Frankofiel
Carina van der Walt
Tussen verwondering en nuuskierigheid, tussen vreemd en bekend – in dié tussenruimte kan ’n vermoede ontstaan oor waar jyself vandaan kom. Dit is die genealogiese reis wat Carina van der Walt in haar gedigte maak. Via die vervolging van die Katare en die Franse Hugenote in Suid-Frankryk kom sy in Kaap de Goede Hoop aan. Frankofiel is ’n ryk digbundel wat familiegeskiedenis oopskryf en leemtes met mites aanvul.
Frankofiel bestaan uit twee dagboeke: Oksitaanse dagboek en Paryse dagboek – soms in verhalende poësie geskryf. Die bundel begin met ’n Europese reis van Carcassonne na Parys en eindig aan die suidpunt van Afrika by Franschhoek. Frankofiel is ook ’n tydsreis vanuit die Middeleeue wat veral fokus op die Katolieke se kruisridderaanval op Carcassonne in 1209, die toenemende bedreiging van die Franse Hugenote se godsdiensvryheid en hulle aankoms in die Kaap. Daaronder tel beide Van der Walt se stamvaders Pierre Jaubert en Jacques Pinard in 1688. Joubert, Pienaar en andere het met hul wynplase die Suid-Afikaanse wynbou gevestig. Goeie wyn vloei deur baie gedigte.
Is Parys romanties? Ja en nee. As kulturele hoofstad van die ou wêreld bied Parys ikoniese argitektuur, moderne kunsgeskiedenis, haute couture en verfynde cuisine. Min daarvan ontsnap aan Van der Walt se digterlike aandag in die voetspore van haar Joubertpa. Ook hý het ’n glimps gekry van hoe belangrik die vroue van Parys vir die Franse kultuur is. Parys is ’n vrou – kwesbaar en sterk. Binne ’n dekade beland sy op haar knieë na terroristiese aanslae en staan sy op om die Olimpiese Spele aan te bied.
Vryheid om jou eie lewenspad te loop én verwondering oor waarheen jou nuuskierigheid jou lei, is vir Van der Walt om sinvol te leef. Die skering en inslag van ’n selfgeweefde lewe – hoe nederig van aard ook al – geld waarskynlik vir elke Franse Hugenootafstammelinge.
Oor die digter
Carina van der Walt is ’n digter, kunskritikus en -redakteur en filmresensent, laasgenoemd in Nederland waar sy woon en vir Brabant Cultureel skryf. Haar eerste bundel is in 2015 in Nederland gepubliseer. Haar eerste digbundel in Suid-Afrika was Landluisteraar in 2021. Landluisteraar het as ’n literêre verlengstuk by haar monografie oor Strijdom van der Merwe se landkuns die lig gesien.
Stilspraak, Strydom van der Merwe en Landkuns was in 2021 op die kortlys vir niefiksie van die kykNET-Rapport-Boekprys.
[Naledi. 2026. SAGTEBAND. FORMAAT: 210 X 148 mm. 178 BLADSYE. PRYS: R275.00. ISBN 9781997476511]
