Lesse in Wêreldreise
i
In New York bekgevegte oor taal
nes straatkatte oor visgrate.
Ek bestel ’n Starbucks;
die barista antwoord in Italiaans
ek glimlag, sê dankie in Afrikaans.
Terug in my land
Blouberg se strand ’n pasgebleikte tafeldoek,
selfs die meeue skree in vreemde dialek —
al wat ek hoor ’n honger-gebed.
ii
San Francisco vroegoggend
’n pispot te lank in die son gelos.
’n Man skuit tussen struike
en verdwyn terug in sy verslete vaal tent
hoe anders ons wêrelde — ek opsoek
na skoonheid, hy na rus dalk vrede.
iii
In Parys, oorkant die Louvre,
verdwyn moeder se beursie.
Jare vantevore, Pretoria:
my eie beursie — skoonveld.
Miskien was daardie R20-00
’n subsidie vir iemand anders se broodnood,
maar in my kop is die dief
steeds die hoofkarakter
in my studentebegroting riller.
iv
Reise het altyd ’n prys:
hotelle sonder lugverkoeling
een klein dak-venstertjie.
En tog
vertroetel ons hierdie herinneringe:
die wind, die beursies, die tale, die sand —
die wêreld beroof ons net genoeg
sodat ons iets het om oor te lag
terwyl die paspoort geduldig wag
soos ’n hond by die voordeur.
© Carla Botha, 2025.

ń Oë oop maak,ver terug dink gedig.Laat mens wonder oor die lewe,sy swaar en lekker kry.