In 2008 verskyn Geskrifte van ’n vermiste digter by Protea Boekhuis. Dit was Henk Rall (1938-2022) se laaste digbundel. Vyf bundels het dit voorafgegaan, met ’n Son breek van 1966 sy debuut. Intussen het hy eintlik vergete geraak – inderdaad ’n vermiste digter.
Destyds het ek my vererg vir sy roekelose omgaan met rym en reëlverdeling, en Geskrifte opsygeskuif. Tot my eie nadeel. Nou, agtien jaar later, lees ek weer daardeur en vind heelwat gedigte wat my interreseer.
Gedigte soos “Lyf-soort” wek egter nog steeds ’n argwaan by my weens die stotterende versreëls:
Ek wou sonnette skryf
oor ’n Botticelli-lyf
maar Rubens en Renoir
verwar
toe vorm
en vra om
’n meer sensuele speel
met lyf en reël …
soos lank daarna
joune nog in dié vers vra.
In hierdie jaar van die 120ste herdenking van N.P. van Wyk Louw se geboorte op Sutherland in die Roggeveld ontdek ek – tot my vreugde – die volgende Italiaanse sonnet van Rall. Die titel is “Winterliefde”:
Steeds wat van hitte in die lug,
iets van nádrif waar die dye voeg
in ’n halfvergete wyle voor die vlug
ons paradystyd uit, te vroeg
vir wat nog ervaar moes word …
daarna net hartelose vlakke
soos Roggeveldse môres kort-
by Verlatekloof waar aan peerboomtakke
ys soos geslypte beitels klink
wanneer kapokmis
oor die winter kom lê.
Maar nog, met al die ys-en-dink
duskant die onbereikbare betekenis
van leef, bly ek jou droewiglik liefhê.
Wanneer die plekaanduiding Roggeveld of Rôeveld in ’n gedig staan, roep dit in die Afrikaanse literêre ekosisteem onmiddellik die name op van N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw wat hul vroeë kinderjare op Sutherland, die koudste dorp in Suid-Afrika, deurgebring het. Verlatekloof is die pas wat die Groot-Karoo met die Roggeveld verbind, oftewel Matjiesfontein met Sutherland en Middelpos.
Dat Rall inderdaad Van Wyk Louw by sy winterse liefdesgeskiedenis betrek, blyk duidelik uit die eerste reël van die sestet: “waar … ys soos geslypte beitels klink.” Dit is as sodanig besonder treffende beeldspraak, maar eggo ook Louw se beroemde gedig “Die beiteltjie” wat só begin:
Ek kry ’n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.
Terugwerkend kan ’n mens nou ook die tweede reël van die eerste kwatryn met Van Wyk Louw verbind. Die frase “waar die dye voeg” eggo sy reël “Die dye trek die dye aan” uit Nuwe verse (1954).
Dit is opvallend hoedat die woord en woorddeel “ys” dwarsdeur die gedig resoneer. In strofe 1 word vertel hoedat die geliefdes soos Adam en Eva uit hul “paradystyd” gevlug het. Dit is ’n portmanteau-woord waarin “paradys” én “ystyd” paradoksaal gelyktydig opklink. In dié een woord word die hele liefdesgeskiedenis saamgevat: Dit was aanvanklik hittig en driftig voordat die kilheid ingetree het. (Terloops, die Neerlandistiese “wat van hitte” beteken in Afrikaans doodgewoon “iets van hitte” – soos “iets van nádrif” in die volgende versreël.)
Buite die paradys bevind hulle hul op “hartelose vlakke” – wat “vlaktes” of “hoogtes” kan beteken. Albei is geografies van toepassing op die hooggeleë, plat Roggeveld. Die naam “Verlatekloof” kan natuurlik simbolies van toepassing gemaak word op die twee wat in hul liefde verlaat is.
Daarop volg dan die egte ys wat aan die boomtakke hang in die Roggeveldse winter. In die slotstrofe kom “ys” weer voor, maar nou as ’n homoniem met die betekenis “bewe van angs” (HAT). Die werkwoordkonstruksie “ys-en-dink” laat dink aan Louw se woordkoppelings in Tristia (1962). Trouens dié soort vernufspel met die woord is tipies van daardie bundel.
Dit blyk dat die digter se rasionele woordspeletjies en die gedissiplineerde volhou van die rympatroon en strofeverdeling van die sonnet hom nie enduit teen die egte emosie kon beskerm nie. Die slot van die gedig klink soos ’n snik: “bly ek jou droewiglik liefhê.” Die ware gevoel breek ten slotte deur die stilistiese en verstegniese skanse.
“Winterliefde” is nie die enigste gedig in Geskrifte van ’n vermiste digter wat in gesprek met Van Wyk Louw tree nie. Rall se “Besinnings” en “Droomtyd” verwys eksplisiet na Louw se “Nuusberigte: 1956” – sy sosiale en politieke kommentaar op wat destyds in Suid-Afrika aan die gebeur was onder die Nasionale Party. Dit staan ook in Tristia, Louw se laaste bundel. Rall se gedigte handel uiteraard oor die Suid-Afrika van ná 1994.
Een van die bekendste strofes in Tristia is die volgende uit die gedig “H. Petrus”:
My land, my dor, verlate land:
iets wens olywe groei in jou:
dat alles klein, Latyns, gaan word
en kalk-wit kerkies bou.
Rall antwoord hierop met ’n sonnet:
Uit wense uit is
tog olyfboorde geplant
(van die héél grootstes)
in klip en sand
maar jonk
en duisend jaar nog weg
van stam te maak
en ’n kultuur se vrug.
Want waar’s die
kalk-wit klein
kerkies in die son,
al die
Latynse pyn
so oopgevlek in son?
Die “argument” van die gedig is soos volg: Ondanks die feit dat daar sedert Louw se gedig wel olyfboorde in Suid-Afrika aangeplant is, bly die land se inwoners wesenlik kultuurloos – altans volgens Louw se maatstawwe van “kalk-wit kerkies” en ’n Latynse oftewel Mediterreense en Rooms-Katolieke leefwyse. Volgens Rall sal dit ’n duisend jaar duur voor so iets moontlik is.
Hierdie hiperboliese stelwyse kry gestalte in ’n erg verskraalde Italiaanse sonnetvorm. En daarmee is ek terug by my aanvanklike beswaar teen Rall se kort, verkapte versreëls waarin hy boonop nie huiwer om dieselfde woorde op mekaar te laat rym nie. In hierdie geval: die / die; son / son. ’n Lidwoord in rymposisie is ’n digterlike misdaad. Die sonnet het normaalweg reëls van tien lettergrepe, soos oorspronklik bepaal deur die vyfvoetige jambiese metrum. Om dit in te kort tot reëls wat soms net uit twee of drie lettergrepe beslaan, stuit my prosodies teen die bors.
Gelukkig het Rall met “Winterliefde” bewys dat hy ’n goeie sonnet kan skryf. Daar is ook goeie kwatryne, soos “Valentyn” wat aansluit by die beeldspraak van “Winterliefde”. “Sneeu” het hier ’n positiewe konntasie. Die gedig kan as ’n versoening gelees word tussen twee geliefdes wat vroeër ’n “ystyd” binnegegaan het.
Gevrees dat na ’n halwe eeu
ons nog op mekaar sou skreeu –
maar kyk,
dis stil soos nuwe sneeu.
En ook hier hoor ’n mens Van Wyk Louw. Só open sy sonnet “Eerste Sneeu” uit “Vier gebede by jaargetye in die Boland”:
Die blydskap het oornag soos nuwe sneeu
die laagste hellings van my vroeë smart
tot skoonheid omgeskep waar elke skreeu
soos ’n sweep in die blink lig van die klowe hard
en helder klink.
Geen digter behoort ooit vermis te raak nie, sekerlik ook nie Henk Rall nie.
