulle moet aanhou om ewige reisigers tussen die innerlike en die buitekant te wees.”

 

Dit gaan dus vir Breyten oor ʼn (taalmatige) totstandkoming van die niet as ruimte waarin sy werk kan oplos om in die proses ʼn hawe van eensame ontmoeting vir hom as skrywer met die leser daar te stel. Dít is miskien wat bedoel word met die stelling: die ‘heiligmaking van die niet’:

 

en jy sê: om deur leë erwe van vergaan te dwaal

is om die heiligmaking van die niet te verkondig

soos die blinde digter van walvisse

as buitelende heuwels in die maanlig sing

 

skryf op: Arabier

skryf op: Palestyn

skryf op: Afrikaner

skryf op: ook mens

 

(Oorblyfsel/Voice over. Op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj)

 

Uit Breyten se pen spruit van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans voort. Twee sprekende voorbeelde is die latere bloemlesing Rooiborsduif (2019) en sy voorganger Lady One (2000), ʼn versamelwerk van 99 liefdesgedigte. Verskeie van hierdie gedigte word deur die jare deur toonsetters vertolk en lewe gegee. Die welbekende liefdesgedig Slaap Klein Beminde word hieronder aangehaal met skakels na die toonsettings dáárvan:

 

Slaap Klein Beminde

 

slaap klein beminde

slaap soet slaap swart

nat soos suiker in koffie

wees bly in jou drome

blaas op fluite

koop ‘n groot huis

eet die oudste pere –

hulle wat soet word in grysheid –

slaap soeter as pere

weg die dreigemente

weg die basterwind

die bolletjies reën die plunderson

weg honger en hofsake

weg gebrek aan geld

weg alle kanker

en tandpyn of narkose

en blinde honde

weg die hele idiotedom

behalwe jy

en as jy so wil

asseblief ook ek

 

ek sal waak oor jou drome

ek spyker die vlieë aan die muur

ek wag gewapend vir die son

en die wind

en die reën

as jy lag sal ek lag

en as jy huil

klein beminde…

moenie huil nie

 

kyk ek koop vir jou ‘n hoed

en vars brood so swart

nuwe oë en ‘n koets

soos pere in kiste

en musiek vir jou ore

en jou ure

en krukke vir jou klagtes

en as jy wil

Amerika en die maan

ek sny my mooi land

vir jou vry

 

maar dis vir môre, mañana…

slaap nou eers beminde

slaap vinnig, slaap ver

slaap soeter as nagte

en hoër, ligter, liefder

vryer, ewiger

en blyer as ‘n veer

 

(die huis van die dowe, 15)

 

Laurinda Hofmeyr: Wat ek wou sê – https://www.youtube.com/watch?v=Tqzzv3sFVsQ

Johannes Kerkorrel: Die Anderkant – https://www.youtube.com/watch?v=cTTKZT30lfE

Bester Meyer: Musiek vir jou ure – https://youtu.be/zf_vpBHAHME?si=k4t1TSxlZhwpXdGk

 

In sy latere werk is dit amper asof hy vir ons instruksies begin agterlaat met betrekking tot ‘skryf’ en die ‘skryfdaad’. In die gedig die dans van die klippe beskryf hy dan ook hierdie proses met soveel grasie. Wat voorwaar wonderlik is, is dan ook die manier hoe hy, Schalk Joubert en Ronnen Skillen dié gedig in musikale vorm laat lewe kry het. Ek haal net drie versreëls hieronder aan, maar verskaf dan ook weer ʼn skakel na die volle musikale voordrag deur Breyten self:

 

dit is die patroon: leegheid is vorm

aan die begin, en om dit te laat bewe

moet jy dit vol maak met die voëlskaduwees van woorde

 

(katalekte, artefakte vir die stadig gebruike van doodgaan, 134)

https://www.youtube.com/watch?v=FNre_g1tAWw

 

Wat ek in die opsig by hom geleer het is dat dit ten eerste oor die leser gaan. Nie oor die akademikus óf selfs, meer belangrik, myself of my ego nie, maar om in die proses van gedigtemaak die vers van alles te ontbloot, sodat daar, in wese, niks van myself oorbly nie, maar eerder ‘iets’ wat selfstandig na die leser uit kan reik met die einddoel om berusting vir my, maar ook wie Breyten as die ‘lees-engel’ beskryf, te bring:

 

maar laat ons berusting vind

in so ʼn eenmalige lotsverstrengelde

strewe om verby sterwe te kom

sodat jy, lees-engel

 

my mag vergeet en jy jou

my woordsterfvlerk kan vergewe

om te wéét: verbind in lig se verblinding

het ons vlerkeskeur nooit bestaan

 

(op weg na kû, 7)

 

Miskien dan ter afsluiting en as saluut aan hierdie woordsmid – ʼn vertaling van sy eie beskouing oor skryf – soos geneem, en in Afrikaans vertaal, uit die laaste paar paragrawe van die laaste opstel in Notes from the Middle World:

 

“Kennis is gewoonlik verifieerbaar en bewustheid moet bewysbaar wees maar beide kennis en bewustheid word gewysig word deur dialektiese interaksie. God het ʼn dubbelganger: dit is sy verbeelding. En wat ook al ons nie verstaan nie, is vry. Luister, wanneer daar niks oorbly nie, dan klop die musiek met bedoeling.

     Die beweging wat ons nodig het om te kan skryf, is om die skrywe toe te laat om sy opgesluite intelligensie te illumineer – sodat ons kan dans en spore oor die papier kan smeer. Dit bestaan uit skeure en breuke, om halt te (kan) roep aan asemhaling en die inademing van stilte, om te poog om drukpunte en patrone raak te sien, om die toekoms te verbeel; onsself te versin—ook die verlede in; om te poog om die inhoudelike ʼn etiese patina te gee. Die verwesenliking van hierdie beweging sal bestaan uit afsetting eerder as stratifikasie.

     Miskien is dit om die aanvoeling van teenwoordigheid te verdonker. Die spieël (die Middelwêreld) is ook ʼn skerm tussen die vervlietende hier altyd onderweg oor die bladsy en anderkant van dit wat nie-is-nie: in die eerste plek die tussenin wat ‘innerlikheid’ vermoontlik maar ook die ewige vloei en verwittiging. Miskien was die laaste dans in die spieël se donker lig, die plek vanwaar die dood na ons gekyk het met verblindende oë.

     Want kyk, wat ek sê is dit: tussen die onnaspeurlike toevallige behoefte aan geboorte en die absurde onvermydelikheid van dood is daar niks wat betekenis fatsoeneer nie. Skryf is die skepping van niksheid.”

 

Bronne:

Breytenbach, B. 1970. Oorblyfsels. Buren Uitgewers. Kaapstad.

Breytenbach, B. 1973. Met ander woorde: Vrugte van die droom van stilte. Buren Uitgewers. Kaapstad.

Onderhoud: Breyten Breytenbach met Willem de Vries. 24 April 2020. Voertaal: Breyten Breytenbach: Sal die nood ons leer herbesin? https://voertaal.nu/breyten-breytenbach-sal-die-nood-ons-leer-herbesin/ (Besoek 30 November 2024)

Breytenbach, B. 1976. Skryt. Om ʼn sinkende skip blou te verf. Verse en tekeninge. Meulenhoff. Amsterdam

Welz, M. 1977. Breyten en die Bewaarder: Die Breytenbachverhoor Junie-Julie 1977. McGraw-Hill Boekmaatskappy. Johannesburg.

Breytenbach, B. 1993. Nege Landskappe van ons tye bemaak aan ʼn beminde. Hond/Itaka.

Breytenbach, B. 2009. Afrikaanse vertaling van ʼn gedeelte van The Pity and the Horror : Notes from the Middle World. Haymarket Books. Chicago.

Breytenbach, B. 2009 Oorblyfsel/Voice over. Die Nomadiese Gesprek met Magmoed Darwiesj. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau

Viljoen, H. 1992. Breytenbach en die Simbolisme- ‘n voorlopige verkenning. Literator 13(1) 1992:

15-28 (ISSN 0258-2279)

Viljoen, L. 2014. Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach. Sun Press, Stellenbosch.

Breytenbach, B. 2019. Rooiborsduif. Gedigte oor die liefde. Human & Rousseau.

Breytenbach, B. 2000. Lady One. 99 Liefdesgedigte. Human & Rousseau.

Breytenbach, B. 1967. Die huis van die dowe. Human & Rousseau.

Breytenbach, B. 2019. Op weg na kû. Human & Rousseau.

Breytenbach, B. 2009. Afrikaanse vertaling van laaste gedeelte To bring to Book: Notes from the Middle World. Haymarket Books. Chicago.

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Christiaan Diedericks. Vers 81
Jaco Fouché. ou man van die berge →

3e gedagtes oor “Bester Meyer. Breyten Breytenbach: Om die duif wat opkom en ondergaan aan te hou volg …”

  1. Bester says:
    12 March 2026 at 09:10

    Dankie vir die kommentaar Dietloff.

    Ek het twee weke terug afgekom op Eklips in ʼn boekwinkeltjie vir R10. Haal sommer hierdie juweelversie uit dié bundel aan:

    “die hart is so donker die son is in haar skede
    verstrooi o Meesteres die sterre-angs van my bede
    dat liefde nog mag jubel eer ek weer ontslaap:
    lig lig raak die bergtoppe soos ooglede”

    Reply
    1. DIETLOFF VAN DER BERG says:
      16 March 2026 at 16:25

      Baie dankie vir die deel Bester

      Reply
  2. DIETLOFF VAN DER BERG says:
    8 March 2026 at 08:59

    Baie dankie vir hierdie persoonlike siening en waardering van Breyten se werk.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid
  • Nuwe Publikasie. Ilse van Staden: Metamorfose
  • Digtersprofiel: Bernard Odendaal
  • Gerard Scharn. het was verschrikkelijk
  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d