
Resensie: Aan de vooravond deur Miel Vanstreels. 2026. Maastricht: Uitgeverij Haute Folie.
Resensent: Marlies Taljard
Miel Vanstreels (geb. 1951) is ’n Vlaamse digter gebore in Godsheide en sedert 1970 woonagtig te Maastricht. Heelwat poëtiese werk het al uit sy pen verskyn. In sy vroeë werk staan siekte, ouderdom en die dood voorop, maar na die eeuwending skryf hy vernaamlik fietsgedigte met fietssport as oorheersende tema.
Aan de vooravond – wat ik nog zeggen wil, voor het geval dat – is ’n dunnerige bundel met 42 gedigte wat in 10 ongenommerde afdelings uiteenval. Die gedigte is deur die bank kort met koeplette en tersines as boustene. Gedigte het dikwels ‘n haihoe-agtige opbou, veral weens die woordekonomie.
Die eerste drie gedigte verskyn onder die noemer “The family” waarin bejaarde familielede, “richting tachtig”, om ’n tafel sit. Die tweede gedig dra die stemming die beste oor:
2
We tellen steeds vaker
onze zegeningen
nemen steeds meer
voor lief,
de doden huizen hier
in dromerige blikken
in ogen
vol zwijgzaam
gemis
(p. 6)
’n Interessante jukstaposisie is die spreker se fietstog na sy oupa se graf om die geboorte van sy kleindogter te gedenk wat na spreker vernoem word, wat op sy beurt na sy oupa vernoem is:
ik fiets voorwaar
drie eeuwen
aan elkaar.
(p. 9)
Familie is inderdaad een van die uitstaande temas in Vanstreels se bundel. In die derde afdeling handel dit oor oorloë en die ingrypend verskillende houdings van drie geslagte ten opsigte daarvan: die geslag van sy grootvader wat in die Groot Oorloë geveg het, die pasifistiese geslag van sy ouers en die huidige geslag wat gekonfronteer word “nu de vrede / onder vuur ligt” met die Oekraïnse oorlog as’t ware op hulle drumpel.
Oor godsdiens is daar ʼn ironiese gedig vol inspelings en woordspelings:
Waarempel
Eerst het zielstrelend
gregoriaans tijdens
de uitvaart van
Franciscus
later het zalig
makend pedaleren
door Gods heide,
op een dag als deze
is er waarempel
enige spijt:
was ik mijn geloof
maar niet kwijt
(p. 17)
Die volgende afdelings word oorskadu deur jeugherinneringe verstrengel met die werklikheid van veroudering, siekte, afskeid en dood. Die begraafplaas duik telkens op in jukstaposisie met ander plekke. Jungiaans gelees skemer die immer-teenwoordige besef van sy eie verganklikheid deur, veral ook deur die oproep van lank gestorwe en terminaal siek familielede: die spreker se moeder “voor het altaar / van de H. Maagd” en sy “vader / en zijn pijn” in die jaarlikse bloei van die rododendron. Die dood as tasbare werklikheid word vergestalt in ʼn hele afdeling wat handel oor begrafnisse van naaste familielede, soos die aangrypende “Hoe”:
Hoe
Hij heeft hem al
in veel gedaanten
gezien
maar nu de dood
zo dicht bij huis
geduldig
op overgave
wacht
zwijgt hij het
voor zich uit:
hoe moet je
als vader verder
als je je zoon
overleeft
(31)
Fietsry vorm die cantus firmus van die laaste twee bundelafdelings, versny met liefde, siekte en die naderende dood: die suggestie word ten slotte gelê dat fietsry dalk iets van die verlede gaan word – ʼn fiasko vir ʼn digter wie se digkuns sterk op fietsgedigte gebou is. Die fietsry-tema in hierdie bundel wat beslis beskou kan word as laatwerk en waarin die spreker homself as bejaarde inskryf, ondermyn die stereotiepe van oudword en bejaardheid. Sien ook Vanstreels se “Mont Ventou baikoes” wat vroeër vanjaar op Versindaba verskyn het https://versindaba.co.za/2026/03/18/miel-vanstreels-mont-ventoux-baikus/
In die slotgedig is dié twee strofes veelseggend van ʼn toekoms dalk sonder fietsry …
(…)
zo word mijn borstbeen
bij elkaar gehouden door
een stalen draad,
terwijl ik dit versje
al fietsmijmerend
schrijf
(…)
(44)
Aan de vooravond is ʼn bundel laatwerk waarin die beliggaamde ervaring van oudword verwoord word. Fisiese agteruitgang van die skrywende ek en sy ervaring van ruimte en tyd word deur eenvoudige dog weldeurdagte kort gedigte verwoord. Groot dele van die bundel kan beskou word as narratiewe gerontologie waarin persoonlike stories, memoirs en outobiografiese feite die geaardheid verkry van ʼn herinneringskrif waarin die verlede strak teenoor die hede gestel word.
Die digter gaan minimalisties met taal om en gedigte getuig van afronding sodat elke woord uiteindelik ‘n noodsaaklike funksie vervul. Klank en metrum speel ʼn belangrike rol. Dit is ʼn bundel wat my diep getref het weens die eg menslike belewenisse wat verwoord word.
Die bundel kan bestel word by Bookmundo en Bol.com teen €12.50
