I
Met hierdie herontdekking van Sheila Cussons ontdek hierdie leser gedigte oor rose. Hierdie twee verse opgeneem in Die sagte sprong en Die knetterende woord gee verskillende weergawes van die roos wat waarskynlik een van die mees gelade simbole in die digkuns is.
Sterwende roos
Die roos te ver heen om
nog om te gee of sy obseen is
hoor die wêreld om haar enorm
dreun van doelgerigtheid
wil, wil net uit die gelade
verband van spier en spanning
terugval, wegval en geheim wees.
In “Sterwende roos” is daar personifikasie. Sy is ver heen (mal? aangetas?) teenoor die doelgerigtheid van die Umwelt terugtrek. Terugval, wegval en ‘n geheim wees. Soos ‘n filmaktrise? ‘n Seksgodin?
In die tweede gedig word ‘n roos bewaar in ‘n wit koevert. Uit ‘n Europese somer van twintig jaar gelede …
‘n Roomroos met goue meeldrade en ‘n veramberde gloeihart. Die roos het ontkom aan dit wat verniel (het). Met die implikasie dat die spreker, anders as die roos, deur geweldige ontberings en stryd is en dat die gedig al rymende, al skrywende ontstaan …
Tafsy ‘n afgeleide vorm, wat glansende, gladde weefsel van gekookte sy bedui. In die Frans ook ‘n skoonheidspleistertjie. Dalk ‘n herinneringe aan die spreker se skoonheid jare gelede?
Reliek van ‘n besondere roos
Uit ‘n Europese somer van twintig jaar gelede
bewaar ‘n wit koevert
die reliek van ‘n besondere roos, een wat nooit
verwelk het nie
maar heel en vol lig verhuis het aan haar stengel
behoue broos ‘n roomroos
met goue meeldrade fyn ingevou
in haar veramberde gloeihart.
Mymeringe peins oor haar wat so geheel ontkom het
aan wat verniel
peins rymende oor haar en hoor geruis van redeneringe
wat tafsy kniel.
II
Oor rose is daar al uitsonderlik gedig:
https://www.tweetspeakpoetry.com/2014/08/21/top-ten-rose-poems/ Besoek 24 September 2026
Robert Burns:
A Red, Red Rose
O my Luve’s like a red, red rose
That’s newly sprung in June;
O my Luve’s like the melodie
That’s sweetly play’d in tune.
(…)
Gertrude Stein se “A rose is a rose is a rose is a rose” uit “Sacred Emily” in 1913 wat beteken dinge is net wat hulle is …
‘n Rooi roos is ‘n simbool van die liefde, maar ook net ‘n pragtige blom.
By Cussons word al hierdie kwessies geaktiveer: simbool en net ‘n beskrywing van die roos.
‘n Beweging tussen hede en verlede met die gedig wat die herinneringe bewaar.
Rooi rose geplaas teen ‘n roomroos.
En die bekende liedjie “I never promised you a rose garden” praat ook saam:
https://www.youtube.com/watch?v=ReVLfIoVMVU Besoek 24 September tot by Fanie Olivier se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
Hierdie antologie het al verskeie herdrukke beleef. Hoe daar oor die liefde gedig word deur alle Afrikaanse digters bly inspirerend.
Die liefde is die bitter glas,
die droë glas, die donker glas;
die liefde is die naverdriet
wat in die hart se holte pas.
III
Miskien aktiveer háár roosgedigte ‘n gesprek met Tristia:
XXVI
Sy sal nooit kom nie. Moenie luister.
Moenie wag. Moet niks verwag nie.
Leer die verwagting af. Leer die wág af.
Leer áf om te luister. Leer af.
XXI
Ek het jou voetstap leer vergeet al
of: leer nie-onthou-nie – weet ek nie.
*
Cussons bewaar die relieke van ‘n liefdesverbintenis in haar veramberde gloeihart met uitsonderlike gedigte. Onthou en probeer vergeet.
Soms in ‘n dubbele negatief.
Joan Hambidge
Kaapstad
24 September 2026
