om ’n Melkweg te skep
Erwin Rode

Wanneer ek vergaan
het tot sterstof
sal ek terugkeer na my tuiste
in die verste ruimte –
nuuskierig op soek
na die kunde
van waar alles begin het.
Die gedigte in om ’n Melkweg te skep karteer – doodernstig én satiries – die onbarmhartige wyse waarop die mens met die aarde en sy medemens omgaan. Met reg vrees aardlinge die apokalips: “Gespanne wag ons op die faktuur.” Persoonlike ervaring word in die wyer konteks van die geskiedenis en kosmologie geplaas. Gelukkig is daar nog troos te kry in die natuur – spesifiek die Karoo – en die liefde.
Oor die digter
Erwin Rode (1943) beter bekend as Suid-Afrika se eerste en voorste eiendomsekonoom, debuteer met hierdie bundel. Sy talent val egter nie uit die lug nie, want hy het as BA-student in 1964 in D.J. Opperman se digtersklas gesit en in 1965 ’n gedig in Die Sestiger onder redaksie van André P. Brink gepubliseer. Daarná ’n lang stilte terwyl hy die lewe leer ken het. Erwin het ook ’n MBA-graad en is getroud met die boekmens en vertaler Linda Rode.
[Turksvy Publikasies. 2026. FORMAAT: A5. AANTAL BLADSYE: 106. PRYS: R270.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-0665794-1-9]
