wiskunde
in ‘n [boks]
Uit die kraan laat water ‘n hele wiskunde los:
’n oneindige som van H₂O intyds,
elke druppel wat spat ’n klein differensiaal
van verandering en val.
Swaartekrag in ‘n stille vergelyking van afstand en tyd
bepaal die vryval, g altyd dieselfde.
Teen skouer en vel breek kontinuïteit oop
in duisende silwer bane begrens deur teël en glas:
in ’n oogwink ontvou ‘n hele vloeimeganika
van ruimte & tyd, massa & energie
tot dat alles wat was weer integreer
sodat niks verlore gaan nie, die dreinpyp hou boek tot die laaste druppel:
Tog staan hy daar, onbewus van die grootse berekenings,
van hoe ‘n ganse wetenskap oor hom spoel —
net oorgegee aan die warm biologika van die self.
© ND Cronjé, 2026
