Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
7 September 202629 August 2026

Digtersprofiel: Bernard Odendaal

Bernard Odendaal is op 15 Desember 1955 gebore. Sy grootwordjare bring hy deur op die kleinboerderybedrywige, lowerryke hoewe Harmonie, geleë in die Waterbrongebied buite sy geboortestad, Bloemfontein. Hy woon die Hoërskool President Steyn daar naby sy ouerhuis by.

Sy naskoolse opleiding ontvang hy aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies), met Afrikaans en Nederlands en Duits as graadhoofvakke. Onmiddellik daarop pak hy die honneursgraadstudie in Afrikaans en Nederlands aan, en verwerf ook ’n Hoër Onderwysdiploma.

Twee militêrediensplig-jare, “grensdiens” en al, volg.

In 1981 begin hy dan Duits en Afrikaans gee as onderwyser; eers by sy alma mater, daarna aan die Greykollege Hoërskool in Bloemfontein. Onder studieleiding van wyle prof. J.H. Senekal van Kovsies verwerf hy, in 1984, ’n M.A.-graad met ’n verhandeling getiteld “’n Analise en vergelyking van bestaande konkretisasies van (N.P. van Wyk Louw se debuutbundel) Alleenspraak”.

Nadat hy agtien maande lank ’n letterkundedosent aan die Durbanse Onderwyskollege was, word hy aangestel in dieselfde hoedanigheid in die departement Afrikaans en Nederlands aan Kovsies. Daar verwerf hy in 1998 die Ph.D.-graad, met prof. H.P. van Coller as studieleier en “Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete” as proefskrifonderwerp.

Ná 22 jaar by Kovsies verhuis hy, in 2012, om ’n hoogleraar in Skryfkuns en die direkteur van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus te word. Sy dosentloopbaan kom by sy aftrede in Desember 2021 tot ’n einde. Tans woon hy in Somerset-Wes, maar bly verbonde aan die Noordwes-Universiteit as ’n buitengewone professor (navorsingsgenoot).

As vakkundige het hy meer as vyftig referate by nasionale en internasionale kongresse gelewer, is hy die skrywer van meer as tweehonderd-en-vyftig resensies oor letterkundewerke en die outeur of mede-outeur van meer as vyftig eweknie-geëvalueerde vaktydskrifartikels en akademiese boekbydraes. Onder laasgenoemde tel die oorsig oor ontwikkelinge in die Afrikaanse digkuns tussen 1960 en 2012 wat hy op uitnodiging geskryf het vir die jongste uitgawe van Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, wat onder die redakteurskap staan van H.P. van Coller.

Bernard is sedert 2012 die houer van ’n C2-kategoriegradering van die Nasionale Navorsingstigting (NRF) en was in 2015 vereer as een van ses wenners van die ATKV-SA Akademieprys vir gepubliseerde vakartikels in geakkrediteerde tydskrifte.

Sy debuutdigbundel, Onbedoelde land, het in 2007 by Tafelberg-uitgewers verskyn. Dit was op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys. Gedigte daaruit is opgeneem in bloemlesings soos Groot verseboek, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte en Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte.

As liedteksskrywer en -vertaler het hy meegewerk aan die CD’s Herman van den Berg sing Brel in Afrikaans, Laat my by jou bly – Jacques Brel (Herman van den Berg), Dit is wat dit is (Herman van den Berg), Onthou (Herman van den Berg) en Dawid – die musical. In Maart 2020 verskyn ’n boekuitgawe (by Naledi) van Kruis van Liefde. ’n Paasspel, wat hy in mede-outeurskap met Hans du Plessis geskep het. Dit bevat liedtekste, wat intussen reeds deur Franco Prinsloo en Lizanne Barnard in, onderskeidelik, oratorium- en luisterliedformaat getoonset is.

Tussen 2012 en 2015 het hy gereeld rubriekbydraes vir die Bloemfonteinse stadskoerant Bloemnuus en die sentralestreek-dagblad Volksblad geskryf. ’n Keur hieruit, asook uit essaybydraes wat vroeër op Versindaba verskyn het, is gebundel in Woorde hul storie sien ken. Dit het 2016 by Naledi die lig gesien.

Sy dekades lange gemoeidheid met die aanbieding van klasse en slypskole in kreatiewe skryfwerk, asook met die skepping en vertaling van liedtekste en met die inisiëring en skepping van uitstallings waar beeldende- en skryfkunswerke in “gesprek” met mekaar tree, vind neerslag in gedigte wat sedert sy debuutbundel op verskeie podia verskyn het. In 2021 is ’n geredigeerde keuse hieruit gebundel as Nootvat. Kwashaal. Stapel. en uitgegee deur Tafelberg. In 2023 verskyn Piaf&Brel. Luisterryk! by die uitgewery Imprimatvr, ’n versameling Franse chansons deur Èdith Piaf en Jacques Brel, wat Bernard in samewerking met Naòmi Morgan in Afrikaans vertaal het. Sowat twee dosyn daarvan is voorheen ingesluit op die bovermelde Brel-CD’s, met Herman van den Berg as uitvoerende kunstenaar.


 

 

[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com 

Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:

      • ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
      • ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
      • ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
      • Enige ander interessante feite oor jou

Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.]

 

 


 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Digtersprofiel: Jennifer Pape
Digtersprofiel: Pieter Odendaal →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie

Nuutste bydraes

  • Pierce van Tonder. Drumpel
  • taki du plessis. NPvWL
  • taki du plessis.  Sonnet vir NP
  • Margaret Cordier-Biermann. My land het nou geword
  • AVBOB Persverklaring: Wenners van AVBOB Poësiekompetisie

Nuutste kommentaar

  1. Johan Anker on Joan Hambidge. Sheila Cussons2 October 2026

    Baie dankie vir hierdie bespreking! Ek is self n groot bewonderaar van Cussons en het elke Pinkstertyd haar gedigte met…

  2. Joan Hambidge on Resensie: Vers & Kapittel III (Daniel Hugo)28 September 2026

    Dewald, dankie vir hierdie argivering. Die buitengewone kennis van die digter en literator is verbysterend.

  3. Helené Coetzee on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)27 September 2026

    Wat 'n aangrypende boek!

  4. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  5. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d