MARS
O, onheilige skerpskutter
van die nag,
jy hurk rooi en laag reg wes;
jou bloedlus bruis op in volkere,
en dwing hul voort
na die grou van kernwinters.
Maar o, skoonheid!
waar skuil jy in die warboel,
my aandblom?
Met die uitstap sien ek jou
en weet: jy, skaam Gladiolus tristis,
sal steeds hier wees,
lank na die mens uitgewis is.
© Ferdi Wheeler, 2026
