Vers & Kapittel III
Daniel Hugo

Die derde bundeling van Daniel Hugo se artikels, rubrieke en resensies oor die poësie lewer onverminderde genot. Hugo skryf toeganklik en pittig oor die poësie, dit wil sê oor ’n onderwerp wat dikwels as verhewe of elitisties gesien word. Selfs in sy gewigtiger bydraes, soos die gedenklesings, wat heel komplekse ontledings van gedigte bevat, verval hy nooit in akademikaans of in teoretiese jargon nie. Sy beskouings word kort-kort gepeper deur kostelike literêre anekdotes. – Francois Smith
By die lees van die stukke in Vers & Kapittel III kan ’n mens nie anders as om weer onder die indruk te kom van Daniel Hugo se wye belesenheid nie. Verstommend is die wyse waarop hy daarin slaag om intertekstuele eggo’s en toespelings raak te sien of te hoor – veral tussen Afrikaanse, Nederlandstalige en Engelstalige gedigte. Die poëtiese tradisie word as ’n wydstrekkende netwerk beskryf. Hy doen dit met ’n sprankelende, immer heldere woord- en formuleervaardigheid. – Bernard Odendaal
Oor die digter
Daniel Hugo (1955) is op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek waar sy pa ’n predikant was. Hy studeer aan die Universiteite van Stellenbosch, Pretoria en Leuven, en verwerf ’n doktorsgraad oor die vernufspoësie. Hy was ’n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Daarna was hy’n omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK. Daar het reeds 17 digbundels uit sy pen verskyn – die jongste is Kategismus van 2025. Vir sy vertaalwerk uit Nederlands is hy twee keer deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Vir sy digbundel Klinkklaar (2021) ontvang hy ’n ATKV-Woordveertjie.
[Turksvy Publikasies. 2026. FORMAAT: A5. AANTAL BLADSYE: 358. PRYS: R380.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-0483-2138-8]
