I
Hierdie leser is gaande oor argiewe. Om te kyk hoe ‘n skrywer geput het uit gebeure, briewe, politieke insidente, koerante, wat ook al, is uiters besinnend. Ons dink hier aan die Pamuk-museum in Istanbul. Die verskillende museums in Chili wat ‘n beeld gee van Pablo Neruda se werksaamhede. Ook films met daardie ekstras op ‘n DVD is ‘n soort argief. Wat is uitgelaat? En waarom tog. Biografieë gee eweneens ‘n eiesoortige blik op ‘n skrywer se lewe en van wat alles agter die skerms gebeur het.
My besoek nou onlangs aan die Leroux-argief in Bloemfontein was uiters lonend.
Een van die belangrikste studies in Afrikaans is J.C. Kannemeyer se Die galeie van Jorik. ‘n Faksimilee en transkripsie van die oorspronklike dokumente.
Dit het in 1979 by Tafelberg uitgewers verskyn. ‘n Dik, ligblou hardeband boek. Met daardie beroemde, onvergeetlike strofe:
Hy weet met die weerkaatsings in die ruit
vlakke van beelde skuif deur alles heen
en niks is in sy tyd en stof gesluit
maar alles stroom deur grens en eeu aaneen.
Ons weet Opperman het soms ‘n gedig agter op ‘n sigaretboksie begin, maar in hierdie studie kry ons ‘n volle blik op die digter se deeglike werk.
II
Wat in Kannemeyer se studie duidelik na vore kom, is hoe hard Opperman gewerk het aan hierdie epos. Die flits of ingewing in ‘n koffiehuis op 22 Mei 1948 het beplanning en sorgvuldige werk vereis. Die eerste gesprek met Van Wyk Louw het toe tot vele hersienings gelei (21).
Van krabbeling tot gedig. Van pen tot tikmasjien.
Die vraag na die gestalte van ons tyd word dit waarmee Opperman werk. In hierdie studie is daar ook verwysings na die invloed van Darwin en Jung op sy skryfwerk. “Verder leer Jung hom”, skryf Kannemeyer op bladsy 14, “dat ewige waarhede wat in die argetipes beliggaam is, ‘n menslike taal nodig het om simboliese gestalte in te vind, en dat die primordiale beelde telkens by die eeu waarin hulle verskyn, aangepas of gemodifieer word.”
In die Middeleeue is die ridderideaal gesentreer rondom Karel die Grote of Arthur, terwyl dit by die Renaissance-mens in die Faust-figuur saamgevat word, verduidelik Kannemeyer verder.
Opperman had ook uitstekende lesers soos Van Wyk Louw, Boerneef, Fred le Roux en J. du P. Scholtz wat kon raadgee. Dit was juis Canis Scholtz wat Opperman versoek het om die verskillende stadia van die gedig te bewaar. Só het die geskrewe dokument en die eerste getikte vorme in Scholtz se besit gekom. Mevrou Opperman het die naam Jorik voorgestel: ‘n samestelling van die digter se voorname Diederik Johannes.
In 1953 skryf T.T. Cloete sy doktorale studie oor Trekkerswee en Joernaal van Jorik met Louw as promotor.
Kannemeyer onthul ook die ooreenkoms tussen Opperman se geheime agent en Auden se figuur wat met “koffer en kaart” verdwyn. Hierdie gedig word aangehaal in voetnoot 11, bladsy 15:
Gare du Midi
A nondescript express in from the South,
Crowds round the ticket barrier, a face
To welcome which the mayor has not contrived
Bugles or braid: something about the mouth
Distracts the stray look with alarm and pity.
Snow is falling,
Clutching a little case,
He walks out briskly to infect a city
Whose terrible future may have just arrived.
Dalk is hierdie gedig van Auden ook tersaaklik:
Brussels in Winter
Wandering the cold streets tangled like old string,
Coming on fountains silent in the frost,
The city still escapes you, it has lost
The qualities that say “I am a Thing.”
Only the homeless and the really humbled
Seem to be sure exactly where they are,
And in their misery are all assembled;
The winter holds them like the Opera.
Ridges of rich apartments rise tonight
Where isolated windows glow like farms:
A phrase goes packed with meaning like a van,
A look contains the history of man,
And fifty francs will earn the stranger right
To warm the heartless city in his arms.
Hierdie volgende studie gee eweneens ‘n belangrike perspektief op Joernaal van Jorik:
https://open.uct.ac.za/server/api/core/bitstreams/1bb1ddca-aab2-4333-8280-1380f5b60f64/content Besoek 15 November 2026
Die drenkeling in die werk van DJ Opperman met spesiale verwysing na Joernaal van Jorik
Marie Esterhuyse, MA-verhandeling 1989 UCT
Promotor: H.J. Snyman
III
Wat ook weggelaat is in die finale weergawe, is relevant. Hersiening en herdigting. Die briewe van mnr. Gerrit (Koos) Boonstra, Opperman se onderwyser, is eweneens relevant. Ook hoe sy werk as dosent aan die Universiteit van Kaapstad sy skryfproses vertraag het.
Die spanninge van die veertigerjare word al hoe duideliker vir die speurende leser.
Die waardering en geesdrif van sy lesers is opvallend al is dit ‘n vraag oor ‘n bepaalde woord of reël.
Louw praat van die “kragtig-bebonde eenheid”, die “meesterskap oor die tegniek wat aan elke onderdeel, elke geringste besonderheid byna sy sin en sy betekenisvolle plek in die geheel gee” (Voetnoot 13, pp. 16-17).
Dit is uit sy bespreking wat die ander gedugte Opperman-leser A.P. Grové later boekstaaf in D.J. Opperman – Dolosgooier van die woord wat in 1974 verskyn het.
Die spioenasie-gegewe verbeeld toé reeds ‘n beeld van die Afrikaner en Westerling.
Opperman is die meester van die metaforiek. In sy oeuvre is daar nie een swak gedig opgeteken nie.
Joan Hambidge
Kaapstad
17 November 2026
Bronne:
Auden, W.H. 2022. The Complete Works of W.H. Auden: Poems, Vol. I and II. Princeton: Princeton University Press.
