Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
15 September 202616 September 2026

Resensie: “Aan de vooravond” (Miel Vanstreels)

 

 

Resensie: Aan de vooravond deur Miel Vanstreels. 2026. Maastricht: Uitgeverij Haute Folie.

Resensent: Marlies Taljard

 

Miel Vanstreels (geb. 1951) is ’n Vlaamse digter gebore in Godsheide en sedert 1970 woonagtig te Maastricht. Heelwat poëtiese werk het al uit sy pen verskyn. In sy vroeë werk staan siekte, ouderdom en die dood voorop, maar na die eeuwending skryf hy vernaamlik fietsgedigte met fietssport as oorheersende tema.

Aan de vooravond – wat ik nog zeggen wil, voor het geval dat – is ’n dunnerige bundel met 42 gedigte wat in 10 ongenommerde afdelings uiteenval. Die gedigte is deur die bank kort met koeplette en tersines as boustene. Gedigte het dikwels ‘n haihoe-agtige opbou, veral weens die woordekonomie.

Die eerste drie gedigte verskyn onder die noemer “The family” waarin bejaarde familielede, “richting tachtig”, om ’n tafel sit. Die tweede gedig dra die stemming die beste oor:

 

2

We tellen steeds vaker

onze zegeningen

 

nemen steeds meer

voor lief,

 

de doden huizen hier

in dromerige blikken

 

in ogen

vol zwijgzaam

gemis

(p. 6)

 

’n Interessante jukstaposisie is die spreker se fietstog na sy oupa se graf om die geboorte van sy kleindogter te gedenk wat na spreker vernoem word, wat op sy beurt na sy oupa vernoem is:

 

ik fiets voorwaar

drie eeuwen

aan elkaar.

(p. 9)

 

Familie is inderdaad een van die uitstaande temas in Vanstreels se bundel. In die derde afdeling handel dit oor oorloë en die ingrypend verskillende houdings van drie geslagte ten opsigte daarvan: die geslag van sy grootvader wat in die Groot Oorloë geveg het, die pasifistiese geslag van sy ouers en die huidige geslag wat gekonfronteer word “nu de vrede / onder vuur ligt” met die Oekraïnse oorlog as’t ware op hulle drumpel.

Oor godsdiens is daar ʼn ironiese gedig vol inspelings en woordspelings:

 

Waarempel

 

Eerst het zielstrelend

gregoriaans tijdens

de uitvaart van

Franciscus

 

later het zalig

makend pedaleren

door Gods heide,

 

op een dag als deze

is er waarempel

enige spijt:

 

was ik mijn geloof

maar niet kwijt

(p. 17)

 

Die volgende afdelings word oorskadu deur jeugherinneringe verstrengel met die werklikheid van veroudering, siekte, afskeid en dood. Die begraafplaas duik telkens op in jukstaposisie met ander plekke. Jungiaans gelees skemer die immer-teenwoordige besef van sy eie verganklikheid deur, veral ook deur die oproep van lank gestorwe en terminaal siek familielede: die spreker se moeder “voor het altaar / van de H. Maagd” en sy “vader / en zijn pijn” in die jaarlikse bloei van die rododendron. Die dood as tasbare werklikheid word vergestalt in ʼn hele afdeling wat handel oor begrafnisse van naaste familielede, soos die aangrypende “Hoe”:

 

Hoe

 

Hij heeft hem al

in veel gedaanten

gezien

 

maar nu de dood

zo dicht bij huis

geduldig

op overgave

wacht

 

zwijgt hij het

voor zich uit:

 

hoe moet je

als vader verder

als je je zoon

overleeft

(31)

 

Fietsry vorm die cantus firmus van die laaste twee bundelafdelings, versny met liefde, siekte en die naderende dood: die suggestie word ten slotte gelê dat fietsry dalk iets van die verlede gaan word – ʼn fiasko vir ʼn digter wie se digkuns sterk op fietsgedigte gebou is. Die fietsry-tema in hierdie bundel wat beslis beskou kan word as laatwerk en waarin die spreker homself as bejaarde inskryf, ondermyn die stereotiepe van oudword en bejaardheid. Sien ook Vanstreels se “Mont Ventou baikoes” wat vroeër vanjaar op Versindaba verskyn het https://versindaba.co.za/2026/03/18/miel-vanstreels-mont-ventoux-baikus/

In die slotgedig is dié twee strofes veelseggend van ʼn toekoms dalk sonder fietsry …

 

(…)

zo word mijn borstbeen

bij elkaar gehouden door

een stalen draad,

 

terwijl ik dit versje

al fietsmijmerend

schrijf

 

(…)

(44)

 

Aan de vooravond is ʼn bundel laatwerk waarin die beliggaamde ervaring van oudword verwoord word. Fisiese agteruitgang van die skrywende ek en sy ervaring van ruimte en tyd word deur eenvoudige dog weldeurdagte kort gedigte verwoord. Groot dele van die bundel kan beskou word as narratiewe gerontologie waarin persoonlike stories, memoirs en outobiografiese feite die geaardheid verkry van ʼn herinneringskrif waarin die verlede strak teenoor die hede gestel word.

Die digter gaan minimalisties met taal om en gedigte getuig van afronding sodat elke woord uiteindelik ‘n noodsaaklike funksie vervul. Klank en metrum speel ʼn belangrike rol. Dit is ʼn bundel wat my diep getref het weens die eg menslike belewenisse wat verwoord word.

Die bundel kan bestel word by Bookmundo en Bol.com teen €12.50

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Resensie: “Twee Overzijden” (Yves T’Sjoen)

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”
  • Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier
  • Gerard Scharn. die unpersonen
  • Resensie: “Aan de vooravond” (Miel Vanstreels)

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d