Foto 27, Deurslot Louwhuis
Dis grendeltyd, N.P. van Wyk Louw
Ek het vrae oor Heloise, Abelard.
Pak sy ook, soos ek, haar tas uit
na jare se swerwe tussen vreugde en pyn?
Voel sy ook haar hart, yskoud in die vrugloosheid
van ’n huis van wind?
Want nooit weer sal sy slaap
in die krom van jou lyf nie.
My eie hart het versteen in vliegtuie oor dooie vulkane.
Ek staar nou na die swart oplegslot op jou foto’s,
die roesgrendel wat die verlede dig moet hou.
Jy vra in waansin om bo die berge stil te woon,
ek tuur soos jy na haelwit somerwolke wat uitbloei
en soek tussen jul lyne na sin en wysheid.
Jy skryf hoe jou uurwerk kantel.
Ek kyk, soos sy, na die uurwerk se wysers wat twaalfuur paar.
Die wit deur klap toe, ’n voetstap, weg.
Voel hoe oneindig skemer word die pad tussen rug en rug,
tel die dae wat soos grys en brak vleie uitstrek.
Ek soek in jul woorde ’n laaste kuil van stilte tussen riet.
© René Lötter, 2026
