dna
mens droom ’n kind uit ‘n wolk en die breinbedrading
skep ’n gelaat wat die eie lyne nie vergeet nie:
‘n identikit wat iets van die selfasem dra
al is dit swak ontwerp en geteken
die eiekode wil arms hê en bestaansantwoorde
’n klein liggaam van herhaalfoute
wat kan roep, al is dit stotterend
wat verlaat en terugkom, geslag
onverwags ter nagedagtenis:
mens wil nie ‘n kennisoordrag hê nie,
daar is van te veel te min om te deel
te veel swak- en domhede wat eindelik onthuts
maar die weerloosheid van ’n begin en einde
die tele legio: onsigbare menigte
’n stilte van ongesiens
op die horison ’n stormlyn,
donker en lig ontasbaar
verlate onaantasbaar
© ND Cronjé, 2026
