
Resensie: Boei: ‘n Resensiebundel deur Jean Meiring. 2026. Pretoria: Protea Boekhuis.
Resensent: Marlies Taljard
Pas het Daniel Hugo se Vers & kapittel III by Turksvy Publikasies verskyn waarin artikels, rubrieke, resensies en gedenklesings oor die digkuns verskyn. Die subtitel van Jean Meiring se Boei is ’n Resensiebundel. Dis interessant en noodsaaklik dat dié twee bundels van toonaangewende literêre kritici wat met reg beskou kan word as meesters van hulle vakgebied, juis nou verskyn. Die agterbladteks van Meiring se bundel verskaf ’n moontlike antwoord: “Boei is ’n pleidooi vir aandagtige lees in ’n tyd van vervlakking, en ’n bewys dat die goeie resensie self ’n literêre daad kan wees.”
Kerneels Breytenbach sluit hierby aan in die woord Vooraf wanneer hy aanvoer dat een spook wat alle uitgewers teister “is dat ’n epog sal verbygaan sonder dat sy hoogte- en laagtepunte aangeteken word in kritiese reaksie van resensente” (my kursivering). Die debat oor wie mag resenseer en wat ’n resensent/resensie is, is nou – soos maar altyddeur – steeds warm en gemoedere loop van tyd tot tyd oor, vriende en kollegas skryf mekaar af, haatpos word onder skuilname versprei, maar ek stem met Breytenbach saam wanneer hy Meiring se bundel loof omdat dit “verskyn in ’n tyd waarin die Afrikaanse media dermate verskraal het dat ’n mens na die jare twintig [van die vorige eeu] moet terugkyk om ’n vergelykbare era te vind”.
Inderdaad is ’n resensie die verslag van ’n leser wat aandagtig met ’n teks omgegaan het. In die lig daarvan beweer Breytenbach dat dit hom opgeval het “dat Meiring glo die resensent moet nie alleen verduidelikend met literatuur omgaan nie, maar aktief probeer om die resonansie daarvan in die openbare en private lewe te verdiep”. Resensies speel inderdaad ’n belangriker rol as wat dese en gene dalk mag dink in die vorming van ’n korpus gerekende literêre werke (oftewel die vloekwoord: Die Kanon), hoewel sosiale media wat heeltemal anders funksioneer en heel ander beoordelingskriteria aanlê, tans nie buite rekening gelaat kan word nie. Tog is dit verblydend dat daar skrywers soos Meiring en Hugo is wat ernstig en selfs wetenskaplik ontledend met tekste omgaan. Beide skrywers se resensies is talige kunswerke op hul eie.
Die bundel Boei bevat 85 resensies wat oor jare verskyn het en toon, aldus die agterbladteks, “die reikwydte van Meiring se kritiese stem: van biografieë en geskiedskrywing tot romans, poësie en politieke denke”. Inderdaad ’n indrukwekkende korpus, veral in ag genome dat vier van die resensies wat opgeneem is, bekroon is en dat vyf kortlyste gehaal het. Meiring het tot op hede vier keer die ATKV-Mediaveertjie-prys verower en vier keer die kykNET/Rapport-resensieprys; in 2021 wen hy die South African Literary Awards se prys vir literêre joernalistiek (wat op die flapteks verkeerdelik as die “South African Literary Association” vermeld word).
As inhoudsbestuurder van die webwerf Versindaba sien ek gereeld hoe vriende mekaar van harte gelukwens met “hartsverse”, “sielsverse”, “aangrypende” of “groot” poësie. Wat ook reg is, want veral beginnerdigters het (darem binne perke en die realiteit) aanmoediging nodig. Wat nie meer heeltemal gangbaar is nie, is wanneer sosiale media oorspoel word met lofprysinge oor middelmatige en dikwels gewoon swak bundels wat onkrities deur ʼn magdom “resensente” opgehemel word. Dikwels deur vriende of lede van dieselfde literêre klub of sosiale mediagroep. Wat egter ontstellend is, is dat professionele literatore (meestal gedoktoreer) middelmatige tot swak boeke lof toeswaai of volstaan by ’n opsomming van die inhoud. Ek kry dikwels die idee dat resensente bang is om hulle kollegas se werk objektief en eerlik te beoordeel – wat uiteraard in ’n klein poeletjie waarin alle visse mekaar ken en van mekaar se goedgesindheid afhanklik is, problematies kan wees.
Wat ek hiermee probeer sê, is dat van die belangrikste eienskappe van ʼn goeie resensent eerlikheid en objektiwiteit is, benewens vakkundige kennis, spesifiek van die genre wat beoordeel word, asook versiendheid, m.a.w. hoe die werk binne ʼn groter raamwerk funksioneer en met soortgelyke werk van dieselfde en ander skrywers vergelyk. Ek sal Meiring se Boei hoofsaaklik aan die hand van hierdie kriteria probeer ontleed.
Eerstens egter die titel: Boei. Dié woord kan sowel ʼn werkwoord as ʼn selfstandige naamwoord wees. As werkwoord kan dit beteken om iemand se aandag vas te hou omdat dit interessant of aantreklik is (Eng. “captivate” of “fascinate”). Dit kan egter ook die betekenis hê van beperking: om vryheid te beperk, en in dié sin – op resenseerwerk toegepas – die beperkinge wat die reëls aan die hand waarvan literêre tekste in die praktyk beoordeel word aan resensente stel. Die selfstandige naamwoord “boei” is die instrument wat beperk. Dit kan egter ook gebruik word as soortnaam vir ʼn drywende baken wat gevaar aantoon óf ʼn reddingsmiddel wat swemmers help om bo die water te bly. Hier: om lesers te help om tekste met insig te lees en te verstaan.
Deur die jare was Meiring se resensies toonaangewend, rigtinggewend en professioneel, maar vir hierdie leser ook tekste wat op ʼn besonder kreatiewe wyse met Afrikaans én die (dikwels saai) literêre kritiek omgaan.
Een van die genotvolste resensies in die bundel was vir my dié van Frederik de Jager se Man op ʼn fiets êrens heen” (pp. 75-77): “As De Jager die edele Biliamsgedierte onder die pen bring, stroom ʼn stuk onvergeetlike prosa voort.” En oor Lodewyk G. du Plessis se Die Dao van Daan van der Walt”: “Die neerslag van Daan se gegriffel is ʼn ryklik geskakeerde doek met karakters wat Breugheliaans die derde dimensie binnebars …” (p. 88). Oor Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld: “Hy [Van Heerden] probeer sin fingeer uit die knalle wat Suid-Afrika se wederstrewige tektoniese plate daagliks oplewer” (p. 121).
Wanneer Meiring ʼn werk prys, doen hy dit uit volle bors, máár hy ontsien niemand wanneer hy ʼn werk as flou of swak beskou nie – nie eens die grote Johann de Lange nie. Oor Gulp is hy uitgesproke krities. Hy kom tot die slotsom dat die sekstonele “banaal en saai” is en “[a]s dit by dié tema kom, verskraal die woordmeester De Lange se woordeskat tot ʼn sakkie vol speelgoedterme, waaronder ‘moerse’ en ‘stunning’” (p. 83).
Aan die ander kant is die resensent, soos dit ʼn goeie regsgeleerde (én resensent) betaam, eerlik en regverdig wanneer hy die werk van skrywers met wie (se politiek) hy nie saamstem nie, beoordeel. Drie romans van Steve Hofmeyr word entoesiasties ontvang: Die onaantasbares “is ʼn helleveeg en ʼn helsem van ʼn verhaal” (p. 253). Ten spyte van hulle politieke verskille, is Meiring se resensie van Tembeka Ngcukaitobi se Land matters: South Africa’s failed land reforms and the road ahead nugter en wel beredeneerd met inagneming van die uiteenlopende standpunte oor grondhervorming wat deur Suid-Afrikaners gekoester word: “… al is sy standpunt radikaal, staan Ngcukaitobi juis vir die oppergesag van die regstaat; sy argument oor restitusie en herverdeling is kortom dat dit behoudens die Grondwet en die administratiefreg moet geskied” (p. 309).
Hoeseer Meiring met ʼn wyehoeklens lees, blyk uit die een resensie na die ander. Ek haal willekeurig aan uit sy resensie van Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey waarin die sentrale tema as “die absurditeit van apartheid én dié se nasleep” opgesom word en die boek binne die kader van sy voorgangers geplaas word deurdat dit “stilletjies by Mark Behr se Die reuk van appels (1993) in gelid [skuif] en by die linie nie-fiksietekste wat onlangs die lig begin sien het wat die derms van die dekades 70 en 80 van die vorige eeu in die son blootlê” (p. 96). Soms word die politieke hede op sardoniese wyse betrek, soos wanneer die titel van die resensie van Dan Sleigh se Retoervloot: Kaapstad en die VOC in 1713 is: “Wat óók ná Van Riebeeck gebeur het” (p. 272).
ʼn Baie wyer hoek gebruik Meiring in sy onvolprese resensie van H.J. Pieterse se berymde vertaling Reinaard die vos. Hy het geen probleem om die mens (eintlik die jakkals) soos dit in die twaalfde-eeuse epos Van den vos Reynaerde uitgebeeld word, raak te sien en dit op die Suid-Afrikaanse politieke landskap toe te pas nie. Ek het gelê soos ek lag vir hierdie stuk wysheid oor die jakkals wat immer die hof bly ontglip:
In die aangesig van ʼn leërskare dierekarakters aan wie hy ruim leed gedoen het … vind hy telkens ʼn slu manier om die galgtou te ontglip. Botter smelt immers nie in sy mond nie.
Nes vandag so dikwels die geval is, was die gedagte aan Stalingrad in die feodale wêreld van toe, nooit ver nie (p. 205).
Hierdie is ʼn boek wat ek weer en weer gaan lees. As ek nog studente gehad het, sou ek dit voorgeskryf en elke jaar deur studente laat ontleed het. Dit is ʼn boek wat elke literêre kritikus, elke persoon wat ʼn boek wil resenseer of bespreek, móét léés en bestudéér – tesame met Daniel Hugo se Vers en kapittel III (én nommers I en II). Soos dit duidelik uit hierdie werke blyk, is (myns insiens) die heel belangrikste kenmerk van ʼn goeie resensent dat hy of sy buitengewoon belese moet wees – in die Afrikaanse letterkunde, sowel as die Klassieke, Engelse, Europese en Amerikaanse letterkundes. Anders is vergelyking en insig in dieper betekenis en resonansie van tekste onmoontlik. Daarbenewens moet die goeie resensent teoreties goed onderlê wees – sowel in die algemene literêre teorie en filosofie, die geskiedenis en die politiek, as in die genreteorie. Dan, soos dit blyk by die lees van die genoemde waardevolle boeke, kan mens begin resenseer. Maar: albei die skrywers na wie ek hier verwys is óók kreatiewe skrywers wie se resensies (artikels en lesings) lekker lees. Hierdie boeke hoort op elke kritiese leser se boekrak. Hulle is enig in hulle soort in Afrikaans en voorsien voornemende én gesoute resensente van ʼn reuse korpus praktiese voorbeelde van voortreflike werk binne die literêre kritiek waaraan mens jou eie werk en dié van ander kan meet.
