Wie is die ‘ons’ wat gebed verdien
Die Burger 13 Februarie
Bélsasar, óf die grote god van vrugbaarheid,
hierdie paar woorde aan jou vandag
so half-god, half-koning
onse oranje heiland –
die bod is mos gemaak
maar dié wat byna-mens is, moet wel beweer
dat die geskiedenis die mantra dra –
ʼn wit transformerende haat
almal knegte van die laksman
soos die vlieë in die salf
al vroeër uit die suide
dat die takelwerk van die skip
dieselfde seile bevat as
ene Viktor van Hongarye
wat vir homself ʼn goderyk (moderyk?)
van absolute mag kom propageer het
as voorbeeld vir die res van Europa
waar een persoon met een stem
as allerhoogste – wet –
gestalte moes vind
en basta met die orde van broederskap
dít wat in die kader van verdraagsaamheid sou pas
hulle staan op tegnologies-feodale-trone voor hul medemens
en bemoedig die honderyk met katodes aan hul knaters
dat óók hiérdie maar bloot deel uitmaak
van die ontvorming, to make something great again
moet daar sigself ʼn offering aan die gode wees
die gevangenes moes óók op herrese reise gaan
hulself van die kundige ruïnes van fascisme verlos
óór die ver verlate mynskagte van kolonialisering, apartheid
die hele boksemdais sleepvoet gestrompel
soos self-opgelegde walgelaars
wat deur vrywillige ballingskap weer moes leer
dat die vryvoet parabole van dolfyne rondom die skip
in ʼn oseaan gevind kan word
wat met een of Ander (se) liefde bol
die geveinsdes moes erken
dat sekere koppe in die doderyk moet rol
anders hoe bly ons oranje heiland bó?
máár hoe aanbid ons God
as dan nie deur man en vrou as een
om met transendentale krag te kan uitbasuin:
helaas, helaas, die vergelyking bevat nou selfs ʼn X
ʼn ge-mene deler in die tekel-werk
© Bester Meyer, 2025